Jongboere moenie op ʼn eiland boer nie

Die lede van die nuwe Jongboerkomitee is Miekie Genis, bykomende lid; Floris Booysen, ondervoorsitter; Neels Uys, voorsitter; Jacques Fourie, bykomende lid en Heinrich Roos, bykomende lid. (Foto: Du Preez de Villiers)

ʼn Oproep tot deelname en betrokkenheid te midde van die taai boerdery-omstandighede wat tans in Suid-Afrika heers, is tydens die TLU SA Jongboerkonferensie op jong boere gedoen.

Die jaarlikse geleentheid is op die Voortrekkermonument se terrein aangebied.

“Boere se uitdagings is baie en groot, maar georganiseerde landbou is noodsaaklik om die uitdagings die hoof te bied,” sê Henna du Plessis, uitgetrede voorsitter van TLU SA se Jongboerkomitee.

“Boere kan nie sonder ʼn organisasie soos TLU SA voortbestaan nie. Jy is nie ʼn eiland op jou eie nie. Ons is hier om hande te vat, betrokke te raak en hierdie been sterker te maak. TLU SA is al 125 jaar oud en bly steeds op sy oorspronklike pad en as jy aansluit, is jou toekoms in landbou verseker. Hy is standvastig en openlik oor sy beleid.”

Henna du Plessis, die uitgetrede voorsitter van TLU SA se Jongboerkomitee, doen ʼn beroep op jongboere om by dié organisasie aan te sluit. (Foto: Du Preez de Villiers)

“Inderwaarheid is daar nie meer ʼn manier wat ons Afrikaners sonder sulke instansies kan voortbestaan nie. Ek weet dit is ʼn uitdaging om hier te sit, daar is werk om te doen, rekeninge moet betaal word en die hoë diesel- en kunsmispryse bied talle uitdagings.”

Hy het ʼn vergelyking tussen die Voortrekkermonument en die voortbestaan van landbou getrek. “Toe ek hier inry en die monument sien wat al 73 jaar oud is en vir ons as Afrikaners gebou is, het ek besef dat ons voorvaders dit vir ons gedoen het met ʼn fokus op die toekoms.

“Hierdie monument wat hier staan, is onaangetas, maar Suid-Afrika brand. Die plattelandse paaie word toegemaak of is vervalle en ons sukkel om ons graan by die koöperasies te kry. Die banke bel om hul geld te vra en hulle verstaan nie dat ons nie deur die padblokkades en stukkende paaie kan kom nie.

“Daar word daagliks van ons gesteel, die uitdagings is groot en die druk op jongboere is fel. Daar word ook kort-kort uitlatings gemaak dat ons die grond gesteel het.

“Onthou, die beloning wat TLU SA sal uitreik as iemand kan bewys dat ons grond gesteel het, staan steeds.

TLU SA se jongboere het by die Voortrekkermonument vergader vir hul jaarlike kongres. (Foto: Du Preez de Villiers)

“Maar ek wil vir julle vra, net soos die monument hier onaangetas is, sal jy op jou plaas onaangetas bly. Dit is jou grond en dit is jou werk en jou plig om te verseker dat jy daai grond wat vir jou gegee is, benut. Dit is nou jou beurt nadat daardie eerste lande deur jou pa of jou oupa op die plaas oopgekap is.

“Onthou, landbou in Suid-Afrika stop nie by jou nie. Dit gaan aan jou nageslag oorgedra word en of die regering dit nou wil weet of nie, landbou is die enigste ekonomiese bedryf wat Suid-Afrika weer gaan terugbring waar die land moet wees.”

Dawie Brits, TLU SA se vorige jongboer van die jaar, het gesê dié kompetisie was ʼn onvergeetlike ervaring.

“Dit was een van die beste ondervindinge van my lewe. Diegene wat nog nie ingeskryf het vir die 2022-Jongboerkompetisie nie, maak sommer vandag nog so! Ek het baie geleer in die proses en om in te skryf, was definitief tot voordeel van my menswees en boerdery,” sê hy.

Dawie Brits, TLU SA se vorige jongboer van die jaar, sê jy sal nie spyt wees as jy vir dié kompetisie inskryf nie.(Foto: Du Preez de Villiers)

Jy kan hier inskryf vir TLU SA se Jongboerkompetisie.

Die nuutverkose lede van 2022-2023 Jongboerkomitee is Neels Uys, voorsitter; Floris Booysen, ondervoorsitter en die drie bykomende lede van die dagbestuur is Heinrich Roos, Jacques Fourie en Miekie Genis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.