Soorte resepte:

Resep: ‘Tiaan Proe’ se stokvis- en skelvisgeregte

Degie-stokvis met ertjie-pesto en bros skyfies (Foto: verskaf)

In die derde episode van Tiaan Proe is daar heerlike skelvis- en stokvisresepte gemaak. Vind ʼn opsomming daarvan hier.

Degie-stokvis met ertjie-pesto en bros skyfies

Bestanddele

  • 1 boksie stokvis in tempura-beslag
  • 1 sakkie gevriesde ertjies
  • Olyfolie na smaak
  • 10 g mentblare
  • 100 g sterk cheddar (wit), gerasper
  • 100 g sonneblomsade
  • 1 suurlemoen
  • sout en peper na smaak
  • 2 kg aartappels
  • olie vir braai
  • roosmaryn

Metode

Vis en skyfies

  1. Begin met aartappels vir skyfies. Kook aartappels heel, maar begin kookproses in koue water.
  2. Kook tot aartappels sag is, maar nie pap nie. Laat aartappels afkoel.
  3. Sny aartappels in wiggies of skyfies soos jy verkies en plaas in yskas sodat dit kan afkoel en koud bly.
  4. Verhit nou olie vir aartappels en voorverhit oond of lugbraaier tot 200 °C. Plaas skyfies versigtig in olie en braai tot bros en goudbruin. Geur met sout en roosmaryn.
  5. Plaas vis op dieselfde tyd in die lugbraaier en bak volgens instruksies op die boksie.

Ertjie-pesto

  1. Gooi die ertjies, sommer gevries, in ’n bakkie of maatbeker waarin ’n stokvermenger kan pas.
  2. Rooster die sonneblomsade in ’n pan en voeg by, gooi so 50 ml olyfolie by asook kruie.
  3. Rasper skil van suurlemoen in; behou suurlemoen vir sap. Gooi kaas by en verpulp tot als gemeng is, maar nie te fyn nie.
  4. Proe en geur met sout en peper. Sit in yskas tot opdientyd.

Nou vir opdientyd. Plaas vis op ’n mooi houtplank en druk suurlemoensap oor die vis uit. Skep lepels vol van pesto op bord en ’n lekker groot hand vol van die skyfies. Geniet!

Skelviskoekies met Oosterse doopsous

Skelviskoekies met Oosterse doopsous (Foto: verskaf)

Bestanddele

  • 1 boksie skelvisfilette
  • kapokaartappels gemaak van 3 groot aartappels
  • 1 pakkie pietersielie, gekap
  • sout en peper na smaak
  • 500 g broodkrummels
  • meel vir doop
  • 3 eiers, geklits
  • 100 ml sojasous
  • 1 rissie, gekap, met of sonder pitte
  • 1 duim grootte stukkie vars gemmer, gerasper
  • 1 sprietui gekap
  • 1 e sesamesaad
  • 1 lemmetjie se sap en skil
  • 2 e heuning
  • 2 koppe Romaine-blaarslaai
  • 2 sprietuie, fyn gesny

Metode

  1. Posjeer vis in bietjie melk tot gaar, meng vis met kapokaartappels en geur met die pietersielie, sout en peper.
  2. Gooi bietjie broodkrummels by om seker te maak dat die mengsel nie te pap is nie, maar wees versigtig om nie te veel in te gooi nie.
  3. Vorm koekies van mengsel en bedek dan met krummels deur eers in bietjie meel, dan eier, dan krummels te doop. Braai in pan of oond of selfs lugbraaier tot bros.
  4. Vir sous kan al die bestanddele saam gemeng word en in klein bakkie geplaas word.
  5. Bedien koekies in slaaiblaar-bakkies met die doopsous langsaan.
  • Vir meer resepte kyk Tiaan Proe wat elke Dinsdagaand om 21:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.