Soorte resepte:

Resep: Sampioen-en-kaasskons

Sampioen-en-kaasskons (Foto: The South African Mushroom Farmers’ Association)

Hierdie skons het soveel geur en smaak, dis nie eens nodig om dit met konfyt of kaas te bedien nie.

Lewer 12-15 skons

Bestanddele

  • 500 g sampioene, gesny
  • olyfolie vir braai
  • 450 g meel
  • 6 t bakpoeier
  • 2 t sout
  • 1 t vars gemaalde swartpeper
  • 1 e mosterdpoeier
  • 100 g koue botter, gerasper
  • 250 g cheddarkaas, gerasper
  • 1 bossie sprietuie, fyngekap
  • 125 ml koue melk
  • 125 ml koue water
  • 1 eier, geklits saam met ʼn klein bietjie melk

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 220 ° Voer ʼn bakplaat uit met bakpapier en hou eenkant.
  2. Verhit olyfolie in ʼn groot braaipan. Braai die sampioene tot goudbruin en tot dit vog verloor het. Geur met sout en peper.
  3. Verwyder sampioene van hitte en sprei uit oor kombuispapier. Bedek met nog ʼn vel kombuispapier en druk versigtig die ekstra vog uit.
  4. Meng meel, bakpoeier, sout, peper en mosterdpoeier in ʼn groot mengbak tot goed gemeng.
  5. Vryf die botter met jou vingerpunte by die meelmengsel in totdat dit soos nat sand begin lyk.
  6. Voeg die gaar sampioene daarby en meng sodat dit egalig met meel bedek is.
  7. Voeg meeste van die kaas by, maar hou ʼn bietjie om bo-oor die skons te sprinkel. Voeg die sprietuie by en meng.
  8. Voeg nou melk en water by en meng sodat ʼn deeg vorm wat van die bak se rand begin loskom. Plaas die deeg op ʼn meelbestrooide oppervlak en vorm in reghoek. Wees versigtig om nie die meel te knie of te oormeng nie.
  9. Druk skons uit met ʼn koekiedrukker. Druk die orige deeg versigtig saam en herhaal tot al die deeg gebruik is.
  10. Plaas skons op die voorbereide bakplaat en verf ʼn bietjie van die eiermengsel daaroor.
  11. Sprinkel oorblywende kaas oor en bak vir 20 minute of tot dit goudbruin en deurgaar is.
  12. Laat afkoel op afkoelrak en bedien met botter.

Bron: The South African Mushroom Farmers’ Association

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.