Soorte resepte:

Resep-video: Gebakte maalvleispasta

Gebakte maalvleispasta. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Hierdie gebakte maalvleispasta is nie net heerlik nie, maar ook maklik om aanmekaar te slaan, veral as jy nie in die bui is om ʼn ingewikkelde gereg voor te berei nie. Jy kan die pasta saam met vars groenslaai bedien.

Lewer 4 porsies.

Bestanddele

  • 500 g beesmaalvleis
  • 250-350 g pastaskulpe (hang af van eie voorkeur)
  • ½ t (5 ml) olyfolie (jy kan ook kossproei gebruik)
  • 60 ml (4 e) tamatiesous
  • 45 ml (3 e) worcestersous
  • 60 ml (4 e) blatjang
  • 1 k mozzarellakaas (gerasper)
  • 1 k wit cheddarkaas (gerasper)
  • sout en peper na smaak
  • 1 glasbottel (400 g) Ina Paarman vierkaassous

Metode

  1. Verhit die oond tot 180 °C.
  2. Kook die water in ʼn ketel en gooi oor in ʼn groot pot. Gooi ʼn knippie sout by die water en kook oor ʼn hoë hitte totdat daar borrels in die water vorm. Gooi jou pasta by die water en kook tot al dente (ferm).
  3. Terwyl jou pasta kook, berei solank jou maalvleis voor. Gooi jou olyfolie in ʼn pan (of spyt die pan met jou kossproei), en stel jou plaat op ʼn middelmatige hitte. Wanneer die pan bietjie warmer geword het, plaas jou maalvleis in die pan.
  4. Geur jou maalvleis met sout en peper na smaak. Indien jy van verskillende soort speserye in jou kos hou, gooi dit gerus by. Ons gebruik net sout en peper. Gooi dan jou tamatiesous, worcestersous en blatjang by. Roer goed en laat die sous deurkook. Proe gereeld aan jou maalvleis, en voeg nog tamatiesous, worcestersous of blatjang by, indien nodig.
  5. Sodra jou maalvleis gaar is, gooi dit in ʼn oondvriendelike bak. Gooi jou gaar pasta daarby en meng die hele bottel kaassous daarby.
  6. Strooi die halwe koppies mozzarella- en cheddarkaas bo-oor jou pasta-, sous- en maalvleismengsel.
  7. Bak in die oond vir 15-20 minute of totdat die kaas goudbruin gebraai het.
  8. Bedien en geniet.

Al die Maroela-produkte wat jy in dié video sien, is in ons aanlyn winkel, Die Koöperasie, beskikbaar. Klik hier om dié mooi produkte te koop en jou kombuis in ʼn plaaskombuis te omskep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.