Soorte resepte:

Resep: Pondkoekies

(Foto: Pixabay)

Maroela Media-leser Julie Jansen van Rensburg vertel haar oorle’ ma, ouma en tannies het hierdie koekies gereeld gebak toe sy nog klein was. Hoewel sy nou reeds 87 jaar oud is, verlustig sy haar steeds van tyd tot tyd aan dié koekies.

Jansen van Rensburg verduidelik dat hierdie koekies hul naam kry omdat dit uit die outyd kom toe mense nog bestanddele in onse en ponde afgemeet en geweeg het.

“Ek het die resep nog in my skooldae by een van die familielede (nou almal jare gelede oorlede) gekry en in my getroude lewe het ek dit gewoonlik so rondom Kerstyd gebak. My oorlede man en my drie spruite kon nooit genoeg hiervan kry nie,” sê sy.

Bestanddele

  • 500 g suiker
  • 500 g botter of margarien
  • 3 eiers
  • 500 g koekmeel
  • 500 g mielieblom (Maizena)
  • 3 teelepels bakpoeier
  • bietjie sout

Metode

  1. Room botter en suiker saam. Voeg eiers by en meng.
  2. Sif die droë bestanddele saam, voeg dit by die bottermengsel en meng alles goed.
  3. Rol die deeg uit op ʼn meelbestrooide oppervlak en gebruik ʼn koekiedrukker om klein plat koekies te maak. Bak teen 180 °C tot ligbruin.

VERSIERING

  1. Maak ongeveer 250 g versiersuiker met botter aan, voeg ’n ½ teelepel wynsteensuur (tartaric acid) of sitroensuur (citric acid) by (opsioneel, maar ek vind dit breek die kwaai soetigheid). Jy kan ook geursel van jou eie keuse byvoeg (suurlemoengeursel hierby is baie lekker).
  2. Smeer versiersuiker op koekies en plak op mekaar.

Het jy ‘n lekker resep wat jy met Maroela Media kan deel? Stuur dit hier aan ons!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.