Soorte resepte:

Ma, seun se kookavonture help herinneringe skep

Lise Tredoux en haar seun, Leonard (5). (Foto: Bronwyn Williams/Wild Carrot Photography)

Deur Christa Steyn-Bezuidenhout 

Dis nie lekker nie, DIS BAIE LEKKER! is ʼn resepteboek wat deur Lise Tredoux en haar vyfjarige seun Leonard saamgestel is. Op die oog af is dit ʼn visuele fees met foto’s van die allerlekkerste happies en geregte, maar eintlik gaan dié boek oor veel meer as bestanddele, resepte en die eindproduk.

“Dit gaan ook oor verbeelding, bemagtiging, kreatiwiteit en om gehalte tyd saam met jou kind deur te bring,” verduidelik Lise aan Maroela Media.

As ma weet Lise hoe bedrywig ʼn gesin se lewe kan raak, maar sy weet ook hoe belangrik en kosbaar tyd is.

Vir die afgelope twee jaar skep sy en Leonard die kosbaarste herinneringe wanneer hulle saam kook. Dit het alles begin by bakdae wat Leonard se speelskool gereël het. Elke ouer en kind moes een keer in ses maande iets wat hulle saam gebak of gemaak het, skool toe vat.

Lise het dié ervaring baie geniet en toe die Covid-19-inperkings in 2020 afgekondig is, het sy en Leonard sommer aangegaan om hulle eie bakkersdag by die huis te hou.

“Rondom Moedersdag in 2020 het die gedagte by my opgekom om ʼn resepteboek saam met Leonard uit te gee. Ek was dadelik opgewonde oor die projek, maar ook vreeslik benoud.

“‘Waar begin ek?’ het ek gedink, maar die Here het soveel keer iemand oor my pad gestuur wat my nader aan die eindproduk gebring het. Ons was toegesluit weens inperkings, maar dít het my droom ontsluit.”

Met Lise en Leonard se resepteboek leer jy onder meer hoe om ʼn Oekraïniese laagkoek te bak, en Japanese onigiri, krap-soutkoekies, arend-soethappies, slak-southappies en kerrie-turksvybladslaai te maak.

Haar pa is die inspirasie vir hulle kerrie-turksvybladslaai, vertel Lise. “Pa Theuns het in die grendeltyd begin om turksvye aan te plant. Dit groei so vinnig en hy het gewonder wat ʼn mens met die blare kan doen, en so het dit gebeur dat ons daarmee in die kombuis begin eksperimenteer het.”

Die boek bevat meer as 50 resepte wat in sewe afdelings opgedeel is: “Suid-Afrika”, “Kom reis saam – Friesland, Engeland, Oekraïne, Egipte, Japan en Amerika”, “Onder die see”, “Kom ons beweeg”, “Diere en insekte”, “Kom drink tee by my” en “Leonard se gunstelinge”.

Nie net kan ouers en kinders sáám tyd in die kombuis deurbring nie, maar hulle kan terselfdertyd ook meer oor verskillende lande leer.

“Hierdie reis bemagtig jou kind om self kos te maak en gasvry te wees. Hoe heerlik is dit nie om iets te bak en dit dan met iemand te deel nie,” sê Lise.

“Dit is regtig ʼn wonderlike boek propvol staaltjies oor van die lande, foto’s wat die smaakkliere prikkel, lirieke deur Jannie du Toit en Koos du Plessis, en ʼn versameling van Leonard se pittige sêgoed.”

Van die foto’s is deur ʼn professionele fotograaf geneem, maar talle daarvan is informele foto’s wat Lise self geneem het. “Dit was vir my belangrik dat die resepte vir mense doenbaar lyk. Ek wou dit graag huislik en eenvoudig gehad het.”

Dis nie lekker nie, DIS BAIE LEKKER! kos R350 (prys onderworpe aan verandering). Om die boek te koop stuur ʼn e-pos aan Lise na [email protected]. Jy kan ook hulle kosavontuur op die Facebook-blad, Dis BAIE lekker, volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.