Grondwetwysiging vir Saai ‘misdaad teen die mensdom’

Dr. Theo de Jager, voorsitter van Saai. (Argieffoto)

In ʼn kommentaarstuk het Saai hom sterk uitgespreek teen die ANC se poging om die Grondwet te wysig om vir onteiening sonder vergoeding voorsiening te maak. Dié organisasie stel dit duidelik dat hy veral bekommerd is oor die buitelandse implikasies wat so ʼn verandering teweeg sal bring.

“Hierdie irrasionele poging om die Grondwet te verander is tekenend van die politieke probleme wat die party onder die kieserskorps ervaar, van die kortsigtigheid van sy leierskorps wat Suid-Afrika reeds in ’n ekonomiese moeras in bestuur het en van ’n gebrek aan insig en aanvoeling vir die internasionale gevolge vir handel, diplomatieke betrekkinge en beleggersvertroue,” sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, die netwerk vir familieboere.

“Volgens die universele verklaring van menseregte wat dit baie duidelik stel in artikel 17, mag so iets kan nie geduld word nie. Dit kom neer op ʼn misdaad teen die mensdom.”

Hy voer aan dat onteiening sonder vergoeding nêrens ter wêreld voorspoed, vrede of ekonomiese groei gebring het nie en dit sal ook nie in Suid-Afrika goeie gevolge hê nie. “Zimbabwe en Venezuela, die twee mees onlangse gevallestudies, het duidelik gewys hoe dramaties lande in duie kan stort as eiendomsreg nie gerespekteer en beskerm word nie. Die retoriek daaroor beïndruk wel die armste en swakste opgevoede gemeenskappe in diep landelike gebiede wat niks het om te verloor nie en vandaar die gevry na hul stemme.”

Die integriteit van titelaktes is nie net vir eienaars belangrik nie, dit anker ook ons landboufinansieringstelsel vir sover dit as sekuriteit vir lenings dien. Die reg om eiendom te besit is die hoeksteen van die vrye mark en word in artikel 17 van die Universele Verklaring van Menseregte as ’n onvervreembare reg beskryf.

Saai het gesê die ANC het reeds die 107-jaar oue Landbank in die grond in bestuur, waarin ’n verlies van vertroue in eiendomsgebaseerde kollateraal geen geringe rol gespeel het nie, en maak dit al moeiliker vir boere om toegang tot finansiering, beleggings en groeigeleenthede te kry.

“Saai is veral bekommerd oor die buitelandse implikasies van die ANC se gevaarlike waagstuk. In weeklikse skakeling met buitelandse regerings, ambassades, landbou-unies, joernaliste en multinasionale agentskappe soos die EU, VN, FAO en die Wêreldbank, is dit vir Saai duidelik dat die ANC die internasionale opinie oor onteiening sonder vergoeding verkeerd lees.

“Buitelandse instellings is baie goed ingelig oor die situasie in Suid-Afrika, volg die Zondo-kommissie nougeset en verstaan die verband tussen staatskaping, korrupsie, die ineenstorting van die parastatale instellings en wanbestuur.

Die wêreld het die ANC uitgevang dat hy nie oor die motiewe vir onteiening sonder vergoeding eerlik is nie. Die wêreld weet nou dat dit nie die beginsel van ’n vrywillige verkoper is wat misluk het nie, maar eerder ’n hopeloos korrupte koper.

Al probeer die ANC sy eie hoëvlak-kommissie van ondersoek na grondhervorming-verslag onder die tafel vee, is die verslag reeds wyd versprei en bestudeer.

“Buiten die kommentaar wat Saai namens familieboere oor die beoogde wysiging van die Grondwet by die parlement indien, word ’n netwerk van boere, sake-ondernemings, burgerlike organisasies, regerings en ambassades ook op hoogte gehou,” sê De Jager.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.