Soorte resepte:

Annelien se kombuis: Kersie-biscotti

Kersie-biscotti (Foto: Annelien Pienaar)

Een van die wonderlikste happies wat ’n mens vir gaste kan voorsit saam met koffie, of as geskenkie kan gee, is biscotti. Ek sit die biscotti voor met sjokoladesous wat gewoonlik saam met wafels geëet word.

Die biscotti is neutagtig en die koffie en kaneel wat deurkom komplementeer die sjokoladesous goed. Daar is altyd biscotti in my spens vir nagereg, teetyd en bederfpakkies. Vir variasie kan die pekanneute met sjokoladesplinters, gemengde droëvrugte of rosyne vervang word.

Annelien Pienaar is ‘n voedselwetenskaplike en skrywer van die bekende resepteboek en blog Boerekos met ʼn twist.

Bestanddele

  • 350 g (2½ k) koekmeel
  • 10 ml (2 t) bakpoeier
  • knippie sout
  • 75 g (5 e) botter
  • 150 g (¾ k) strooisuiker
  • 100 g (1 k) pekanneute
  • 100 g (1 k) glanskersies, gehalveer
  • 2 groot eiers
  • 30 ml (2 e) melk
  • 5 ml (1 t) kaneel
  • 15 ml (1 e) koffiepoeier, opgelos in 15 ml (1 e) kookwater
  • 5 ml (1 t) vanieljegeursel

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n bakplaat.
  2. Sif die koekmeel, bakpoeier en sout saam. Vryf die botter met jou vingerpunte by die meelmengsel in. Voeg die suiker, neute en glanskersies by en meng deeglik.
  3. Meng die eiers, melk, kaneel, koffie, vanieljegeursel en melk en voeg dit by die meelmengsel; knie baie liggies. Verdeel die deeg in drie dele en rol dit in worse van ongeveer 25 cm lank en 7 cm dik. Druk effens plat, spasieer die worse só dat die deeg nie aan mekaar raak wanneer dit tydens die bakproses uitsit nie. Bak vir 25 minute.
  4. Laat afkoel en sny in skuins skywe van 2 cm dik; droog die biscotti vir 2 uur uit by 100 °C.

Besoek Annelien Pienaar se webtuiste en Facebook-blad. Vul jou besonderhede hier in om die resep in PDF-formaat te ontvang.

  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.