Agri SA sê plaaslike produksie te laag

Jaco Minnaar, president van Agri SA sê daar moet meer op plaaslike produksie gefokus word. (Foto: Du Preez de Villiers, Maroela Media)

Agri SA vra met meer dringendheid vrae aan die regering oor die toenemende probleme en uitdagings wat Suid-Afrikaanse boere in die gesig staar, wat plaaslike produksie kniehalter.

Jaco Minnaar, president van Agri, het tydens die organisasie se jaarkongres, met die tema produseer plaaslik, gesê landbouproduksie in Suid-Afrika is ver laer as wat dit kan en moet wees.

“Hoewel ons trots is op landbou se prestasies vanjaar, kan ons beter vaar. Dit is grootliks die motivering agter die Landbou- en Landbouverwerkingsmeesterplan (AAMP) wat min. Thoko Didiza vroeër vanjaar onderteken het,” sê hy.

Een van die jongste verwikkelinge wat lynreg teen die AAMP se doelstellings is, was toe die heffings op goedkoop hoenderinvoere nie heringestel is nie. Die rede was dat dit plaaslike voedselnood sou verlig, maar Minnaar het gewaarsku hoewel dit op kort termyn sin maak, gaan die langtermyngevolge vir die plaaslike hoenderbedryf rampspoedig wees.

Hy sê die pad vorentoe gaan nie maklik wees nie, en groot uitdagings lê voor. “Dit word weerspieël in die Agrisakevertroue-indeks (AKI) wat toon dat vertroue in die sektor in die tweede kwartaal van 2022 met sewe punte gedaal het.”

Hy sê boonop was die afgelope jaar ʼn onstuimige een vir die landbousektor. “ʼn Opeenvolging van krisisse het saam aansienlike ontwrigting veroorsaak. Ons het die trefslag van die Covid-pandemie op die logistiek- en die voorsieningskettings ervaar. Ons het ook ʼn toename in voedselpryse gesien weens die Oekraïne-oorlog, agteruitgang in belangrike openbare infrastruktuur soos paaie, spoor-, vrag- en elektrisiteitsonderbrekings en meer onlangs, die inflasiestygings wat tot verhoogde uitleenkoerse oor die wêreld heen gelei het.

“Ons het politieke onsekerheid en ekonomiese wisselvalligheid in Suid-Afrika ervaar, maar baie dieselfde het internasionaal gebeur.”

In die gees van ʼn ware Suid-Afrikaanse boer bly hy egter optimisties, “solank ons die omvang van die uitdagings wat voor ons staan, verstaan”.

Minnaar sê landbou het steeds ʼn goeie produksiejaar beleef te midde van die vele uitdagings. Akkerbou en die veebedryf het winsgewend gebly, en graan-, vleis- en wolpryse is steeds relatief hoog.

Tuinbou, wat hoofsaaklik op uitvoer gefokus is, het egter veral baie probleme met logistiek ervaar. “Die staking tans in die hawe help ook nie juis nie. Hierdie en ander faktore het beslis ʼn verswakking in winsgewendheid in hierdie bedrywe tot gevolg.”

Uitvoer is een van die belangrike temas in die groeiende debat oor plaaslike produksie.

“Uitvoer stel die land in staat om meer te produseer as wat nodig is, sodat ons genoeg het om plaaslik te voorsien gedurende periodes van minder produksie weens faktore soos droogtes.

“Surplusse wat uitgevoer word, help ook om die pryse van produkte op en onder uitvoerpariteit te hou, wat weer kos vir die plaaslike verbruiker meer bekostigbaar maak. Mielies is byvoorbeeld tans onder uitvoerpariteit; trouens, Suid-Afrikaanse mielies is een van die goedkoopste ter wêreld. Dit het ʼn regstreekse uitwerking op die prys van die belangrikste stapelvoedsel van Suid-Afrika, naamlik mieliemeel,” sê hy.

“Uitvoer saam met uitstekende plaaslike produksie is die hoofredes waarom Suid-Afrika voedselprysinflasie in vergelyking met die res van die wêreld kon hokslaan.”

Hy sê volgens die Wêreldbank was ons jaar-tot-jaar-voedselprysinflasie in Maart 2022 6,7%, vergeleke met 7,6% in Indië, 11,6% in Brasilië, 8,8% in die VSA en 9,6% in Europa. Dit was ʼn verligting vir verbruikers wat reeds onder finansiële druk was.

“ʼn Voldoende vryemarkprysontdekkingsmeganisme wat gekoppel is aan die Suid-Afrikaanse boer wat mededingend teen die res van die wêreld bly, sal verseker dat die Suid-Afrikaanse verbruiker voedselsekerheid sal hê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pannies ·

vryemarkprysontdekkingsmeganisme??
Jy bedoel seker vryemark prysmeganisme.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.