Entstof teen Afrika-perdesiekte weer beskikbaar

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: StockSnap)

Die entstof teen Afrika-perdesiekte is eindelik weer beskikbaar nadat daar die afgelope ruk ʼn reusetekort ondervind is.

Die DA sê Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) het aangedui dat hy die entstof kon vervaardig en lewer aan maatskappye vir herverkoop aan perde-eienaars – net betyds vir die inentingstydperk in Junie.

“Hierdie verwikkelinge sou nie moontlik gewees het sonder die meedoënlose druk wat die DA uitgeoefen het nie,” sê Noko Masipa, die party se woordvoerder oor landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling.

Duisende mense het verlede maand ʼn petisie onderteken wat die DA van stapel gestuur het om OBP en die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling te dwing om entstowwe vir bloutong en Afrika-perdesiekte aan die private sektor beskikbaar te stel.

Hoewel verheug oor die beskikbaarheid van entstowwe, is die DA bekommerd dat dit te min te laat is.

“Die skade is gedaan, met baie perde- en skaapboere wat hul vee verloor het weens die langdurige entstoftekort,” sê hy.

“Ons doen ʼn beroep op die regering en OBP om hul bedrywighede uit te brei na alle perdeboere, veral dié in landelike dele van Mpumalanga, die Oos-Kaap en KwaZulu Natal, waar die vrektesyfer onder perde kommerwekkend hoog is.

“Hierdie boere maak baie staat op hul perde vir verskeie bedrywighede, soos vervoer en boer. Hulle speel ʼn noodsaaklike rol in die voedselstelsel vir kleinskaalse boere.”

Die DA het die afgelope twee jaar die tekort aan entstowwe herhaaldelik onder die aandag van min. Thoko Didiza gebring.

“Ondanks ons pogings was Didiza se reaksie op die saak maar power, wat ons genoop het om die petisie voor die parlement te bring.”

Die petisie het eindelik meer as 11 000 handtekeninge gekry en sal na verwagting binnekort aan die portefeuljekomitee oor landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling oorhandig word.

“Ons bly daartoe verbind om werkbare oplossings te soek om te verseker dat ons entstofvoorraad genoeg is om vee te beskerm,” sê Masipa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.