Soorte resepte:

Chardonnay so ampertjies nie vir SA beskore

Peter Finlayson wat in 2017 afgetree het as keldermeester by Bouchard Finlayson, maar een van Suid-Afrika se bekendste wynmakers is. (Foto: Alex Chris/Verskaf)

Vanjaar word Internasionale Chardonnaydag op 26 Mei gevier. Dié druifsoort is een van die edel-variëteite – die klassieke wyndruifkultivars wat uit die Ouwêreld, wyne uit Europa en die Mediterreense omgewing kom. Hier in Suid-Afrika – deel van die Nuwe Wêreld-wynlande –  maak ons wêreldklas-chardonnay in alle style, skryf Maryke Roberts.

Emile Joubert skryf in ʼn baie omvattende artikel in Jan, die bekroonde Michelin-ster sjef – Jan Hendrik van der Westhuizen – se tydskrif en webwerf, dat baie van ons Suid-Afrikaners se spreuke, idiome en sêgoed met grond en landbou te make het. Hy skryf dat daar eintlik geen beter plek is om “ʼn boer maak ʼn plan” in te span, as by die storie van hoe chardonnay na Suid-Afrika gekom het nie. Want, soos hy beskryf, “dié druif se reis na die suidelike punt van Afrika was oortrek met hindernisse”.

Ek vind weer, soos my navorsing vorder, dat hoewel Danie de Wet van De Wetshof buite Robertson tereg die titel as Suid-Afrika se mnr. Chardonnay kan dra, elke leier ʼn sterk gevolg nodig het wat sy idees help slyp, verbeter en uitbou tot voordeel van die groter wyngemeenskap.

Warren Bennis se woorde dat leierskap die vermoë is om visie in werklikheid te omskep, kom sommer by my op.

Soos my soeke na die “volledige” prentjie van sauvignon blanc in Suid-Afrika ʼn week of drie gelede, besef ek gou dat Suid-Afrika se bekroonde wynbedryf maar in sy babaskoene is. Wat is 50 jaar nou in die wêreld se bestaan? Dis eers nadat die beperkende reëls van groot koöperatiewe kelders en liggame in die sewentigerjare begin verslap het, wat wynmakers waarlik kon begin eksperimenteer – nie net met wynmaakmetodes en style nie, maar met kultivars wat nie algemeen in die land voorgekom het op daardie stadium nie.

Die gerekende Britse wynmeester en -kommentator, Jancis Robinson, skryf die chardonnay-wingerdstok is niks minder as aanpasbaar nie. Kommersieel aanvaarbare chardonnay kan geproduseer word in baie warm wynstreke soos die warm binneland van Kalifornië, Suid-Afrika en Australië – waar slim wynmakers dit tropiese vrugtegeure en selfs ʼn ondertoon van eikehout kan gee, deur van eikehoutskyfies gebruik te maak.

Carolyn Martin, mede-eienaar van die internasionaal-bekroonde Creation-wynlandgoed in die Hemel-en-Aarde wat ook pryswenner koeler-klimaat chardonnays maak, skryf in 2015: “Chardonnay is onwettig na Suid-Afrika gebring (ʼn gevolg van die streng reëls wat destyds deur die KWV-monopolie opgelê is) deur die pioniers van chardonnay – waaronder Danie de Wet, Jan ‘Boland’ Coetzee en Peter Finlayson. Dit is ingesmokkel omdat hierdie ambisieuse wynmakers ernstige wyne van hoë gehalte wou maak, en dit is húl nalatenskap waarop ons vandag voortbou.”

Danie de Wet, eienaar van De Wetshof, wat tereg die titel as Suid-Afrika se mnr. Chardonnay kan dra. (Foto verskaf)

Sy skryf voorts dat “groot, soet, eikehout-botterbom-chardonnays, soos perms en skouerkussings, lankal na die 80’s en 90’s verban is.”

Die skerp styging in ongehoute chardonnay onder skroefdop teen ʼn laer pryspunt die afgelope dekade, wys weereens die wyn se diversiteit.

Dit verg diep grawe en lank gesels voor ek mooi agter die kap van die byl, of eerder die wortel van die wingerdstok, kom. Benewens die manne wat Carolyn noem, is daar ook NC Krone, destyds van Twee Jonge Gezellen, wat keelvol was vir die stereotipiese wyne wat in die sewentigs uit Suid-Afrikaanse wynkelders verkoop is.

Lank voor hom, het die oopkop wynvisionêr – prof. Abraham Izak Perold – wat as vader van pinotage gereken word, in 1926 in sy boek Handboek oor Wynbou geskryf oor die wêreld se diverse druifsoorte wat geskik vir aanplanting in Suid-Afrika kon wees, met spesifieke verwysing na chardonnay en sauvignon blanc, “sodat die land sy wynpotensiaal kon verwesenlik”. Sy visie is goed aangebied in ʼn huldeblyk deur Johan Rademan op RSG in Maart 2021.

Statistieke van die wynlandskap in die sewentigerjare verklap dat ongeveer 60% van die totale wingerd-aanplantings uit steen, palomino en cinsaut bestaan het. Die enigste druifsoort op die lys wat as een van die wynwêreld se edel-kultivars beskou kon word, was cabernet sauvignon, wat toe maar 2% van die land se wingerde beslaan het.

Behalwe die gebrek aan chardonnay en sauvignon blanc was daar ook geen merlot, pinot noir, shiraz of cabernet franc op daardie lys nie. Teen 1980 en 1981 baan drie Kaapse wynplase die weg vir die Kaapse chardonnay-bedryf: Backsberg, De Wetshof en Simonsig. Hoe klein hul begin was, word gestaaf deur die feit dat daar in 1981 slegs 37,6 ha chardonnay-wingerd tussen hierdie drie plase in die hele land was.

Dit bring ons terug by Danie de Wet. Draai die horlosie tien jaar terug. Danie keer in 1971 as 22-jarige wynmaker begeesterd van die Geisenheim Instituut in Duitsland na die familieplaas terug, maar besef gou die leemte aan chardonnay en ander edel wit kultivars.

Hy was oorgehaal om edele wit druifsoorte te plant, omdat sy professors hom laat besef het dat De Wetshof se grond en klimaat uiters geskik sal wees om uithaler-witwyne te maak.

Hy is egter wreed ontnugter omdat Suid-Afrika toe net nie die druifsoorte gehad het om wêreldklas wyne van te maak nie. Hy en ʼn paar eendersdenkende wynboere het besef dat, om ʼn beter toekoms vir die wynbedryf te skep én wêreldklas wyne te maak, nuwe kultivars nodig is en om hierdie visie te verwesenlik daar landbouwette omseil sou moes word.

Hy onthou: “Daar was geen voorligting oor watter kultivar op watter grond en in watter tipe klimaat behoort te groei om goeie wyn te maak nie. Niks oor verbeterde praktyke van wingerdverbouing nie. Geen kloon-seleksies is gedoen waaruit die bedryf beter materiaal in die hande kon kry nie.”

Hy en NC beland by die wyn-navorsingsentrum, Nietvoorbij Instituut, op Stellenbosch. Hier sien hulle dat talle van Europa se druifsoorte daar in eksperimentele wingerde floreer. Hieronder is pinot gris, riesling, chardonnay, merlot, sauvignon blanc en ook spesiale seleksies van bestaande variëteite.

Danie en NC was opgewonde. Maar dis waar hulle hoor dat danksy beperkende maatreëls van die departement van landbou, wynboere nie hierdie plantmateriaal mag plant nie. Dit moes alles eers deur ʼn paneel goedgekeur word. Dan moes die materiaal na die KWV gaan, wat dit op proefpanele vir evaluering sou uitplant. Sodra die betrokke plante goedgekeur is, kon wynboere dit aankoop en plant.

Dit sou egter ʼn wagtyd van tussen 15 en 20 jaar beteken! Al meer jong wynboere het begin praat oor hul frustrasie aan die gebrek aan plantmateriaal van edel-variëteite.

Danie kuier in 1972 in Europa en sien die sukses wat van sy klasmaats met wit kultivars in die warmer streke van Israel en Israel behaal. Hy is toe vas oortuig dat hierdie edele witwyne ook in Suid-Afrika sal floreer.

ʼn Mislukte poging om gesonde plantmateriaal uit Duitsland in te bring, ry vir eers sy planne in die wiele. ʼn Tweede kans kom in 1977 in die vorm van ʼn aanbod deur dr. Julius Laszlo van Distillers. Hy vra of Danie wingerdstokke sal af-ent wat van die buiteland afkomstig is: chardonnay van ʼn uitstekende bron wat Laszlo self met die hand uitgesoek het.

Dit was amper te goed om waar te wees. Danie sou sodoende eerste reg hê op die chardonnay-materiaal en Distillers tweede.

Só kruis Danie se pad met Peter Finlayson, een van die land se groot chardonnay- en pinot noir-geeste, wat tot 2017 keldermeester op Bouchard-Finlayson is. Peter – ook ʼn Geisenheim gegradueerde – vertel dat “niemand kan ontken dat ons aanbod van goeie wynkultivars 50 jaar gelede skreiend gebrekkig was nie en die blatantste van alles was die chardonnay-druif.

“Gelukkig het die Suid-Afrikaanse wynbedryf baie goeie bande met die instituut gehad en baie hulp is onder die dekmantel deur mense by die instituut – wat naamloos sal bly – aan ons verskaf. Ek beland twee jaar na my verdere studies weer daar as werknemer van Rhodes Fruit Farms (Boschedal).”

Hy erken later aan Danie dat hy saam met Laszlo die chardonnay-plantmateriaal oorsee uitgesoek het.

Danie se dankbaarheid oor hierdie geleentheid word net geëwenaar deur sy ruimhartigheid. Hy deel Colmar Chardonnay-plantmateriaal uit aan elke wynboer wat vra. Die aanplantings groei.

Maar hier kom die kinkel: agt jaar nadat die wingerdstokke geplant is, besef hulle dis nie Colmar Chardonnay nie, maar Auxerrois. Almal was stomgeslaan omdat die ooreenkomste tussen die twee druifsoorte só ooglopend was dat niemand ooit aan die egtheid daarvan getwyfel het nie.

By nadere ondersoek, vind hulle uit dat die persoon wat die materiaal aan Peter moes verskaf glo die verkeerde lote gesny het. Peter sê: “ʼn Mens sal nooit weet of dit per ongeluk of ʼn doelbewuste fout deur die Franse kwekery-assistent was nie.”

Gelukkig het verskeie privaat landgoedere reeds daarin geslaag om deur onder meer Swaziland baie goeie chardonnay-materiaal die land in te smokkel.

Van Suid-Afrika se voorste chardonnay-wingerde se plantmateriaal is te danke aan Jan Boland Coetzee, wat in 1980 vir Joseph Drouhin, een van Boergondië se voorste chardonnay-produsente, gewerk het. Hy het steggies uit die Clos des Mouches-wingerd gesny en dit help insmokkel na sy geboorteland. (Foto: Clifford Roberts)

Danie het ook verskeie ander blokke met uitstekende chardonnay beplant, wat vandag steeds pryswenners oplewer. Dié plantmateriaal was danksy sy vriend – Jan Boland Coetzee – wat in 1980 vir Joseph Drouhin, een van Boergondië se voorste Chardonnay-produsente, gewerk het.

Jan vertel dat hy steggies uit die Clos des Mouches-wingerd gesny en saam met Emile Joubert se pa, Fritz, ʼn joernalis wat Jan in Frankryk besoek het, gestuur het.

“Ek en Fritz is goeie vriende en hy het op die regte tyd by my ‘kom kuier’, sodat die stokkies in hul rusperiode gesny en vervoer kon word.

“Drie sulke pogings is uit die wingerde van Clos de Mouches suksesvol uitgevoer: van stokkies wat in Fritz se jaspante ingewerk is, tot sjokoladeboksies vol stokkies en kernfisikuste wat gehelp het en my gesin se bagasie en seun se doeksak wat ingespan is, toe ons na ʼn jaar in Frankryk teruggekeer het na Suid-Afrika.”

Terug by die middel-tagtigs. Vir verskeie redes, ontplof dié Auxerrois-bom in die media. Danksy ʼn paar jaloerse amptenare, ywerige joernaliste en manne wat al vir jare maniere gesoek het om die onwettige inbring van plantmateriaal te stop, word ʼn amptelike ondersoek, bekend as Die Kommissie van Ondersoek na die Kultivar-egtheid en Onwettige Invoere van Sekere Wingerdvoorplantings-materiaal (in die volksmond bekend as die Klopper Kommissie), van stapel gestuur. Aan hoof van die kommissie, is Christiaan Klopper, afgetrede hoofregter van die Noord-Transvaal.

Die geblokte dagblad-plakkaat wat Jan Boland Coetzee vandag nog koester. (Foto verskaf)

Danie speel oop kaarte met die kommissie en verduidelik dat alles wat hy en sy meedoeners, waaronder Sydney Back, John Platter, Frans Malan, Jan Boland Coetzee, Achim von Arnim, Nicky Krone en Peter Finlayson, gedoen het, ter wille van die Suid-Afrikaanse wynbedryf was.

Danie en sy kant was dit eens dat die beskikbare druifsoorte Suid-Afrika nie sou toelaat om sy regmatige plek in die wynwêreld in te neem nie en dat – danksy die beleide van die KWV en die staat – geen vordering gemaak word nie. Die KWV en die staat het op hul beurt aangevoer dat plantsiektes, verbonde aan die inbring van plantmateriaal buite die regulasies en die reëls, ʼn groot bedreiging vir die wingerdbedryf inhou.

Danie en kie wen dié tweestryd oor hul edele bedoelinge vir die wynbedryf as geheel en die 15 tot 20 jaar wagtyd word na vyf jaar verminder én die plantmateriaal wat hulle ingebring het, wat wel chardonnay is, floreer en word in vrede gelaat.

Peter sê: “Suid-Afrika kan dankbaar wees vir die inisiatiewe wat geneem is deur mense, wat duidelik die absolute behoefte gesien het om ons wynbedryf tot internasionale standaarde te verhef.”

Jan Boland voeg by dat as dit nie vir daardie waagmoed van boere soos Danie destyds was nie, “ons seker nou nog nie die regte chardonnay sou gehad het nie”. Hy sê dat sy besluit destyds om die stokke te help insmokkel bloot was omdat hy die Franse goed leer ken het, en besef het hulle gaan nie so maklik hul sukses met – en kennis van – chardonnay deel nie.

“Ons moes dinge self laat gebeur vir die plaaslike wynbedryf. Dit was nie ʼn poging om doelbewus die landswette te verontagsaam nie. Ons was net moeg vir die gebrek aan druif-verskeidenheid.”

Agter hom op ʼn stoel staan ʼn geblokte dagblad-plakkaat wat aankondig dat Jan Boland “druif gesmokkel het”. Die datum is 21 Januarie 1986 – net ná afloop van die Kloppers Kommissie se bevindinge.

Hy gaan haal sy album en op die kombuistafel wys hy na sy gesin se bagasie waarin hy die onwettige stokkies ingevoer het. “Ek het vir die kinders gesê hulle moet die sakke swaai en maak asof die bagasie lekker lig is, sodat ons nie deursoek word nie. Die stokkies was nie al wat onwettig in hul bagasie versteek was nie, daar was ook verskeie bottels wyn. Loodswaar vir jong kinderarms!

Ek loer na Vivino, die wyntoepassing waar wynliefhebbers hul gunstelinge kan oplaai en punte gee.

Die webwerf meen: “Alhoewel Suid-Afrika se gewildste witwyndruif chenin blanc is, kan die chardonnays van hierdie land pragtig wees. Ryk geure van sitrus en tropiese vrugte is kenmerke van Suid-Afrikaanse chardonnay.

“Daar is ʼn wye reeks style, van ongehout tot gehout tot versnitte, en meer. Maar die een ding wat dieselfde is, is dat die kwaliteit heeltyd beter word.

Fritz Joubert wat vir Jan Boland Coetzee in Frankryk gaan kuier het om een klomp wingerdstokkies, in sy jaspante ingewerk, uit die land te smokkel. Die foto kom uit Jan Boland Coetzee se album en is gedurende die besoek in 1980 geneem. (Foto verskaf)

Suid-Afrikaanse chardonnays produseer tipies aromas en geure ryk aan tropiese vrugte en eksotiese speserye. Wynmakers hier hou daarvan om te eksperimenteer en dit is selfs gewild in Stellenbosch om chardonnay met sauvignon blanc te meng. Oor die algemeen is die wyne eenvoudiger as Franse chardonnays, en ligter en meer tropies as Kaliforniese chardonnays.

“Van die beste produsente in Suid-Afrika kan egter met die beste chardonnays ter wêreld meeding.

Dié toepassing gee elke week op hul webwerf hul top-25-chardonnays en dié met die meeste tellings, is so wyd soos die Swartland, Robertson en Franschhoek. Mullineux Leeu Passant Chardonnay 2018 sit dié betrokke week, met 4,5 punte, heel bo. Altesaam 332 gebruikers het hul mening gelug en eikehout, botter en vanielje is deur 105 gebruikers genoem; sitrus, suurlemoen en lemmetjie deur 95 en minerale, heuning en sout deur 57.

Onder dié top-gunstelinge is daar natuurlik Bouchard-Finlayson, Simonsig en De Wetshof en ʼn mens kry sommer ʼn vonkel in jou oog as jy terugdink aan dié “hindernisse” soos Emile Joubert hulle noem, wat ons amper hierdie tipe kwaliteit ontsê het.

By vanjaar se Chardonnay du Monde (Chardonnays van die Wêreld), dié gerekende kompetisie vir chardonnay, word De Wetshof se Bateleur Chardonnay 2020 ingesluit as een van die top-10-chardonnay in die wêreld en palm ook ʼn goue medalje in. ʼn Totaal van 546 wyne van 32 lande is deur ʼn uitgelese paneel beoordeel en net 56 goue medaljes is toegeken.

By die Veritas 2021-toekennings neem die De Wetshof-span ʼn dubbelgoud huis toe vir die Danie de Wet Sur Lie Chardonnay 2021. Die ongehoute Bon Vallon 2021, wen ʼn goud. Die wynwebwerf, wine.co.za, berig: “De Wetshof domineer sedert 2015 die Veritas ongehoute chardonnay-kategorie. En wat meer is, hierdie vars styl ongehoute chardonnay is vandag meer gewild as ooit onder Suid-Afrikaanse wynliefhebbers.

Soos Carolyn Martin tereg genoem het: ongehout en ligter is in; botterbom is uit. Vir nou, want sy meen ook dat wyn – soos mode – in siklusse beweeg en kom en gaan soos smaak verander. Maar dat goeie chardonnays deur wynmakers, wat nie noodwendig die neigings volg nie, altyd ʼn topverkoper in ons land sal bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.