Jong boere moet hoekpale in gemeenskappe wees

Van TLU SA se jong boere wat die konferensie in lewende lywe bygewoon het, is Floris Booysen, komiteelid; Jacques Fourie; Christo Smit; Jacques Moller, Juanita du Preez, bemarkingskonsultant vir TLU SA; Henna du Plessis, voorsitter, en Danie Bester, TLU SA Jong boer van die jaar 2020.

TLU SA se jong boere het gister ʼn paar innoverende planne op die tafel gesit tydens die jaarlikse konferensie wat in persoon en via ʼn webinaar bygewoon is. Die wenner van TLU SA se Jong boer van die jaar het ook van sy ervaring vertel en ander boere aangemoedig om in te skryf vir die volgende kompetisie.

“ʼn Jong boer- kompetisie gaan nie oor wie se trekkers die grootste is of wie die skoonste bakkie het nie,” sê Danie Bester wat as TLU SA se Jong boer van die jaar aangewys is. Danie (36) boer al sedert 2005. In 2011 het hy die familieplaas oorgeneem en boer nou met mielies en sojabone op Rietbult buite Balfour. Hy is ook ʼn gereelde wenner van verskeie opbrengskompetisies.

TLU SA se Jong boer- kompetisie is al amper drie dekades oud. Dit behels ʼn omvattende evaluering van sy of haar bedrywighede, wat finansiële bestuur, gemeenskapsbetrokkenheid en arbeidsverhoudinge insluit.

“Al die aspekte van jou boerdery word geëvalueer en jy word beoordeel vir dit waarvoor jy verantwoordelik is. Dit bied jou ook ʼn gulde geleentheid om jouself aan die norm te meet. Die mense met wie ek tydens hierdie beoordeling in kontak gekom het, was so innoverend. Jy moet sulke mense ontmoet om te weet of jy op die regte pad is,” sê hy.

Bester is ʼn groot ondersteuner van presisielandbou en kan met gesag oor die onderwerp praat. “Hoewel dit intimiderend en moeilik verstaanbaar kan wees en die tegnologie en toerusting ʼn duur kapitaaluitgawe is, is dit die roete om op die duur winsgewend te bly. Boere moet in rand en sent dink.”

Henry Geldenhuys is president van TLU SA; Danie Bester is TLU SA se Jong boer van die jaar en Bennie van Zyl is die hoofbestuurder van TLU SA.

Danie het ʼn oorsese reis gewen, geborg deur Manitou, asook ʼn kontantprys van R25 000. Die ander borge van die kompetisie was Santam, CMH Ford Hatfield en Introlab.

TLU SA se jong boere dink ook deurlopend nuut om die uitdagings in die landbou die hoof te bied.

“Die jaar was moeilik vir ons komitee en daar was baie negatiwiteit in die lug, nie net in landbou nie, maar oor die hele Suid-Afrika. Aangesien Kragdag en Nampo nie gerealiseer het nie, was dit moeilik om die broodnodige interaksie met mekaar en ander rolspelers te hê, maar Covid-19 het ons nie onder gekry nie,” sê Henna du Plessis, wat weer as voorsitter van TLU SA se Jong boer- komitee verkies is.

Buiten hulle bestaande traumafonds en biltongprojek wat steeds sterk loop, wil Du Plessis ook die volgende aksies van stapel stuur:

Hy moedig jong boere aan om te diversifiseer, maar omdat dit aanvanklik duur is, moet hulle met megaboere in kontak kom en vra of hulle hul ou spesialiswerktuie kan bekom om sodoende ʼn hupstoot te kry. Volgens hom kan megaboere die hulprol vervul wat die regering nie nakom nie.

Du Plessis glo ook in netwerke. “Ons moet kanale oopmaak na jong mense wat wil boer, maar nie kan nie en dan na ander lande gaan om hul drome daar uit te leef.

Hierdie jong mense moet ondervinding hê en ons kan hulle leer voordat hulle oorgaan.

“Ons moet hulle eerstens help deur hulle op ons plase te huisves om hulle aanvanklike blootstelling te gee. As hulle met vakansies terugkom moet ons weer met hulle skakel om nuwe tendense aan te leer.”

Du Plessis wil ook kommunikasie en interaksie met ons buurlande se jong boere stimuleer. “Hulle het nie sulke gevestigde strukture soos TLU SA om hulle te help om te funksioneer nie. Ons moet met hulle kommunikeer en raad gee om ons netwerk op te bou en te versterk.

“Die regering besef dat hulle nie sonder landbou kan klaarkom nie. Hoewel hulle dit nie sal erken nie, is dit vir hulle van kardinale belang om ons boere in Suid-Afrika te hê.”

Henry Geldenhuys, president van TLU SA, het sy ondersteuning aan die jong boere se bedrywighede beklemtoon en gesê dat ʼn jong boer die regte hoekpaal in sy gemeenskap moet wees. “Jy kry hoekpale van hout, yster en beton en elkeen het ʼn eiesoortige doel en plek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.