Hennepsaad nou in grootmaat ingevoer

Sodra daar genoeg saad in die land is sal hennepboerdery floreer. (Argieffoto)

Die eerste lisensie vir die invoer, verkoop en verspreiding van grootmaat hennepsaad is aan Hemp Seed Solutions, ʼn filiaal van Hemp Solutions, toegeken.

Hemp Solutions is primêr ʼn aankoper van rou hennep wat dit in bruikbare vesel en skyfies (“hurd”) verwerk voordat dit aan heelwat sektore soos die tekstiel-, konstruksie-, papier-, mynbou-, motor-, troeteldier- en mediese bedryf verskaf word.

Dié onderneming produseer ook hennepsaad en bied konsultasiedienste aan die Suid-Afrikaanse hennepbedryf.

Volgens Hemp Solutions is daar 50 000 gebruike van hierdie plant geïdentifiseer, maar in Suid-Afrika word daar baie min verbruikersprodukte vervaardig, hoofsaaklik weens ʼn tekort aan rou hennep en die hoë koste om hennepvesel, -skyfies en -saad in te voer.

“Met die herklassifisering van hennep as ʼn landbougewas het daar baie geleenthede ontstaan om ʼn hennep-ekonomie in Suid-Afrika te vestig,” sê Marianne Brown, direkteur van Hemp Seed Solutions.

“In die primêre bedryf is ongeveer drie mense nodig om een hektaar op kleinskaal te bedryf en in ʼn kommersiële boerdery, waar meganisasie en outomatisering toegepas word, sal die aantal werkers minder wees.”

In die sekondêre bedryf lyk sake ook baie aanloklik. “Namate rou hennep oor die volgende paar jaar meer beskikbaar sal word, sal daar baie geleenthede wees vir entrepreneurs en maatskappye om produkte te ontwikkel en goedere in die mark te plaas, waarvan baie nog nie in Suid-Afrika beskikbaar is nie.”

 

Hennepsaad word by die dag waardevoller. (Foto: Verskaf)

 

Haar vooruitskatting is dat Hemp Seed Solutions oor die volgende vier jaar 2 000 ha se gedroogte hennep per jaar sal benodig, wat tussen 1 000 en 6 000 werksgeleenthede kan skep.

“Voordat enigiets egter kan gebeur benodig boere hennepsaad en ons het uitgebreide marknavorsing oor baie saadvariëteite uit die VSA, Pole, Australië, China, Malawi en Europa gedoen en uiteindelik variëteite uit Europa gekies,” vertel sy.

Die eerste bestelling van 12 ton saad behoort binne die volgende paar maande in Suid-Afrika beskikbaar te wees.

“Dit was baie maande se harde werk om ʼn hennepsaadbank te vestig en al die nodige permitte en doeaneklarings te bekom, om in ʼn posisie te wees waar ons binnekort saad aan die plaaslike mark kan voorsien,” sê Brown. “Ons sien baie uit om volhoubare landbou en werkskepping in Suid-Afrika te bevorder.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Frank ·

Nou hoekom Hennep saad en nie Hemp saad nie? Te anglisisties?

annie ·

… kan maar hemp heet want Brittanje staan weer, soos altyd, aan die spits van die ‘grootste’ bedryf ter wêreld in Afrika soos Britte in die FBI spook om die Russiese rykdomme ok te hê. Enige plant met 50 000 nuttige aanwendings is te erg om waar te wees… Brood van hennepmeelblom met hennepbotter en hennepkonfyt plus ‘n snytjie groen hoendervleis (gevoer met hennep-voermeel) + hennepslaai + henneppoeding + henneproomys + hennepkitskoffie geëet by Henneppia-restaurant… betaal met groenes van henneppapier en hennepdrukkersink. Totaal gehemp!

johan ·

Net jammer die banke wil geen finansiering gee om daarmee te boer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.