Soorte resepte:

Vinnige, gesonde peuselhappies vir kinders

As ma weet jy baie goed dat kinders altyd lus is om aan iets te peusel, en as hul opsies ʼn pakkie Smarties of ʼn piesang is, gaan hulle beslis die Smarties kies!

Hoewel almal kan streef om die perfekte ma te wees wat altyd gesonde, vars happies gereed het vir as die kinders kom vra (wat nog te sê oor of die kinders dit gaan wil eet!), is dit egter nie altyd moontlik nie. Ons kan darem probeer om die opsies te verbreed, sodat sjokolade en aartappelskyfies nie die enigste opsies is nie.

Noudat daar vir ʼn geruime tyd ʼn vlak van inperking in die land gaan wees, is dit ʼn goeie idee om daagliks steeds vir jou kinders ʼn kosblik te pak. Só hoef jy nie elke nou en dan aan iets nuuts te dink om vir hulle te gee nie, en jy het ook meer beheer om seker te maak hulle eet nie te veel of te min nie.

Hierdie maklike peuselhappies is maklik en vinnig om aanmekaar te slaan en dis boonop gesond om te eet.

Sjokolade-energieballetjies

Suikervrye energieballetjies (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Meng die volgende bestanddele saam en rol in balletjies. Eet dit onmiddellik of bêre vir later. Jy kan ook jou eie gunstelinge by die mengsel voeg soos sjokoladesplinters, rosyntjies, gedroogte bosbessies of gedroogte vrugte.

  • 1 k grondboontjiebotter
  • ⅔ klapper
  • ⅓ k heuning
  • ⅓ k kakao
  • ½ k sonneblomsade
  • knippie sout

Neute & gedroogte vrugte

(Foto: Pixabay)

Neute en gedroogte vrugte is goed wat lank in jou spens hou en ʼn verskeidenheid is beskikbaar.

Wanneer jy jou kind se kosblik vir die dag pak, gooi ʼn paar stukke gedroogte appel, perskes of bosbessies in saam met ʼn handjievol neute. Amandels, grondboontjies en kasjoeneute is heerlik met ʼn bietjie sout oor.

Springmielies

Springmielies (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Springmielies is maklik en vinnig en vullend! Dit is nie vreeslik voedsaam nie, maar dit sal jou kinders vir lank versadig hou. Hulle kan dit boonop sommer self vir hulself maak in die mikrogolf!

  1. Gooi ½ k springmielies in ʼn mikrogolfbak en bedek met ʼn bord.
  2. Mikrogolf 2-5 minute. Haal die springmielies uit as daar meer as 1 sekonde tussen die pop-geluide is.

Jy kan geur met sout of botter of vir ʼn ander soort smaak kan jy byvoorbeeld kaneel oor die springmielies gooi wanneer dit uit die mikrogolf uit kom.

Appel-broodjies

(Foto: Stock piling mom)

Sny appel in dun sirkels en smeer dit met jou kind se gunsteling-broodjievulsels; grondboontjiebotter, sjokoladesmeer of iets soos Marmite werk heerlik!

Vir ʼn soetigheid kan jy kaneel oor sprinkel en dit ʼn bietjie in die mikrogolf verhit.

Gevriesde druiwe

(Fotot: Pixabay)

Dit is so maklik soos dit! Haal die druiwekorrels van die takkies af en gooi dit in ʼn bakkie. Plaas dit in die vrieskas en laat jou kinders dit eet soos hulle lus kry. Dit proe amper soos ʼn ysie en het ʼn heerlike tekstuur.

Sjokolade-hawermout

Foto: Pixabay

As jou kind lus is vir iets warms in die koue winterweer, maak gewone hawermout – jy kan sommer kits hawermout in die mikrogolf maak. En roer dan kakao en/of grondboontjiebotter by. ʼn Ander variasie is om vanielje geursel, kaneel en bietjie heuning by te voeg.

Dit is ʼn maklike happie of maaltyd wat hulle lank sal vol hou en boonop gesonde hawermout as ʼn lekkerny versteek!

Gebruik sowat ½ k hawermout op 1 k kookwater vir ʼn maaltyd en ¼ k hawermout op ½ k water vir ʼn peuselhappie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.