John Purchase groet Agbiz

Dr. John Purchase het na 14 jaar by Agbiz, bedank. (Foto: Agbiz)

Ná 14 jaar aan die stuur van die landbousakekamer, Agbiz, het dr. John Purchase besluit om uit te tree. Hy sê hy gaan nie heeltemal aftree nie, net sy aktiwiteite afskaal en steeds tot ʼn mate in die bedryf betrokke wees.

Theo Boshoff, wat reeds by Agbiz werksaam is, is as die nuwe uitvoerende hoof aangewys en begin op 1 Januarie in hierdie hoedanigheid.

Nadat Purchase as uitvoerende hoofbestuurder by Graan SA bedank het en in 2007 by Agbiz aangesluit het, het hy die moeilike taak op hom geneem om oor die hele sektor en veral met die regering bande bou, terwyl hy hul destruktiewe beleid moes teenstaan.

As wetenskaplike wat sy loopbaan by die Landbounavorsingsraad (LNR) begin het, glo hy dat navorsing, veral waar dit gedrewe is deur bedryfsbehoeftes, baie belangrik is en dat dit tot boere se winsgewendheid en produktiwiteit bydra.

Deur sy loopbaan het op ʼn aantal rade gedien, soos die Land en Landboubank van Suid-Afrika. Hy het ook leierskapposisies by die Mielietrust, die Raad van die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdienste (SAGIS), die Handels- en Nywerheidskamer van Nedlac, die Ekonomiese Beleidskomitee van sake-eenheid Suid-Afrika (Busa), die internasionale voedsel en landbousakebestuursvereniging (IFAMA) en die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR) beklee.

Hy is plaaslik en internasionaal erken vir sy rol in die landbou. In 2011 het hy die alumnus van die jaar toekenning by die Universiteit van die Vrystaat ontvang en in 2012 het die landbouskrywers hom as landboukundige van die jaar aangewys. In 2021 het die Voervervaardigersvereniging (AFMA) hom as persoon van die jaar aangewys.

Die buiteland was ook baie beïndruk met sy toewyding en harde werk en die Franse regering het hom in 2018 tot ridder geslaan en die orde van landboukundige meriete is aan hom toegeken.

Hy het egter nooit sy wortels vergeet nie. “Die Agbiz-span is ʼn uitsonderlike groep mense en ek het die mees buitengewone reis en voorreg gehad om hulle te lei. Ek het ook volle vertroue in hul vermoë om die landbousakesektor deur vele uitdagings, wat hulle ongetwyfeld in die gesig sal staar, in die regte rigting te stuur.

“Ek wil die lede van Agbiz opreg bedank, eerstens almal in leiersposisies, vir hul onwrikbare ondersteuning deur my ampstermyn. Dan wil ek ook die Agbiz-personeel bedank vir hul ongelooflike toewyding om lede en die breër bedryf te dien in die bou van ʼn groeiende, mededingende, meer inklusiewe en volhoubare bedryf. Dit moes dikwels in stormwinde soos beleidsonsekerheid, diensleweringsmislukkings, natuurrampe soos fel droogtes en biosekuriteitsuitdagings gedoen word.

“As burgers van hierdie land word ons deur buitengewone uitdagings in die gesig gestaar, maar ons moet voortgaan om sosiale samehorigheid te versterk en die mededingendheid van al ons landbouwaardekettings te bou, deur gesonde en respekvolle vennootskappe.”

Hy waarsku dat versuim om dit te doen, ons ongetwyfeld tot ʼn mislukking sal doem en ernstige nagevolge sal inhou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.