Soorte resepte:

Resep: Sjokolade brownies

Sjokolade brownies. (Foto: Lapa Uitgewers)

Wanneer jou soettand roep, is dié sjokoladehappies die antwoord.

Lewer 8 – 10 porsies.

Bestanddele

  • 200 ml botter
  • 375 ml suiker
  • 180 ml koekmeel
  • 75 ml kakao
  • 20 ml vanieljegeursel
  • 3 ekstra-groot eiers, liggies geklits
  • 100 g donkersjokolade, grofgekap
  • 50-75 g haselneute, gekap

Sjokoladesous

  • 250 ml melk of ingedampte melk, of helfte melk en helfte room
  • 100 g donkersjokolade, in stukkies gebreek
  • 30 ml botter
  • 50 ml suiker
  • 15 ml kakao
  • 15 ml mielieblom

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ‘n oondbak of bakplaat van ± 16 x 25 x 3 cm met botter. Die grootte van die bak is belangrik vir die regte baktyd en die beste resultaat.
  2. Verhit die botter en suiker oor matige hitte in ‘n kastrol, en roer deurentyd tot die suiker gesmelt is. Verwyder die kastrol van die plaat. Sif die droë bestanddele saam en roer dit saam met die vanieljegeursel by die bottermengsel in die kastrol in. Meng deeglik.
  3. Roer die eiers bietjie vir bietjie by, en roer deeglik na elke byvoeging. As die mengsel te warm is en die eier laat stol, moet dit eers effens afkoel. Roer die sjokolade en neute deur en skep die beslag in die gesmeerde bak.
  4. Bak 25-30 minute of net tot ‘n toetspen skoon uitkom. Toets op meer as een plek, ingeval jy dalk gesmelte sjokolade raaksteek, wat die toetspen nat laat lyk. Druk ook liggies in die middel – as dit net gestol is, is dit gereed. Dit stol verder soos dit afkoel. Bak nog 5 minute indien nodig. Moenie te lank bak nie, anders word dit droog en hard.

Sous

  • Plaas al die bestanddele, behalwe die kakao en mielieblom, in ‘n klein kastrolletjie. Verhit oor lae hitte en roer gereeld tot die suiker en sjokolade gesmelt is.
  • Verhit die sous stadig tot kookpunt en prut 5 minute. Meng die kakao en mielieblom met ‘n bietjie water tot ‘n pasta en roer dit by die sous. Roer deurentyd tot die sous verdik.
  1. Sny dit in blokkies en sit warm, of teen kamertemperatuur, met die sous en roomys voor.

Bron: Teetydlekkernye
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nici ·

Behoort jul dit nie ‘n Afrikaanse naam te gee nie soos wat van ‘sjokolade bruinies’?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.