Soorte resepte:

3 maniere hoe rooibostee jou help

Rooibostee word al langer as 100 jaar gebruik as ʼn ryk bron van antioksidante wat jou teen verkoue en griep beskerm.

Adele du Toit, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Rooibosraad, sê rooibostee is ʼn goeie natuurlike manier om verkoue en griep te fnuik.

“Rooibostee is propvol polifone, wat ʼn mikrovoedingstof met antioksidantaktiwiteit is. Polifenole vreet vrye radikale wat inflammasie kan veroorsaak. Aspalatin is ook ʼn unieke antioksidant wat slegs in rooibostee gevind word. Dit help om jou immuunstelsel ʼn hupstoot te gee en beskerm die liggaam teen onder andere kardiovaskulêre siekte en diabetes.

Rooibostee help jou immuunstelsel so:

  1. Een van die belangrikste gesondheidsvoordele van rooibostee is dat dit help om die liggaam gehidreer te hou – dit is in teenstelling met Ceylon-tee, koffie en energiedrankies wat jou liggaam van vloeistowwe ontneem aangesien dit kafeïne bevat.

Wanneer jy siek is, is jy geneig om baie vloeistof te verloor deur middel van sweet of ʼn versnelde metabolisme.

Aangesien rooibostee 100% kafeïenvry is, help dit om jou goed gehidreer te hou.

  1. Rooibostee kan help vir ʼn seer keel, wat baie keer met verkoue en griep gepaard gaan. Die tee sal help om jou keel vogtig te hou en irritasie te verlig.
  2. Rooibostee het ook ʼn kalmerende uitwerking op die liggaam. Dit behoort jou te help om beter te slaap wanneer jy siek is, wat uiters belangrik is in die herstelproses.

Probeer gerus hierdie resep om jou immuunstelsel ʼn hupstoot te gee met behulp van rooibostee:

Rooibos-opkikker (Foto: Verskaf)

Resep: Rooibos-opkikker

Bestanddele

  • 1 lemoen se sap
  • 1 suurlemoen se sap
  • 1 ℓ rooibostee, met 6 sakkies aangemaak
  • 2 stokkie kaneel
  • 1 duimgrootte stuk vars gemmer, fyngekap
  • heuning na smaak

Metode

  1. Meng al die bestanddele saam en bedien onmiddellik terwyl die tee nog warm is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanR ·

Hoekom kan ek nie meer die verskil tussen normale tee, en Rooibos ryk of eintlik meer smaak nie. Soe 20 jaar gelede as iemand ‘n koppie Rooibos maak, het jou neus dadelik gese Rooibos! Jy moet nou aan ‘n sakkie ryk om te se dit is Rooibos, en nie normale tee nie!

Elmarie ·

My geliefkoosde warm drankie. Die beste manier – LOS tee (nie sakkies) wat laaaank op die stoof staan en prut en geuriger raak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.