Die Wes-Kaapse departement van landbou het ʼn nuttige app ontwikkel om die rekordhouding, beplanning en uitreiking van permitte vir die slag van volstruise by slagpale meer vaartbelyn te maak.
Die Ostrich Slaughter Planner is einde verlede week deur die Wes-Kaapse minister van landbou, dr. Ivan Meyer, bekendgestel.
Meyer het tydens die amptelike bekendstelling gesê navorsing en nuutskeppings is belangrik om die vermoëns van die landbousektor uit te bou. “Juis daarom is gestruktureerde opleiding en onderwys een van my belangrikste prioriteite.
“Die Wes-Kaap is die trotse eienaar van die enigste navorsingsfasiliteit vir volstruise ter wêreld en spog met ʼn navorsingspan wat na die behoeftes van die volstruisbedryf luister en uitnemend is in navorsing en nuutskeppende benaderings.”
Die departement en sy span dierewetenskaplikes werk al langer as 20 jaar saam met die volstruisbedryf aan verskeie projekte en volgens die departement beteken hierdie sterk verhouding dat die regte benadering gevolg word om probleme aan te pak en oplossings te soek om die bedryf te versterk.
Dié gereedskapstuk is ontwikkel deur dr. Anel Engelbrecht, ʼn senior wetenskaplike by die Oudtshoorn-navorsingsplaas, en Arie van Ravenswaay, assistent-direkteur vir nuutskeppings, tegnologie-ontwerp en -oordrag in die program vir navorsings- en tegnologie-ontwikkelingsdienste.
Dr. Ilse Trautmann, hoofdirekteur van die program vir navorsings- en tegnologie-ontwikkelingsdienste, beskou hierdie digitale hulpmiddel as ʼn deurslaggewende instrument in volstruisboere se gereedskapstel.
“Die bedryf slag jaarliks tussen 140 000 en 160 000 voëls. Die app, wat op rekenaars en slimfone beskikbaar is, bereken al die datums wat ʼn boer nodig het vir die beweging en slag van volstruise,” sê sy.
“Hierdie nuutskeppende hulpmiddel beklemtoon die 4IR-dryfkrag (vierde industriële rewolusie) van die departement en die landbousektor en stel volstruisboere in staat om beter te beplan en ʼn vaartbelynde proses van plaas tot slaghuis te verseker.”
Meyer sê die volstruisbedryf word op R900 miljoen gewaardeer met 370 geregistreerde plase waarop 15 000 mense werk. Dit is een van die belangrikste ekonomiese aandrywers in die Wes-Kaap, veral die Klein-Karoo.