Soorte resepte:

Kersfees is tyd van samesyn

Gerhardus en sy pa. (Foto: Anri Heyns)

Deur Gerhardus Geldenhuis

Probeer soos wat ek wil, ek kan net nie gewoond raak aan Kersfees in koue weer nie. Vir my is Kersfees sinoniem met somer, vrugteslaai, familie, braai en samesyn. Familiebyeenkomste was altyd groot, so, ek vermoed ʼn verwantskap aan Abraham aan my ma se kant.

My eerste jaar oorsee het ek in Wene saam met Nadia en Gerhard Kersfees gevier. Ons was al drie pas uit Suid-Afrika uit, en het behoorlik huis toe verlang. Ek kan nie onthou wat ons geëet het nie, maar ek onthou dit was lekker en dat Nadia baie moeite gedoen het. Ek het steeds die koffiebeker wat ek destyds by een van die Kersmarkte gekoop het.

ʼn Spesiale herinnering vir my is wanneer die hele familie bymekaargekom het, dan het die tannies saamgekook en gekuier in die kombuis. Elkeen het ʼn spesiale dis bygedra of gehelp maak, en ons kinders se monde het al van vroegoggend af gewater oor al die lekker dinge wat voorberei word. Gegewe dat ons 16 neefs en niggies was, was daar ʼn streng beleid van geen proe voor die kos nie reg was nie, maar daar was ʼn bak of twee om uit te lek as jy gesorg het dat jy op ʼn strategiese tyd in die kombuis was. Betyds genoeg om uit te lek, maar nie lank genoeg om van tande-tel beskuldig te word nie.

(Foto: Anri Heyns)

By die braaivleisvuur buite het Oupa At altyd ʼn storie gehad en met sy diep stem was dit moeilik om nie aan sy lippe te hang nie. As Oupa eers uit sy stoel uit opgestaan het en sy arms begin swaai het, dan het ons geweet hierdie gaan ʼn goeie storie wees, en dit was altyd iets oor sy spoorwegdae, of later aan toe hy stadstesourier in die Vrystaat was, of as jong man wat agter die ploegosse aangedraf het om die lande te ploeg.

Tannie Elsie se beestong was altyd ʼn hoogtepunt en daar was nooit kans vir ʼn tweede porsie nie, jy moes genoeg skep die eerste keer. Haar tuisgebakte brood was nog ʼn wenner – dit het nie lank gehou nie. Daar was gewoonlik twee brode, partykeer ʼn bietjie meer, wat gedurende een ete verorber is. Tannie Naomi se broodslaai en Tannie Annetjie se vetkoeke is twee ander uitstaande herinneringe.

Daar was natuurlik altyd piesangslaai, en ek lag altyd vir die vreemde uitdrukking op mense in die buiteland se gesigte as jy verduidelik wat dit is, want anderkant die waters is ʼn slaai maar selde soet. Piesangslaai is nie net met Kersfees gemaak nie, maar vir my staan dit uit as ʼn lekker herinnering van Kerstyd se etes. Ek het oor die jare heen my eie weergawe ontwikkel en te oordeel aan die leë toestand van die bak, dink ek, ek kan met veiligheid sê dat dit besonders lekker is.

Oupa Giel en Ouma Anna. (Foto: Anri Heyns)

Piesangslaai-resep

Bestanddele

  • ryp piesangs, daar moet al een of twee swart kolletjies buite op die skil wees
  • ʼn blik kondensmelk
  • vars gemmer
  • mosterdpoeier
  • ʼn paar vars grenadellas, ek gebruik sommer 7 as ek kan
  • witwynasyn

Metode

  1. Roep jou gunstelingkind of kleinkind nader, of die soetste een as jy nie gunstelinge het nie.
  2. Sny die kondensmelkblik oop, gewoonlik borrel dit bietjie uit. Dit is die rede vir die kleinkind se teenwoordigheid – om te help om ontslae te raak van die kondensmelk op die deksel.
  3. Tiep die kondensmelk in jou slaaibak in, vat so 2 of 3 eetlepels van die witwynasyn en gooi dit in die leë blikkie. Die asyn help om die blikkie skoon te was van oorblywende kondensmelk.
  4. Meng sommer ʼn eetlepel mosterdpoeier by die asyn in die blikkie, dan kan jy makliker van klonte ontslae raak as die poeier al begin oud raak. Die mosterd kan skerp wees en in trek, so, as jy die slaai lank voor die tyd maak, gebruik effe minder sodat dit nie te veel brand nie. Jy kan ook Dijon-mosterd gebruik as jy fênsie wil wees.
  5. Rasper die gemmer fyn en druk genoeg sap uit om omtrent ʼn eetlepel se gemmersap te verkry en voeg by die bestanddele in die slaaibak.
  6. Meng die kondensmelk behoorlik en proe – die smaak moet effe pikant wees. Die asyn help om die soet te “sny”, en die gemmer en mosterd gee dit ʼn bietjie lyf. As dit te sterk is, maak die resep dubbeld aan en sit nog ʼn blikkie kondensmelk by.
  7. Sny die grenadellas oop, en sit die sap en pitte in die slaaibak en roer by.
  8. Skil en sny die piesangs by in klein ronde skyfies en gee die slaai weer ʼn goeie roer. As jy wil, hou ʼn grenadella eenkant vir garnering bo-oor.
  9. Ek probeer genoeg piesangs bysit sodat elke skyfie piesang heeltemal bedek is met die slaaimengsel en daar ʼn bietjie ekstra slaaisous in jou bord is. As die finansies druk kan mens altyd meer piesangs bysit, en gemmerpoeier en gewone witasyn gebruik.

Kersfees is familietyd vir dié rubrieksrywer. (Foto: Anri Heyns)

Ouma Martie het altyd die heerlikste skaapboud vir Kersete gemaak. Ek onthou dat sy hom vroegoggend, as ons almal nog slaap, al voorberei het en in die oond gedruk het. Wanneer ons dan terugkom van kerk af, het die huis na heerlike skaapboud geruik, en as jy nie honger was ná tee en koekies by die kerk nie, dan was jy nou rasend. Tot my spyt het ek nooit geleer hoe Ouma Martie haar skaapboud so lekker sappig en geurig gekry het nie, maar die herinneringe sal my altyd bybly.

Gerhardus Geldenhuis (Foto verskaf)

As mense so in die vreemde bly en terugverlang, dan is mense geneig om na te dink oor jou kultuurerfenis, jou persoonlike nalatenskap en wat werklik belangrik is.

Familie en vriende is wat Kersfees vir my belangrik maak en wat ek onthou. Ek mis my pa se vrugteslaai, maar ek mis dit meer om by die tafel te sit en gesels terwyl hy dit maak. So, maak seker jy wag nie te lank om jou ouma se resep te leer nie, vertel stories met geesdrif en betrek die kinders by die maak van die kos.

Ek hoop hierdie Kersfees is ʼn geseënde tyd vir die leser, ʼn tyd van nuwe herinneringe en min trane oor die herinneringe van familie en vriende wat nie meer met ons is nie.

Dankie, laastens, aan Koos Kombuis vir “Somerkersfees” wat in my kop bly speel het toe ek die artikel geskryf het.

  • Gerhardus is woonagtig in Engeland met sy hart in Suid-Afrika. Hy berei gereeld groot etes voor vir die kerk, bied kosmaakwerkwinkels aan by sy huis, soos hoe om jou eie miso te maak, en gaan pluk oor elke jaar meer blomme en vrugte as wat hy ooit self kan opeet. So deel hy gereeld konfyt, stroop en ander lekker dinge aan vriende uit. Hy het leer brood bak in ʼn Duitse bakkery en is aktief by die Oxford Food Symposium on Food & Cookery betrokke. Stuur vir Gerhardus ʼn e-pos by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.