Soorte resepte:

Resep: Nataniël se Franse ratatouille

Nataniël se ratatouille. (Foto: verskaf)

Franse geregte lê byna netso na aan Nataniël se hart soos Frankryk self.

“Ek gaan al vir 30 jaar Parys toe, daardie stad het alles wat my siel nodig het,” het Nataniël oor sy liefde vir die land gesê.

“Franse kos is van my gunsteling in die wêreld en elke keer wanneer ek na Parys verlang, maak ek vir my Franse kos tuis.

Een van sy gunstelinggeregte is ratatouille. Hier is sy resep:

Bestanddele

  • Een groot ui, gekap
  • ʼn Halwe vinkel, gekap
  • 3 knoffelhuisies, gekap
  • 1 rooi soetrissie, in repe gesny
  • 1 geel soetrissie, in repe gesny
  • 1 groot brinjal, in rondtes gesny met ʼn dikte van 25 mm
  • 2 groot baba-murgpampoentjies, in rondtes gesny van 25 mm dik
  • 4 e balsamiese asyn
  • 2 e suiker
  • 20 klein tamaties, gehalveer
  • 1 t meel
  • 1 rol skilferkorsdeeg
  • sout
  • gemaalde swartpeper
  • olyfolie
  • vars basiliekruidblare

Nataniël. (Foto: verskaf)

Metode

  1. Braai die vinkel, ui en knoffel saam oor mediumhitte totdat dit sag is. Hou eenkant. Braai die brinjal tot goudbruin op albei kante en hou eenkant.
  2. Braai die murgpampoentjies tot goudbruin en hou eenkant.
  3. Smelt die balsamiese asyn en suiker saam.
  4. Bedek die onderkant van ʼn 24 by 28 cm ronde oondbak met die asyn-en-suiker-mengsel.
  5. Bedek dan met murgpampoentjies, brinjal en enkel tamaties. Versprei in ʼn patroon van jou voorkeur, maar laat die stukkies oorvleuel.
  6. Geur liggies met sout, peper en olyfolie.
  7. Pak ʼn lagie van uie, vinkel en knoffel bo-op.
  8. Voeg die rooi- en geel soetrissies bo-op, met tamaties tussenin. Sprinkel meel, sout, peper en olyfolie bo-oor.
  9. Maak dan vol met die res van die brinjal en murgpampoentjies.
  10. Geur met sout en peper.
  11. Plaas die deeg bo-oor en vou dit dan sodat die kante toe is.
  12. Maak ʼn klein gat in die middel en bak teen 180 °C vir 30 tot 40 minute. Sodra dit gaar is, laat dit vir 20 minute afkoel.
  13. Plaas die gereg versigtig op jou opdienbak en versier met basiliekruidblare.
  14. Geniet!

Wenk

Wanneer jy die gereg op jou opdienbak plaas, sal die deeg onder wees en die groente bo. Kyk na die foto hierbo as verwysing.

Bron: Nataniël/Air France

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.