Soorte resepte:

Kaasfees bied kulinêre ervaring vir oud en jonk

Argieffoto. (Foto: Pixabay)

Die Sandringham-landgoed buite Stellenbosch is in rep en roer met die Suid-Afrikaanse Kaasfees wat van Saterdag 23 September tot Maandag 25 September plaasvind. Dit is die twintigste keer dat die Kaasfees aangebied word.

Dié fees wil smulpape van alle ouderdomme aan ʼn wêreld van kaas bekendstel en hulle op ʼn verskeidenheid fynproewers-lekkernye trakteer.

“Dit is meer as net ʼn feestelike geleentheid. Hierdie fees is ook ʼn viering van bykans twee dekades se kulinêre lekkerte,” sê Jacques Fourie namens die feesorganiseerders.

Fourie voeg by dat feesgangers kan uitsien na ʼn merkwaardige en uiteenlopende samesmelting van fynproewers-ervarings, musiek en prettige vermaak.

Kulinêre reis vir BBP’s by The Pavilion

Dit is vanjaar die eerste keer dat gaste op ʼn eksklusiewe kulinêre reis by The Pavilion kan gaan.

“Ons is opgewonde oor hierdie gasvryheidsaanbieding vir BBP’s. Dit is spesiaal ontwerp vir skerpsinnige kos-entoesiaste wat op soek is na ʼn eksklusiewe ervaring,” sê Fourie.

Die SA Kaasfees se nuwe permanente geriewe by The Pavilion op die feesperseel bestaan uit twee verdiepings, en dit gaan BBP-gaste op ʼn spesiaal saamgestelde kulinêre reis neem wat alles van proe-en-pas-werkwinkels tot ʼn luukse ontspanningsruimte, sowel as private spyseniering insluit.

Foto net ter illustrasie. (Foto: Melissa Walker Horn/Unsplash)

Pret, musiek te kus en te keur

“Behalwe vir ʼn splinternuwe karnavalstyl-pretpark stel ons ook helikopterritte op die feesterrein bekend. Besoekers het ʼn keuse tussen ʼn twee-minuut-pretrit of ʼn langer 10-minuut-rit oor die Kaapse Wynlande.

Dien Suid-Afrikaanse Kaasfees stel vanjaar ook helikopterritte op die feesterrein bekend. (Foto: Verskaf)

“Ons glo dat dit ʼn element van gesinsvriendelike pret tot die fees sal voeg,” meen Fourie.

Die SA Kaasfees se program bevat jaarliks ʼn wye verskeidenheid aanbiedings en besienswaardighede. Vanjaar se fees maak weer eens voorsiening vir die smake en voorkeure van elke feesganger. Van kaas- en wynproeë  tot lewendige musiekvermaak en ander opwindende aanbiedinge.

Feesgangers sal vanjaar weer die geleentheid kry om aan ʼn wye verskeidenheid top-gehalte kase te smul tesame met goeie wyne as die perfekte pasmaats.

Daarbenewens staan bekende kenner-sjefs gereed om interessante kosdemonstrasies te doen, en so hul insigte te deel oor die kookkuns, kaasvariëteite en die kuns om kos en wyn bymekaar te pas.

Kunstenaars soos Prime Circle, Watershed, Gerhard Steyn, Elvis Blue, Tasché, Juan Boucher en Mark Haze sal die vermaak verskaf. “Ons glo hierdie musiekvermaak gaan vir ʼn lewendige atmosfeer op die feesgronde sorg.”

Fees ondersteun plaaslik produkte

Nog ʼn toevoeging tot vanjaar se SA Kaasfees-program is die Culinary Marketplace. Dit is ʼn vertoonplek vir handgemaakte produkte, fynproewers-lekkernye, wyne en ander produkte wat plaaslike uitstallers aan feesgangers bekendstel.

Die Suid-Afrikaanse Kaasfees bied ‘n kulinêre ervaring vir oud en jonk. (Foto: Verskaf)

“Kom ontdek uitsonderlike produkte, ondersteun plaaslike sake-ondernemings en neem van die top-gehalte kase en ander verwante produkte huis toe om dit na afloop van die fees te geniet,” moedig Fourie aan.

Kaartjies vir vanjaar se Suid-Afrikaanse Kaasfees is aanlyn op Howler beskikbaar. Besoek die Kaasfees se webwerf vir meer inligting oor die program en musiekvermaak wat aangebied word.

Feeskaartjie bied toegang tot al die gratis kaasproeë, en ʼn wynproeglas kan teen die bykomende bedrag van R35 gekoop word om die diverse verskeidenheid onbeperkte wynaanbiedings mee te proe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.