Eerste SA melkfees ooit

Die melkfees gaan op die produksie en verbruik van melk fokus. (Foto: congerdesign, Pixabay)

Die Melkprodusente-organisasie (MPO) Oos-Kaap wil die eerste melkfees wat nog ooit in Suid-Afrika gehou is, aanbied. Hierdie geskiedkundige geleentheid gaan op 23 en 24 September tussen Jeffreysbaai en Gqeberha (Port Elizabeth) plaasvind.

Anri Wolmarans, MPO Oos-Kaap se streeksbestuurder, het aan Maroela Media gesê die idee van die fees is om die melkbedryf, wat tans ook baie uitdagings moet trotseer, te bevorder.

“Ons wil die melkboer en die verbruiker bymekaar bring en die publiek opgewonde maak oor melk. Daar is ook baie inligting wat ons wil deurgee en opvoedingswerk wat gedoen moet word om die regte beeld van melk as geheel te bevorder en om ʼn toenemende aanvraag te skep,” sê sy.

Die belangstelling is groot en Wolmarans het in die eerste week reeds 40 aansoeke vir stalletjies gekry. Sy sê daar is nog baie plek en sal graag nog landboustalletjies wil nooi om hul produkte en dienste uit te stal.

Die MPO se nasionale algemene jaarvergadering (AJV) vind ook op 23 September plaas. Die AJV sal die Vrydagmiddag gehou word, maar die fees sal vanaf middagete op Vrydag tot Saterdagaand duur.

Ander trekpleisters sluit in:

  • Pretsone om die kinders heeldag besig te hou,
  • daaglikse koeimelkdemonstrasie,
  • melktert-eetkompetisie,
  • hope suiwelprodukte, kos en handwerkstalletjies,
  • gehoorsaamheid- en sekerheidsdemonstrasies deur ʼn Belgiese Malinois en ʼn Duitse herdershond, en
  • werktuiguitstalling.

Grant Puttergill, ʼn boer van Port Elizabeth, sal elke dag van sy “dames” na die fees bring om kinders van koeie en melkproduksie te leer.

Jakkie Louw tree 23 September die aand op en Altus Theart 24 September die aand ‒ albei bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars. Gedurende die dag gaan plaaslike talent ook die kans kry om besoekers te vermaak.

Wolmarans verseker voornemende besoekers dat daar genoeg verblyf beskikbaar sal wees, wat kampeerplek insluit. “Die familie kan gerus hiervan ʼn naweekgeleentheid maak,” voeg sy by.

Vir meer inligting kontak Anri Wolmarans by 064 934 3951, of stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andre ·

Uitstekend! Ek hoop dit gaan net verder uitkring em mense bewus maak.

SjN ·

Wat gaan die skoonheidkompetisie se naam dalk heet, mej Melkkanne of mev Melkkoei, mev Roomkan of Suurroom. Sal interesante beoordeel werk verg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.