Soorte resepte:

M is nie net vir Movember nie, dis ook vir merlot

Le Bonheur se bekroonde Stellenbosch Prima Bordeaux-versnit, waarin die oublok-merlot se druiwe steeds gebruik word. (Foto verskaf)

November is veel meer as net die maand voor Kersfees en Movember om mansgesondheid in die kollig te plaas. Dis ook die maand waarin Internasionale Merlotdag gevier word. Op 7 November het merlot-liefhebbers regoor die wêreld ʼn glasie op hierdie gewilde kultivar geklink, wat ook wêreldwyd geplant word en in verskeie klimaatstoestande floreer, skryf Maryke Roberts.

Merlot het ook die afgelope paar dekades gewys dat dit verdien om op sy eie gebottel te word en beslis meer werd is as bloot ʼn komponent in gewilde Bordeaux-versnitte.

Overgaauw het Suid-Afrika se eerste enkelvariëteit-merlot in 1982 gebottel en dis vandag steeds ʼn klassieke uitdrukking van merlot.

Hulle webwerf vertel: “Toe Braam van Velden ontdek dat die merlot-wingerde wat hy in 1973 geplant het met rolbladvirus besmet was, het hy gesonde virusvrye wingerde gaan soek. Na ʼn uitgebreide soektog, kry hy nuwe Italiaanse kloon merlot-wingerde wat hy uiteindelik in 1979 geplant het.

“Ons eerste oesjaar van hierdie blok was in 1982. Die wyn was so indrukwekkend dat ons dit waardig geag het om op sy eie gebottel te word. Dit het ons ook aangespoor om die wyn se tyd in die klein eikehoutvate tot nege maande te verleng, wat in daardie dae lank was.”

Toe die merlot in 1983 gebottel is, was dit die eerste enkelvariëteit Suid-Afrikaanse merlot op die mark. Daar was baie geligte wenkbroue: “Ek onthou dat ek gevra is hoekom ons ʼn versnit-wyn op sy eie botteleer.”

David van Velden, die vierde generasie wynmaker vertel: “Merlot vorm steeds die grootste deel van Overgaauw se produksie en bemarking. Die hoofredes hiervoor is dat die terroir en mikroklimaat van die landgoed uitstekend gepas is vir die kultivar en dat die wingerd wat die grootste persentasie uitmaak van die finale wyn 100% rolbladvirus-vry is, en dit op die ouderdom van 20 jaar. Die feit dat Overgaauw die eerste produsent van merlot in Suid-Afrika is, bly ʼn unieke storie eie aan Overgaauw.”

Hy sê as merlot met fokus en intensie benader word – vanaf die keuse van ligging regdeur tot in die bottel – is dit ʼn kultivar wat alle verwagtinge kan oortref. “So bly dit ook my intensie en motivering om die verwagtinge met elke oesjaar te verhoog.” Hy sê hy is baie trots, want die huidige 2020-oesjaar het onlangs 93 punte in Tim Atkin se 2022-verslag verwerf.

Dawie Botha is voorsitter van die Merlot Forum en wynmaker by Anthonij Rupert Wyne. (Foto verskaf)

Skaars 20 km verder, was ʼn ander pionier in die tagtigs aan’t werk: Mike Woodhead, ʼn gekwalifiseerde grondkundige van KwaZulu-Natal, het ʼn obsessie met goeie kwaliteit grond en wy baie tyd en arbeid aan die verbetering van die plaas se grond – in ʼn tyd toe min ander wynboere veel aandag aan grond geskenk het.

Die landgoed het van die oudste sauvignon blanc-, merlot- en cabernet sauvignon-aanplantings in Stellenbosch, wat bydra tot die diepte en kompleksiteit van hierdie wyne. Alle druiwe word met die hand geoes en tradisionele wynmetodes word toegepas, met ʼn sterk Franse invloed. Die merlot-blok is die enigste gesertifiseerde ou wingerd (wingerde ouer as 35 jaar wat deel vorm van die Old Vine Project) in die land.

Merlot lê Mike baie na aan die hart – terwyl die res van Stellenbosch toe baie op cinsaut en cabernet sauvignon gefokus het. Hy plant in 1984 ʼn blok merlot en dit is die hoofkomponent van die landgoed se Stellenbosch Prima, ʼn Bordeaux-versnit, met merlot as grootste komponent.

William Wilkinson, Le Bonheur se wynmaker, maak vandag steeds die Stellenbosch Prima uit daardie ou blok, met cabernet sauvignon, cabernet franc en petit verdot versny. Die landgoed bottel ook nou ʼn enkelvariëteit-merlot wat gereeld in kompetisies uitblink, waaronder ʼn top 10-plek in die afgelope twee jaar se Merlot Prescient-toekennings.

In die Tabernakel-wynbiblioteek in Stellenbosch – dié heiligdom van Suid-Afrikaanse wyne waar die land se wyngeskiedenis in bottels vasgevang is; sommige al sedert die laat 1700’s – is die oudste merlots in die vinoteek ʼn paar bottels Zonnebloem Merlot 1988.” Maar daar is nie veel inligting daaroor opgeteken nie, vertel Michael van Deventer, die vinoteekbestuurder.

Van Suid-Afrika se bekendste wyne rus hier in die perfekte verouderingsomstandighede.

Die Tabernakel-versameling bestaan uit 12 000 bottels. Die ruimte is onlangs opgeknap en ʼn wynmuseum en moontlike besoekersentrum word beplan om die Tabernakel voortaan meer besoekersvriendelik en -toeganklik te maak.

Die tien merlot-wenners met hulle wensertifikate is van links agter, Paul de Villiers van Landskroon, Philip van Staden van Dornier, Luca Bein van Bein Wine, Marinda Kruger van Elgin Vintners, Stander Maass van Anura en Kallie Fernhout van Delaire Graff. Voor is die wynmakers Matthew Copeland van Vondeling, Frank Meaker van Org de Rac, Flo Beukes van Groot Constantia en Johnnie Kalitz van Glen Carlou. (Foto verskaf)

Die meeste gedrink

Merlot is die rooi kultivar wat die meeste binnelands gedrink word, volgens statistieke van die Suid-Afrikaanse Wynbedryf Inligting en -Stelsels (Sawis). Suid-Afrikaners geniet 5 966 800 liter merlot in 2020 en 6 631 462 liter in 2021.

Mike Woodhead, ʼn gekwalifiseerde grondkundige van KwaZulu-Natal, het in die tagtigerjare ʼn obsessie met goeie kwaliteit grond gehad en wy baie tyd en arbeid aan die verbetering van Le Bonheur se grond – in ʼn tyd toe min ander wynboere veel aandag aan grond geskenk het. Mike is verlede jaar oorlede. (Foto verskaf)

In die boekie, Status of Wine-grape Vines 2021, word die internasionale wyndruif-aanplantings op ongeveer 7 331 000 ha gereken, waarvan 90 512 ha in Suid-Afrika is. Spanje − met 961 000 ha − lei die groep, gevolg deur Frankryk met 797 000 ha en Italië se 719 000 ha.

Meer as 55% van die Suid-Afrikaanse wingerde is ouer as 16 jaar en die meeste merlot-wingerde is ouer as 20 jaar. Dié kultivar is agtste onder die top 10 aangeplante kultivars, met ʼn totale 5 338 ha, wat 5,9% van die totale aanplantings uitmaak. In ʼn wêreldwye konteks het Suid-Afrika 5% van die totale merlot-aanplantings en word net oortref deur Frankryk (14%), Chile (6%) en Roemenië (6%).

Die merlot-druif het ook die afgelope 40 jaar met rasse skrede in gewildheid onder Kaapse wynboere toegeneem. “In 1982 het die land ʼn skamele 81 ha merlot gehad”, vertel Dawie Botha, voorsitter van die Merlot Forum en wynmaker by Anthonij Rupert Wyne.

“Benewens die toename in merlot-aanplantings oor die afgelope vier dekades, sien wynmakers hoe merlot die unieke geografiese identiteit van die Suid-Afrikaanse wynlandskap uitdruk, wat die aantreklike drinkbaarheid van die variëteit ʼn ware vingerafdruk van Kaapse terroir gee,” sê Dawie.

Merlot-wyne uit die Paarl-streek het die botoon gevoer in vanjaar se eerste Hallo Merlot Top 10-kompetisie wat daartoe verbind is om Suid-Afrika se beste wyne, gemaak van die land se gewildste druifkultivar, te vereer. Die kompetisie is deur die Suid-Afrikaanse Merlot Forum aangebied en het 71 inskrywings gelok.

Van die 10 wyne wat die beste punte behaal het, het vier van Paarl-wynkelders ontstaan, gevolg deur drie van Stellenbosch, met merlot-produsente in Elgin, die Swartland en Constantia wat die balans uitmaak.

Dawie sê dié uitslae beklemtoon die algehele verbintenis tot kwaliteit deur Suid-Afrikaanse wynmakers wat merlot vervaardig, asook die streeks-terroir-uitdrukking wat gevind word in die vervaardiging van hierdie wyne.

“Hierdie kompetisie poog om ʼn bewustheid te skep van die hoë standaard van wynmaak en die spesifieke streeksidentiteite wat in die land se merlot-aanbieding voorkom. Die gewildheid van merlot is die gevolg van wynliefhebbers wat kwaliteit ervaar wanneer hulle hierdie wyn geniet, en die kompetisie wil ook hierdie feit vier.”

Hallo Merlot se Top 10-wenners is Dornier Merlot 2019; Elgin Vintners Merlot 2019; Glen Carlou Collection Merlot 2018; Anura Reserve Merlot 2020; Bein Little Merlot 2019; Vondeling Barrel Selection 2019; Delaire Graff Banghoek Reserve Merlot 2019; Org de Rac Merlot 2019; Landskroon Merlot 2020 en Groot Constantia Merlot 2018

Die tien merlot-wenners wat vanjaar vir die eerste keer in ʼn eksklusiewe merlot-kompetisie aangewys is. (Foto verskaf)

Dis ook interessant as ʼn mens loer na die Vivino-wyntoepassing se verbruikerskeuses vir die top merlots vir die week (meer as 4,1 punte uit 5), waaronder verskeie van die Hallo Merlot Top 10 ook verskyn: Holden Manz Rerserve Merlot 2018, Vergelegen The Mistake Merlot 2015 en Reserve Merlot 2015, Lourensford Limited Release Merlot 2019, Oldenburg Vineyards Merlot 2018, Meerlust Merlot 2017, Shannon Vineyards Mount Bullet 2018, Keermont Merlot 2018, Anthonij Rupert Merlot 2016, Mischa La Famille Merlot 2020, Glen Carlou The Glen Carlou Collection Merlot 2018, Hartenberg Merlot 2017, Delaire Graff Banghoek Reserve Merlot 2019, Groot Constantia Merlot 2018, Muratie Alberta Annemarie Merlot 2018, Kruger Family Wines Merlot 2020, Glen Carlou Merlot 2020, en Plaisir Merlot 2018.

Fiona McDonald, wynskrywer en -beoordelaar, skryf ʼn paar jaar gelede op Wines of South Africa (WoSA) se blog: “Marknavorsing toon dat verbruikers hulle altyd na merlot sal wend wanneer hulle voor ʼn verwarrende verskeidenheid bottels op die supermark- of kleinhandelsrak staan.

Sy haal vir James Downes van Shannon Vineyards in Elgin aan, wat by ʼn vorige Hallo Merlot-konferensie gesê het: “Almal praat daarvan dat pinot noir die hartbreek-druif van Boergondië is − maar merlot is in wese sy Bordeaux-ekwivalent en dit moet wingerdboukundig as sodanig behandel word.” Hy het die analogie van lae en stadige kooktyd gebruik om merlot-verbouing te verduidelik.

“Merlot moet stadig en heeltemal ryp word, en baat by langer hangtyd. Dit is ʼn druif wat beter geskik is vir koeler klimate.

“Merlot is soos om met ʼn probleemkind te werk. Jy moet so hard werk en soveel moeite doen – maar wanneer jy dit doen en die probleemkind begin blom, is dit só lonend,” het Fiona hom aangehaal.

Twee brandewyne

Die Durbanville Hills Merlot Potstill Brandy, Suid-Afrika se eerste rooiwyn-kultivar-brandewyn. (Foto verskaf)

Dis nie net as stilwyn of versnit-komponent wat merlot uitblink nie. Daar is nou twee brandewyne in Suid-Afrika wat merlot as deel van die versnit het. Die Durbanville Hills Merlot Potstill Brandy en die nuwe The Inverter Rosso wat so op die hakke van Merlotdag vrygestel is. Suid-Afrikaanse brandewyne word tradisioneel met wit kultivars, veral chenin blanc of colombar of ugni blanc gemaak.

Nadat Johan Venter, bekende brandewynmeester, van die land se mees gesogte en ikoniese brandewynhandelsmerke ontwikkel het, het hy Dinsdag sy eie portefeulje, The Inventer, vrygestel. Daar is twee potketel XO-brandewyne in die eerste reeks, die Blanco en die Rosso, en beide word tradisioneel gemaak met dubbele distillasie in koperpotketels en verouder vir ten minste tien jaar in Franse eikehoutvate.

Johan sê: “Brandewyn wat van rooiwynkultivars vervaardig word, is relatief nuut op die Suid-Afrikaanse mark en ek het gevoel dit sou my eerste brandewynversameling perfek afrond. Soos met wyn, het rooiwynkultivars unieke smaak- en geurprofiele, wat in staat is tot toegeeflike versnitte. Ek het hierdie twee vate met die hand gekies aangesien hulle sterk rooivrug-eienskappe en luukse houteienskappe getoon het, wat die rooiwynkarakter perfek uitdruk.”

Martin Moore, keldermeester by Durvanville Hills sê: “Ons het in 2009 oor ʼn lang middagete die idee gekry dat ons beslis ʼn brandewyn benodig om die aanbieding in die restaurant volledig te maak.

“Ons het op die plek begin beplan en besluit dat dit ʼn enkelkultivar, 10 jaar oue produk, met ʼn oesjaar gaan wees. Ons bekendste kultivars was sauvignon blanc en merlot, só ons het op laasgenoemde besluit, weens die feit dat sauvignon blanc té vrugtig kon wees.”

Die brandewyn is ʼn potketel-gestookte produk en na veroudering, is dit afgerond in vate waarin merlot verouder is en ʼn klein hoeveelheid merlot is ook gebruik om die unieke kleur te verkry.

Hy vertel: “Die produk is deur die proses van nie-verkoelde-filtrasie (non chill filtered), wat verseker dat vetsure, esters en proteïene nie verwyder word nie en bydra tot kompleksiteit. Dit kan gesien word aan die verskynsel dat die brandewyn troebel word wanneer ʼn blokkie ys bygevoeg word. Die 2010-oesjaar was die eerste van die produk wat vrygestel is”.

Verskeie wynkelders het ook al in die verlede Cap Classique in die tradisionele Franse sjampanjestyl van merlot-druiwe gemaak, waaronder Groote Post buite Darling wat die The Old Man’s Sparkle Brut maak en Black Oyster Catcher Wines in Agulhas wat die Black Oystercatcher Brut Rosé Reserve 2017 vrygestel het.

Die nuwe The Inverter Rosso-brandewyn is so op die hakke van Internasionale Merlotdag, bekendgestel. (Foto verskaf)

Wat is kenmerkende geure in merlot:

Dawie sê: “Merlot is gewoonlik die getroue lewensmaat vir cabernet sauvignon en/ of cabernet franc, maar kan ook met gemak alleen haar eie man staan. Merlot kan in verskillende style gemaak word en verskil ook van wynstreek tot wynstreek, van vol en gekonsentreerd, tot ʼn sagte vrugtige drinkwyn.”

Hy sê merlot in Suid-Afrika word gekenmerk deur sy elegante rooivruggeure (braam, bloubessie, rooikersie, aarbei en so meer) en ook ʼn sappige, satynagtige mondgevoel met ʼn verfynde tannien. “Afhangende van die tipe hout wat gebruik word met veroudering, kan dit ook van die houtgeure insluit (sagte swartpeper, geroosterde- of gerookte geure)”.

Wat is goeie kos-pasmaats vir merlot:

Gidi Caetano, die gasvryheids- en publisiteitsbestuurder by Anthonij Rupert Wyne sê: “Merlot, wat oor die algemeen ʼn medium tannienstruktuur en matige suurvlak het, leen dit tot ʼn wye verskeidenheid kos-pasmaats.

“Dit is altyd ʼn wenner saam met geroosterde vleis, veral hoender, varkvleis en lam, maar is ook genotvol saam met oondgebraaide groente. Kruisement, jenewer, salie en roosmaryn is goeie pasmaats wanneer dit by kruiegeure kom. Pruim, framboos en aarbei is gepaste vrugtegeure.”

Gidi sê wanneer kaas saam met merlot bedien word, werk ʼn wye verskeidenheid waaronder Camembert, Gouda, Asiago, Colby, Machego of Pecorino.

Beste temperatuur:

Carolyn Martin, mede-eienaar van Creation Wines in Hemel-en-Aarde, het ʼn klein pamflet saamgestel met voorgestelde bedieningstemperature om jou wyn optimaal te geniet.

Sy beveel aan dat jy jou merlot en Bordeaux-styl-versnitte (waarin merlot gebruik word) teen 13 ˚C bedien.

Ander interessante statistieke oor die Suid-Afrikaanse wynbedryf:

Daar is 2 613 primêre wyndruif-produsente; 536 druifverwerkers; 114 grootmaatwynkopers en 625 uitvoerders. Hiervan is die top 10% (63) verantwoordelik vir 90% van die uitvoere.

Volgens statistieke van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het Suid-Afrika verlede jaar 383 520 036 liter stilwyn uitgevoer, waarvan merlot 3 610 110 miljoen liter verpak (bottel) en 5 968 072 miljoen liter bulkwyn was. Die totale merlot-uitvoere vir 2021 was dus 9 578 182 liter.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.