Landbou gaan gebuk onder tekort aan glifosaat

Onkruidbeheer is wêreldwyd ‘n uitdaging weens die tekort aan glifosaat. (Foto: Maroela Media)

Deur Shane Rudolph, hoof van navorsing en ontwikkeling: Agri Enterprises

Die wêreldwye glifosaatverskaffingsketting is die afgelope tyd deur ʼn reeks terugslae (sommige opspraakwekkend) getref, wat gewasprodusente onder geweldige druk geplaas het.

Daarbenewens moes Suid-Afrikaanse boere ʼn paar bykomende ontwrigtings trotseer.

Gewasprodusente is al gewoond daaraan dat hulle deurlopend blootgestel word aan verskeie eksterne faktore wat voedselproduksie en -sekerheid direk beïnvloed. Talle produsente moet dus risikoverminderingsmaatreëls tref om suksesvol te boer.

Die krisis in die glifosaatbedryf het hulle egter ʼn stywe uitdaging besorg.

Onkruidbeheer, ʼn versagtende maatreël, is noodsaaklik in gewasproduksie, aangesien onkruid met gewasse meeding om lewensbelangrike hulpbronne soos water, voedingstowwe en koolstofdioksied. Tussen 26% en 40% van die wêreld se potensiële gewasproduksie gaan jaarliks ​​verlore weens onkruid, siektes en plae, aldus die Verenigde Nasies se voedsel- en landbouprogram (UNFAO).

Chemiese onkruiddoders is vroeër jare ontwikkel om boere te help om hul doeltreffendheid te verhoog en gewasse teen skadelike onkruid te beskerm.

In 1971 is glifosaat op die mark geplaas en het ʼn toonaangewende onkruiddoder geword wat vir boere steeds ʼn bekostigbare en doeltreffende oplossing vir onkruidbestryding bied. Intussen het heelwat maatskappye die produk as ʼn basis in verder formulerings gebruik.

Wêreldwyd word glifosaat slegs uit die VSA deur Bayer (wat die voormalige vervaardiger, Monsanto, bekom het) en China verskaf. China hou 60% van die wêreldwye glifosaatvoorraad.

In April vanjaar het die Syngenta-groep China amptelik hul strategiese samewerking met die Hubei Xingfa Chemicals Group aangekondig, wat dié maatskappy nou ʼn mededingende voordeel bied vir die verkryging van die belangrikste generiese kunsmatige intelligensie (AI). Die belangrikste voordeel is dat Xingfa oor ʼn fosfaatbron van 446 miljoen metrieke ton beskik.

 

Omstrede maar doeltreffend

Glifosaat word deur sommige as kankerwekkend beskou en loop onder fel kritiek deur, maar dit is deurslaggewend in die produksie van mielies en sojabone, wat ʼn stapelvoedsel en belangrike proteïenbron vir die mense in Afrika is.

Die Universiteit van Göttingen in Duitsland het bevind dat ʼn tekort aan glifosaat ʼn opbrengsverlies van 4% tot 15% reg oor die wêreld tot gevolg kan hê.

Buite China is Bayer die grootste vervaardiger van glifosaat en het in 2019 $5,6 miljard bewillig om alternatiewe vir glifosaat te vind en te ontwikkel, maar daar kon geen alternatiewe geïdentifiseer word nie. Weens aktivistiese druk het Bayer glifosaat uit huishoudelike produkte van die mark af verwyder, maar weens sy onmisbare rol het hulle nie aan die formule vir die professionele en landboubedryf verander nie.

 

Shane Rudolph

Shané Rudolph is die hoof van navorsing en ontwikkeling by Agri Enterprises (Foto: LinkedIn)

 

Ramp op ramp

In Suid-Afrika het die gebruik van glifosaat vanaf 1999 tot 2010 met 20% per jaar toegeneem. Die volgende voorvalle het egter gelei tot ʼn tekort in die aanbod en derhalwe ʼn voortdurende styging in die prys van glifosaatprodukte:

  • Februarie 2020 – China stel strenger regulasies vir hul glifosaatbedryf in, wat weens paniekaankope ʼn styging in glifosaatpryse veroorsaak. Die pryse styg van $3/kg tot $3,21/kg.

 

  • Julie 2020 – ʼn Kitsvloed in die Yang-Tze-rivier ontwrig die produksie van glifosaat, wat alle landbouchemiese-ondernemings regstreeks raak. Die prys het voor hierdie voorval verlaag en gestabiliseer, maar styg daarna tot $3,08/kg

 

  • Januarie 2021 – Die Hubei-provinsie in China, waar glifosaat geproduseer word, stel ook strenger regulasies vir die bedryf in. Die pryse styg tot $4,56/kg.

 

  • Februarie 2021 – Die elektrisiteitstekort in Texas weens ernstige winterstorms beïnvloed Bayer se vermoë om glifosaat te vervaardig. Die prys styg tot $4,65/kg.

 

  • ‘n Tekort aan vraghouers het internasionale tekorte tot gevolg en pryse verder verhoog.

 

  • In Julie 2021 het die prys van glifosaat tot $8/kg gestyg met ʼn verwagte voortdurende styging in die prys.

 

Die stabiliteit van die glifosaatmark is onseker en daarom is die identifisering van alternatiewe oplossings noodsaaklik. Daar is egter geen ander onkruiddoder wat so doeltreffend soos glifosaat is nie.

Suid-Afrika is baie afhanklik van die invoer van glifosaat uit China. Bogenoemde gebeure, tesame met ʼn tekort by verskaffers, het ʼn direkte invloed op plaaslike boere. Hulle word egter nie net deur internasionale gebeurtenisse geraak nie, maar ook deur dit wat plaaslik gebeur het.

Die volgende het sake noemenswaardig beïnvloed:

  • Die politieke onrus en plundering in KwaZulu-Natal het gelei tot die vernietiging van die chemiese reus UPL se depot, ʼn verspreider van glifosaatprodukte, wat tot die tekort in Suid-Afrika bygedra het.

 

  • Vertragings en die voortdurende styging in die prys het prysformulering vir insetverskaffers onmoontlik gemaak, wat veroorsaak dat kopers nie die koste van glifosaat kan bepaal voordat dit die Suid-Afrikaanse kus bereik nie.

 

  • Die wanprestasie van die Landbank het ʼn likiditeitsgaping in die Suid-Afrikaanse landboubedryf veroorsaak. Die gevolge van die gaping sal lei tot hoër insetkoste, grootskaalse konsolidasie en likiditeitsdruk. Vir produsente om toegang tot insette te verkry, word daar nou na insetverskaffers gekyk om kredietfasiliteite te bied om die gaping in die mark te oorbrug.

Die beskikbaarheid van glifosaat vir toekomstige produksie is onseker, wat landbou in Suid-Afrika in gevaar stel. Weens die beperkte beskikbaarheid sal slegs kommersiële, gevestigde boere toegang daartoe kan kry. Klein tot mediumgrootte boere sal nie die hoë pryse kan absorbeer nie, wat ʼn direkte impak op voedselsekerheid het.

 

Samevattend

Op kort termyn styg pryse tot 30% aan die insetkant, wat geweldige druk op die produksie van stapelvoedsel plaas. Finansiële druk word derhalwe deur die hele waardeketting na die finale verbruiker verskuif.

Insetkoste word ʼn ernstige finansiële belemmering vir produsente, wat ʼn inkrimping in uitsette en derhalwe voedselprysinflasie in uiterste gevalle tot gevolg het.

China wurg moontlik hul chemiese ondernemings wat landbouchemikalieë se beskikbaarheid en prys beïnvloed.

Wat die saak vererger, is dat Suid-Afrika se uitdagings op eie bodem, soos om opkomende landbou op die been te bring, deur hierdie wêreldwye gebroke ketting vererger word.

Rolspelers in die bedryf moet nou voorspellende analises maak en dié kennis aan produsente oordra om invloede soos prys en beskikbaarheid te probeer mitigeer.

Die einddoel is dat dit ʼn stabiliserende uitwerking op die voedselwaardeketting moet hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Miskruier ·

Dus neem indringerplante weer oor, ek is moeg gesukkel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.