Soorte resepte:

Tuiskokke gesoek vir nuwe MKR-seisoen

David Higgs en J’Something is beoordelaars op die program. (Foto: M-Net)

M-Net is op soek na Suid-Afrika se volgende groot tuiskok vir die derde seisoen van My Kitchen Rules SA.

Dié gewilde kosprogram, waar deelnemers kook om bekende sjefs soos J’Something en David Higgs te beïndruk, is in September terug op die kassie. Die wenner van My Kitchen Rules SA sal ʼn prys van R1 miljoen wen.

Higgs, ʼn bekroonde sjef en beoordelaar op My Kitchen Rules SA, sê die Covid-19-pandemie het opnuut weer ʼn liefde vir kos en kosmaak by mense gekweek.

“Al die tyd wat Suid-Afrikaners in hul huise en kombuise deurgebring het en hul gunsteling-foodies aanlyn kon volg, het die standaarde vir die nuwe seisoen gelig,” sê Higgs.

(Foto: M-Net)

Die amateur-kokspanne sal begin met ʼn opwip-restaurant-uitdaging, waar elke span hul mededingers moet onthaal met ʼn driegangmaal met ʼn tema. Die spanne wat deurdring na die volgende ronde sal dan teen mekaar meeding in ʼn reeks uitdagings om uiteindelik die wenners te kies.

M-Net is tans op soek na eg-Suid-Afrikaanse spanne van twee met ʼn goeie verhouding en liefde vir kosmaak. Spanne kan saamgestel word deur deelnemers met enige bestaande verhouding soos ʼn eggenoot, lewensmaat, beste vriend, verloofde, buurman of familielid. Spanne kan hier inskryf. Inskrywings sluit op 30 Junie.

J’Something sê hoopvolle deelnemers moet hul persoonlikheid en vaardighede in hul inskrywingsvideo ten toon stel. “Maak ook seker jy kies ʼn spanmaat met wie jy goed oor die weg kom en saam met wie jy goed in die kombuis kan werk,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.