Nampo op koers

Na twee jaar kan Graan SA nie meer wag om Nampo Park se hekke vir die publiek oop te maak nie. (Foto: Du Preez de Villiers)

ʼn Sug van verligting het onder Graan SA se geledere opgegaan nadat die aangepaste vlak 1-regulasies afgekondig is. Pres. Cyril Ramaphosa het vroeër die week aangekondig dat byeenkomste voortaan toegelaat sal word met ʼn maksimum van 50% van die venue se kapasiteit, binne én buite.

Derhalwe kan Graan SA voortgaan om die 2022-Nampo-oesdag, vanaf 16 tot 20 Mei, teen die helfte van Nampo Park se kapasiteit aan te bied.

“Dít sal die 54ste Nampo-oesdag wees wat beplan word om vir die eerste keer oor vyf dae aangebied te word, om voorsiening te maak vir die verminderde kapasiteit. Die allernuutste tegnologie, masjinerie, nuutskeppings en produktiwiteitsoplossings sal alles weereens op een platform ten toon gestel word,” sê dr. Dirk Strydom, Graan SA se hoof vir bemarking, Nampo en navorsingskoördinering.

“Die 2022-tema, ‘Beleef dit!’, is ʼn uitnodiging aan die landboubedryf en die breë publiek om die grootste landbouskou in die Suidelike Halfrond eerstehands te ervaar.

Hy sê Nampo-oesdag was nog altyd ʼn aanwins vir die landbou en sy mense en dit sal goed wees om almal terug te verwelkom na dié landbou-vertoonvenster ná die twee jaar lange ontwrigting.

Graan SA het aangedui dat hy daartoe verbind is om toepaslike en noodsaaklike maatreëls en aksieplanne in te stel rakende die vereistes van die regering.

“Die gesondheid en veiligheid van besoekers, uitstallers, personeel, borge en die hele landbougemeenskap bly uiters belangrik,” sê dr. Pieter Taljaard, uitvoerende hoofbestuurder van Graan SA. “Ons sal verder gelei word deur huidige beste praktyke, om te verseker dat alle toepaslike en vereiste gesondheids- en veiligheidsmaatreëls geld.”

Toit Wessels, assistentbestuurder van Nampo, sê daar is wel voorwaardes aan ʼn besoek verbonde. “In ooreenstemming met die nuut aangekondigde regulasies sal ons slegs besoekers verwelkom wat aan die huidige vereiste Covid-19-regulasies voldoen. Dit behels dat ʼn besoeker ten volle ingeënt en in besit van ʼn geldige inentingsertifikaat is, of ongeënt is, maar in besit van ʼn geldige sertifikaat van ʼn negatiewe Covid-19-toets, wat nie ouer as 72 uur is voordat hy of sy by die park opdaag nie.”

“Soos met die voor-Covid-19-jare sal Nampo ʼn broodnodige inspuiting aan die plaaslike ekonomie bied, met baie kleinsake-eienaars wat sterk staatmaak op die moontlike inkomstestroom. Verder moet die ekonomiese belangrikheid vir die korporatiewe, medium- en klein ondernemings van oor die hele Suid-Afrika, wat aan die skou deelneem, nie onderskat word nie.”

Selfs te midde van die onsekerheid is elke stalletjie bespreek.

Die Nampo-bestuur het aangekondig dat hulle die toegangsfooie dieselfde as in 2019 sal hou, terwyl die skou een dag langer sal wees. In samewerking met TicketPro sal slegs aanlyn kaartjieverkope in die eerste week van April beskikbaar wees.

Besprekings vir die tentehotel op die noordelike grens van die park is reeds oop en verdere inligting rakende Nampo kan hier verkry word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.