Soorte resepte:

Mylpaal vir die Mombergs van Middelvlei

Van die ouer en getekende Middelvlei-wyne wat daar onder in die kelder gestoor word. (Foto: Clifford Roberts)

Deur Maryke Roberts

Middelvlei buite Stellenbosch is vanjaar 103 jaar in die Mombergs se besit. Aanstaande jaar vier hulle 50 jaar sedert hul eerste amptelike pinotage gemaak is, maar vanjaar ʼn halfeeu vir die eerste pinotage wat vir die familie gemaak is. Dis ook 30 jaar wat die derde geslag se twee broers saamwerk. Maryke Roberts het op die plaas ou pinotage-wyne gaan proe saam met ʼn pionier-pa en sy twee seuns en gesels oor die drie geslagte Mombergs wat sedert 1919 hier boer, so skuins voor Internasionale Pinotagedag op 8 Oktober.

Maar wag, voor die kurke klap, hoekom die ophef oor pinotage nou eintlik?

Wel, dis Trots Suid-Afrikaans en vier in 2025 ʼn 100 jaar. Prof. Abraham Izak Perold, die eerste professor in wingerd- en wynkunde aan die Universiteit Stellenbosch, het in 1925 ʼn druifkultivar wat eie aan Suid-Afrika is en goed hier sal aard, gekruis. Hy kruis pinot noir met hermitage (vandag  bekend as cinsaut) en plant vier stokke in sy agterplaas op Stellenbosch.

Hy sterf egter in 1941 voor hy wyn van dié druiwe kan proe. Prof. Charl Theron, ʼn dosent by Elsenburg Landboukollege en die wynmaker CT de Waal, plant nog stokkies en CT maak die eerste vat pinotage in 1941. Die res, soos hulle sê, is geskiedenis.

Verskeie pioniers het deur die jare hul deel gedoen om die druif te verhef, maar dit was eintlik Beyers Truter, die huidige voorsitter van die Pinotage Assosiasie, wat dié druifsoort op die internasionale podium geplaas het toe hy in 1991 die Robert Mondavi-trofee by die Internasionale wyn- en spirituskompetisie (IWSC) vir beste wynmaker in die wêreld gewen het. Dit was sy Kanonkop Pinotage 1989 wat die beoordelaars oortuig het Beyers én pinotage waardige wenners is. Vandag is hy die eienaar van Beyerskloof, ook een van die land se voorste pinotage-produsente.

Ben, oom Stiljan en Tinnie Momberg onder in die kelder met sy meer as 4 000 wyne. (Foto: Clifford Roberts)

Die Absa Top 10 Pinotage-toekennings is in 1997 ingestel om die beste wyne − enkel-kultivar, versnitte en rosé − wat van pinotage-druiwe gemaak word, te eer wat as toonbeeld van dié druif internasionaal voorgehou kan word.

Noudat jy dié agtergrond oor ons eie unieke druifsoort het, terug by Middelvlei.

Ons stop voor Tinnie − huidige wynmaker en wingerdboukundige − se huis. Twee ander motors staan onder die reuse-bome. Die kelder en wynproelokaal en oorspronklike plaashuis, lê so ʼn entjie van die bult af en agter die kelder draai die rook vir die gewilde boerebraai, waar besoekers kan smul aan heerlike boerewors, braaibroodjies en ander tradisionele lekkernye van die kole.

Tinnie lei ons af met die trappe na die ondergrondse wynkelder en teen alle verwagtinge in, is daar nie ʼn lang tafel met naambordjies en proeglase vir 20 nie. Nee, net drie joernaliste en ʼn skakelbeampte by die klein intieme hout kroegtoonbank om ʼn druifsoort wat die Mombergs baie na aan die hart lê, te proe, te praat en te prys. Die uitnodiging word sommer nog meer spesiaal.

Oom Stiljan, steeds nie-amptelike patriarg van die plaas − al is hy al 20 jaar afgetree − sit regs van my in die hoek. Jy kan sien dat hy en daardie hoekie en kroegstoeltjie mekaar goed ken. Soos die dag se ure verbytik, deel hy van die kuiers en proeë wat al daar gebeur het.

Tussendeur is daar ervaringe, baie lag en korswel tussen hom en sy twee seuns, Tinnie en Ben. Tinnie sit − as eienaar van die huis − agter die toonbank. Ben neffens my.

Ons gaan stap deur die kelder wat uit vier verskillende vertrekke bestaan en amper die hele vloerplan van die huis ondergronds beslaan. Die mure is klam en effe skeefgetrek van die nat plaasgrond, die watertafel waarskynlik hoog.

Sommige etikette is deur die klammigheid beskadig, bottels het hier en daar ʼn wit-vaalheid oor die blinkwang rondings, ʼn teken van hoe lank hulle al hier in die muwwigheid wag vir hul beurt om te skitter en te betower. Daar is ʼn rapsie meer as 4 000 bottels, waarvan die oesjare wissel vanaf 1945 Zonnebloem Cabernet en ʼn paar 1965 Lanzerac Pinotages tot meer huidige oesjare.

Ons proe die 1972, 1973, 1977, 1982, 1888, 1994, 1998 en 2010 oesjare. In 2010 is dit die eerste maal wat hulle Free-run op die etiket aangebring word. Free-run beteken die sap wat van die druiwe se gewig uit die korrels drup, voor dit afgepars word, maar meer daaroor later…

Tinnie wys ons vir ʼn wynkaraf wat aan dr. Abraham Izak Perold, die pa van pinotage, behoort het. Sy vrou het dit na sy dood geteken en aan die Mombergs geskenk, “want ons is pinotage-mense”.

Tinnie lees van die boodskappe uit die besoekersboek wat in 1973 in gebruik geneem is, terwyl sy pa, oom Stiljan, luister en tussendeur staaltjies vertel. (Foto: Clifford Roberts)

Tussen slukkies en notas maak en “oe” en “aa” deur, hoor ons: Middelvlei is sedert 1919 in die Momberg-familie se besit, toe die twee Momberg-broers, Marthinus (Tinnie) en Niels, die plaas vir £3 000 gekoop het. ʼn Jaar later is die eerste sap gepars − hoofsaaklik vir gefortifiseerde wyn en 40 jaar later het hul twee seuns, Stiljan en Jan Bek, die plaas geërf. Die byname het natuurlik hul eie storie en kom van die een seun wat baie stil was en die ander wat baie van praat gehou het…

Ons hoor dat die plaas voorheen ʼn sendingstasie was. “Daar was ʼn fontein in die hoek en hulle water het daarvandaan gekom. Grootvlei was anderkant. Ons is Middelvlei, en Kleinvlei was hieronder en dan is daar Klein-vallei ook nog. Dit was als munisipale grond,” vertel oom Stiljan.

“Daar was drie huise gewees en ek is in 1938 hier op die plaas gebore.” Hy beduie na die trappe waar ons ʼn uur of wat gelede afgestap het. “Daar bo was net vier trappies gewees. Nou is daar so ses plus ʼn klein klip platform, soos wat die grond weggewerk het oor die jare.”

Die kelder is in 1941 gebou. Die driemanskap vertel so om die beurt: Die kelder moes gebou word, “maar daai tyd was daar geen elektrisiteit nie en dit is in die bult ingebou: stadig maar seker is die bult van buite uitgehol. Mense het met pikke en grawe gegrawe. Ouma het vertel hoe hulle moes water gee om te lawe as dit so warm raak,” laat die seuns hoor.

Tinnie verduidelik: “Dit is op vlakke gebou, sodat die druiwe bo inkom en met elke proses met gravitasie na die volgende proses geskuif word, en dan heel op die einde is dit met ʼn handpomp in die tenk gepomp. Deesdae gebruik jou mees moderne kelders nog gravitasie. Intussen het ons elektrisiteit gekry.”

Oom Stiljan vertel voorts: “Ek en my neef Jannie ‘Bek’ het die plaas saam bedryf. Dit was nog altyd druiwe, maar die ou mense het cinsault en steen geplant, want dit maak jou kelder vol. Toe ek en Jannie Bek begin, het ons besluit ons gaan ons kelder verander en koue gisting toegepas. Dit was in 1960. Stiljan koop in 1963 vir Bek uit en Bek koop Neethlingshof.

Oom Stiljan vertel hulle lewer teen die sewentigs hul wyne aan Distillers. Daar is praatjies op die dorp dat ʼn Stellenbosch-wynroete in 1971 gestig gaan word. “Toe die manne met die roete begin, gaan ek na dr. Venter, die hoof by die Bergkelder. Ek wou weet waar staan ek, voor die wynroete begin. Maar hy was bombasties en snaaks met my en het nie tyd om te gesels nie.

“Ek gaan toe KWV toe en koop ses groot vate en begin my eie wyn − cinsault, cabernet en pinotage − bottel. Bergkelder hoor toe daarvan, en dr. Venter kom eendag hier aan. Hy vra toe waar is die wyn wat ek gebottel het. Ek wys na ʼn buitekamer waar ek die wyn gesit het, maar vra hoekom hy wil weet. Hy vertel dat hy my ʼn aanbod wil maak. ‘Ons wil hê jy moet in vennootskap kom met ons.’ Dit is toe dat die Bergkelder begin het met die vennootskap met boere. Hy’t gesê hulle koop alles oor. Hy’t die cinsault in ʼn gat afgegooi, maar die res gekoop.

In 1973 sluit Middelvlei toe ʼn vennootskap met die Bergkelder op Stellenbosch saam met 12 ander boere en lewer al hul wyn daar. Hulle lewer ook elke jaar stookwyn aan KWV in die Paarl.

Tinnie haal ʼn verrassing agter die toonbank uit: die Middelvlei Pinotage 1972. Oom Stiljan vertel: “Dié 1972 was nooit veronderstel om op die mark te kom nie, en het ook nie. Ek het dit spesiaal vir ons familie gebottel. Dit is gedoen as ʼn toets en was die eerste pinotage wat ons gebottel het. Dit het ʼn kort kurkie gehad en ek het dit self hier in die kelder gebottel.”

Tinnie se trots is duidelik toe ons almal mal is oor die wyn, bykans 50 jaar oud. “Pinotage is die een kultivar wat nog ontwikkel in die glas, wat oopmaak as hy ʼn bietjie lug kry en dan amper soeter word.”

Markneigings noodsaak die Bergkelder om in 1998 saam met Stellenbosch Farmers Winery (nou Distell) te smelt en meeste plase onttrek hul uit die vennootskap.

Gedurende hulle tyd by die Bergkelder, begin wyn-uitvoere deur agente. En so beland ʼn groep Britse wynmeesters daar en maak pinotage af as ʼn druifvariëteit sonder toekoms, wat soos naellakverwyderaar en geroeste spykers smaak. “Oom Stiljan glimlag. Ja, ons is deur daardie episode. Daai man het ook hier by ons kom proe en daar is ʼn artikel waarin ek ʼn opmerking gemaak het oor wat hy gesê het, maar hy was nie verkeerd nie.

“Ons wyne was hard daai tyd, maar dit was nie nodig om dit vir die wêreld te sê nie. Ek dink ons was toe nog op die verkeerde pad.”

En hy behoort te weet, want die landgoed spog met verskeie nasionale en internasionale toekennings.

Met die plaas se 100ste verjaardag in 2019, het pa en seuns aan gaste die geskiedenis van die plaas vertel. Hier is, van links Tinnie, oom Stiljan en Ben. (Foto: Clifford Roberts)

Oom Stiljan vertel hoe hulle ʼn wynklub daar in die kelder gehad het. “Die twee wynmakers, Dirkie Morkel − wat nou na die land se oudste Pinotageblok op Bellevue omsien − en oorlede Kosie Steenkamp van Groenland, was hier.

“Ek het vir hulle cabernets van 25 jaar en ouer uitgehaal en daar was so 12 wyne. Wat hulle nie geweet het nie, is dat ek ʼn 1969 Swartland Pinotage − die oudste van daai wyne − ingeglip het. Hulle het geproe en die Kanonkop 1973 − ek dink oom Jan Boland Coetzee sê tot vandag toe dis die beste wyn wat hy nog gemaak het − het eerste gekom, en die Swartland Pinotage tweede. Toe hulle kommentaar op die wyn lewer, wys Kosie na die pinotage en sê: ‘Ek het eintlik daai wyn eerste gesit, maar dis vir my ʼn bietjie soet vir ʼn cabernet. Ek sweer dis ʼn pinotage.’ Daai wyne is 30 jaar oud en hy het hom gekies.”

In 1992 het Tiennie en Ben ná hul studies plaas toe gekom. Ben het in 1993 oorsee gaan werk en Tinnie het dieselfde jaar die proelokaal geopen en wyn van die plaas begin verkoop, maar min mense het hiernatoe gekom.”

Tinnie se hele gesig vertrek in ʼn groot onthou-glimlag as hy sê: “Ons het ʼn man op die werf ʼn tweerigting radio gegee en as mense hier gekom het, dan roep hulle my uit die wingerd…” Maar ek het altyd die till opgeneuk, ek mag later glad nie meer daar in die proelokaal gewerk het nie.”

Tinnie onthou: “Toe ek in 1992 hier instap, stap my pa uit. Hy sê toe jy het geswot − dis mos nou jou baby. Ek het met sy resep begin, maar later aangepas om by die mark aan te pas. Deesdae is ons pinotage vry afloop (free-run) sap wat ná gisting gebruik word, omdat dit vroeër op die mark moet kom. Daar is geen parssap by en dus ook geen harde tanniene wat met veroudering moet sagter word nie.”

Oom Stiljan Momberg het wel in 1992 die leisels aan sy seun oorhandig, maar sy teenwoordigheid op die plaas is amper tasbaar. (Foto: Alfred Thorpe)

Ben keer terug van Kalifornië en neem die plaas se bemarking en uitvoere oor. Tinnie is wynmaker en wingerdboukundige. Die twee broers bou die plaas verder uit tot een van die omgewing se spog landgoedere. Nie te lank gelede nie, maak Tinnie en Ben somme en besluit om die wingerdgrond aan ʼn vennoot te verkoop. Ben sê hulle het 500 ton druiwe ingebring, maar net 300 000l wyn gemaak waarvan hulle 100 000 liter in bottel en 200 000 liter in grootmaat teen ʼn verlies verkoop het. Die somme het nie geklop nie.

Hy verduidelik met die vennootskap, het hulle steeds beheer oor wat in die wingerde gedoen word en koop net die druiwe wat hulle nodig het. “Alles wat ons nie vat nie, gaan Kanonkop toe. So die kwaliteit is goed, as dit Kanonkop toe gaan. Kanonkop vat meeste van hulle cabernet en ʼn redelike groot klomp van die pinotage. Hulle shiraz gaan Kleine Zalze toe. So die ouens wat hier koop, is mense wat kwaliteit wyne maak.”

Nou koop Tinnie ook net druiwe in vir die bottel; doen geen grootmaat meer nie.

Die ondergrondse kelder het sy eie besoekersboek wat in 1973 in gebruik geneem is. Tinnie lees van die name daaruit van ander mense, wat al daar in my stoel gesit het, waaronder Ian Botham (Engelse krieketspeler), Rodney Marsh (Australiese krieketspeler), generaal Jannie Geldenhuys (voormalige hoof van die Leër), Naas Botha (oud-Springbok), Ockert Brits (SA Paalspringkampioen), die sanggroep BZN van Nederland en ander bekende name.

Voor ons gaan vir die boerebraai en pinotage by die proelokaal, skryf ons almal in die nuwe besoekersboek. My naam is eerste. Ek kan nie help om te wonder wie my kommentaar oor 49 jaar gaan lees en waar ek dan sal wees nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.