Kleingraan is Graan SA-wenner se passie

Pieter de Jager met sy vrou, Marié, is as Graan SA se boer van die jaar aangewys. Derek Mathews, voorsitter van Graan SA en Christian Giesel, interim-besturende direkteur van Syngenta Suid-Afrika deel in die egpaar se vreugde. (Foto: Du Preez de Villiers)

Graan SA se boer van die jaar hou sy familie se naam hoog op hul plaas in die Wes-Kaap en plant – al sê die omgewingskenners ook wat.

Pieter de Jager is ʼn vierde geslag- boer op die plaas Wiehmansfontein naby Albertinia tussen die Langeberge en die see.

Hy het landboubestuur cum laude geslaag en in 2003 by die familieboerdery aangesluit. Aanvanklik het sy pa met vee geboer, maar De Jager sê graan het hom geprikkel en vandag bestaan 80% van die boerdery uit koring, kanola, radyse en lupine en die res steeds uit veeboerdery.

De Jager beskou grondbewaringspraktyke in dié gebied as uiters belangrik. Oor die jare het hy oorgeskakel na geenbewerking wat ʼn positiewe invloed op sy grondgesondheid het.

“Op ons plaas se hoë-risikogrond laat ons die vee wei op lang rotasielusern as ʼn permanente gewas. Op ons laerisikogrond pas ons ʼn kort rotasie toe waar ons grootliks kanola en koring verbou. Daar kry ons dit reg om jaar na jaar ononderbroke kontantgewasse te plant sonder ʼn rus- of oorlê-fase.”

Ondanks die gebied se moeilike klimaat kry de Jager dit reg om tot 3,5 ton/ha op sy beste gewasse af te haal.

Die plaas beskik ook oor natuurlike en aangeplante weiding en sy broer, André, is tans die veeboer in die familie wat primêr merino’s vir wol en vleis produseer, asook Brangusse vir speenkalwers.

Pieter dien reeds vir 20 jaar op die plaaslike landbouvereniging en verteenwoordig die distrik op verskeie oliesaadplatforms.

Die ander finalis vir die benoeming vir Graan SA se boer van die jaar was Andries Els van Bothaville wat mielies, sojabone en sonneblom verbou en wat ʼn mielie-opbrengs van 8 ton p/ha op droëlande het. Hy het ook ʼn vark-, wild-, bees en skaapvertakking.

Kategorie-toekennings

In die bestaansboerkategorie vir boere wat 1 ha tot 3 ha verbou het Busisiwe Porta Msibi met die louere weggestap. Sy boer buite Volksrust as ʼn lid van ʼn gemeenskapseiendomsvereniging wat hulpbronne soos landbouwerktuie gesamentlik gebruik. Die afgelope seisoen het sy 3 ha se mielies en 0,5 ha se droëbone verbou.

Nkosinathi Hadebe het die kleinboer-kategorie gewen vir boere wat op 4 ha tot 49 ha boer. As ʼn opgeleide polisieman het hy later by sy ouers leer boer en verbou hy tans 15 ha mielies op die kommunale grond net langs die Osizweni-buurt in Newcastle. Hy gebruik sy eie toerusting en het in 2019 by Graan SA se plaaslike studiegroep aangesluit. As deel van boer wees, is een van sy grootste uitdagings om misdaad in sy gemeenskap te bekamp. Hy boer ook op 250 ha se weiding vir sy beeste.

Philani Khoza van Bergville in KwaZulu-Natal is Graan SA se potensiële kommersiële boer van die jaar. In dié kategorie moet jy meer as 49 ha verbou en tot 250 ton lewer. Khoza het by die landboukollege op Mooirivier landboubestuur studeer en ook op kommersiële plase gewerk. In 2014 het hy by Graan SA aangesluit en verbou hy sojabone en mielies op 83 ha. Verder huur hy ook kommersiële grond buite Bergville.

William Raphoto van Lichtenburg is as die nuwe era kommersiële boer van die jaar aangewys in die kategorie waarin jy meer as 250 ton per jaar moet lewer om te kwalifiseer. Hy het veekunde studeer en sy pa was ʼn groot boer in die distrik, wat die familieboerdery uitgebrei het. Raphoto boer op 210 ha van sy eie grond en huur ook 300 ha waarop hy sojabone en mielies roteer.

 

Die vier kategoriewenners met hul gades en borge. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Die toekennings is deur Absa, John Deere Finansies en Landbank geborg.

Inspirasietoekennings

Inspirasietoekennings is aan twee individue wat baanbrekerswerk in Suid-Afrika se graanbedryf gedoen het oorhandig.

Dr. Rene Prins, hoof van Cengen, is vereer vir haar maatskappy se bydrae tot plantteling in een van die modernste genetiese manipulasiefasiliteite ter wêreld.

Cengen se span pas DNS-tegnologie en kloningstegnieke toe om deurlopend siekteweerstandige koring- en garskultivars te ontwikkel en word internasionaal hoog geag met die diens en nuutskeppings wat aan die wêreld gebied word.

 

Richard Krige, ondervoorsitter van Graan SA; dr. Rene Prins, hoof van die maatskappy Cengen en Derek Mathews, voorsitter van Graan SA. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Jack Human is postuum vereer vir die bewaringslandbou-stelsels wat hy uit Australië ingevoer en op sy plaas in die Suid-Kaap toegepas het. Die omliggende boere was eers skepties, maar vandag word dit regoor Suid-Afrika toegepas.

Hy het van al sy ploeë ontslae geraak en biologiese en natuurlike prosesse toegepas om sy grondvog en -gehalte te verbeter. Verder het hy ook beter planters ingespan om in hierdie omstandighede ʼn beter werk te verrig.

 

Richard Krige, ondervoorsitter van Graan SA, Jacobus Human, sy vrou Joanne en Derek Mathews glimlag breed terwyl Jack Human se toekenning oorhandig word. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.