Soorte resepte:

Resep-video: Spinasiegebak

Spinasiegebak. (Foto: Elsabé Erasmus/Maroela Media)

Die kinders sal nie hul neuse vir hierdie smaaklike groentegereg optrek nie. Die gereg is ook perfek om as bykos saam met enige maaltyd voor te sit en selfs ook sommer net so te eet.

Die resep is genoeg vir sowat 6-8 mense.

Bestanddele

  • 1 pakkie (200 g) Cream Cracker-beskuitjies
  • ½ ui, fyngekap
  • 90 ml botter
  • 90 ml koekmeel
  • 375 ml louwarm melk
  • 400 g bevrore spinasie, ontdooi
  • sout en swartpeper, na smaak
  • knippie neutmuskaat
  • 5 eiers, geklits
  • 200 g fetakaas, gekrummel
  • 250 g ham, gesnipper
  • 2 k gerasperde cheddarkaas

Metode

  1. Voorverhit ʼn oond tot 180 °C en spuit ʼn oondbak met kleefwerende kossproei.
  2. Braai die ui in die botter tot sag en roer dan die meel saam.
  3. Roer die melk by tot die mengsel kookpunt bereik en die sous verdik.
  4. Verwyder van die hitte en roer die spinasie by. Geur met sout, peper en neutmuskaat.
  5. Roer die eiers en driekwart van die cheddarkaas, fetakaas en ham by, en laat dit effens afkoel.
  6. Pak ʼn laag beskuitjies op die bodem van die voorbereide oondbak.
  7. Versprei die helfte van die mengsel oor die beskuitjies in die bak en herhaal weer met ʼn laag beskuitjies. Eindig met ʼn laag spinasiemengsel.
  8. Krummel die res van die beskuitjies en strooi dit saam met die res van die fetakaas, ham en cheddarkaas oor die spinasie.
  9. Stip met die gesmelte botter en bak vir sowat 40-45 minute tot gestol.

Al die Maroela-produkte wat jy in dié video sien, is in ons aanlyn winkel, Die Koöperasie, beskikbaar. Klik hier om dié mooi produkte te koop en jou kombuis in ʼn plaaskombuis te omskep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.