Soorte resepte:

Foto’s: Uitsoekwyne span kroon op La Petite Ferme-versameling

La Petite Ferme se Verdict 2018. (Foto: Christa Steyn-Bezuidenhout/Maroela Media)

Deur Christa Steyn-Bezuidenhout 

Of dit nou ʼn yskoue witwyn saam met gebraaide snoek, volronde rooiwyn saam met ʼn beesstertpotjie of ʼn verfrissende vonkelwyn op ʼn luilekker somersdag is, goeie wyn span die kroon op ʼn gesellige kuier saam met vriende of geliefdes.

Met die feestyd wat vinnig naderkom, is baie mense al besig met vakansiebeplanning en om inkopielyste saam te stel. As jy dalk een van daardie mense is en ook reeds begin dink aan watter wyn om saam op vakansie te neem, kan jy beslis ʼn paar van La Petite Ferme se wyne oorweeg.

Wikus Pretorius maak dié landgoed se wyn in sy eie intieme boetiekstylkelder. Hy het onlangs drie verskillende wyne uitgesonder wat die wynkelder se diversiteit ten toon stel:

In die La Petite Ferme-reeks is dit ʼn vatverouderde chardonnay (2022) en ʼn rosé van grenache noir (2023), en in die vlagskipreeks is dit ʼn bordeaux-styl versnit (2018).

Die chardonnay en rosé is nuwe oesjaarwyne, en die rooiwyn, een van die vorige eienaars se oorspronklike versnitte, is in wese ook ʼn nuwe wyn omdat die vorige oesjaar uitverkoop het, meen Pretorius.

Maroela Media het die geleentheid gehad om ʼn voorsmakie van hierdie wyn te kry en dit gekombineer met die geselligheid van ʼn smulbord wat uit ʼn verskeidenheid van kaas, geprosesseerde vleis, vars brood, smere, vrugte en beskuitjies bestaan het.

Die witwyn en rosé is sommer vroeg al op die ys gesit om lekker koud te word en die rooiwyn is effens verkoel voordat dit ʼn rukkie voor die tyd uitgehaal en oopgemaak is sodat dit behoorlik lug kon kry.

Natuurlik kan ʼn mens jou nie behoorlik in die wynproe-ervaring verlustig sonder ʼn lekker smulbord nie. (Foto: Christa Steyn-Bezuidenhout/Maroela Media)

Versnaperings is sorgvuldig gekies om die wyn te komplimenteer, maar om eerlik te wees, is die happies sommer net ʼn lekkerte wat bydra tot so gesellige en informele wynproe.

Die chardonnay is ʼn ligte witwyn met ʼn elegante, droëmondgevoel en die eikehout kom subtiel na vore. Jy kry nuanse van groenappel, sitrus, botter en vanielje op die neus. Sit hierdie wyn voor saam met seekos, soos gebraaide vis, of ʼn verskeidenheid vingerhappies soos koekies, bokmelkkaas en vrugte.

Die rosé is ʼn salmpienkkleur met geure van aarbei en dit is verfrissend op die tong. Daar is ook geure van sitrus en pomelo op die neus. Hierdie wyn was ʼn gunsteling onder die Maroela-span en die meeste is dit eens dat die wyn ʼn uitstekende pasmaat vir luilekker somerdae langs die swembad sal wees.

Verdict is ʼn lieflike rooiwynversnit wat uit 82% cabernet franc en 18% cabernet sauvignon bestaan. Daar is aromas van donkervrugte, spesifiek kersies, op die neus, en die smaak word afgerond met ondertone van swartbessies en eikehoutsmake op die palet. Die wyn sal goed saam met wildsvleisgeregte, potjiekos of biefstuk werk. Verdict kan dadelik geniet word, of vir ten minste nog vyf jaar verouder word.

La Petite Ferme se portefeulje bevat altesaam vier witwyne waaronder sauvignon blanc, chardonnay en viognier; ʼn rosé; en drie rooivariëteite wat uit merlot, cabernet sauvignon en shiraz bestaan. Die wynkelder se vlagskipwyn bevat rooiwyn wat ʼn bordeaux-syl versnit en ʼn rhône-styl insluit.

La Petite Ferme se naam beteken in eenvoudige Afrikaans “die klein plaas”, en dit is in Franschhoek geleë. Oor die afgelope paar dekades het die landgoed ontwikkel in ʼn indrukwekkende wynlandbestemming. Die plaas het ʼn boetiekhotel, bekroonde restaurant met ʼn plattelandse kombuis wat tradisionele disse met ʼn kontemporêre aanslag voorsit, en ʼn gevierde wynmakery.

La Petite Ferme se wyn kan aanlyn by die wynkelder aangeskaf word. Dit is ook landwyd by uitgesoekte wynhandelaars en restaurante beskikbaar. La Petite Ferme Barrel Fermented Chardonnay 2022 kos R212 per bottel, La Petite Ferme Rosé 2023 kos R148 per bottel en La Petite Ferme Verdict Cape Blend 2018 kos R368 per bottel, as jy dit direk by die wynkelder bestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.