Sport, toerismebedryf juig oor verslapte regulasies

(Foto: Pixabay/Pexels)

Hoewel die ramptoestand wat na aanleiding van die Covid-19-pandemie ingestel is steeds nie opgehef is nie, is die verslapte regulasies wat pres. Cyril Ramaphosa Dinsdagaand aangekondig het, wyd verwelkom, veral uit sportgeledere en die gasvryheidsbedryf.

SA Rugby (Saru) het die regulasies oor die getal mense wat byeenkomste kan bywoon, verwelkom en sê sy venues kon twee jaar laas ʼn geleentheid met ʼn onbeperkte skare aanbied.

“Dit bring groot verligting vir ons sport,” sê Mark Alexander, president van Saru.

“Dit was twee ongelooflike taai jare vir ons spanne en ons sien daarna uit om meer mense terug in stadiums vir alle vlakke van die sport te verwelkom – van die Vodacom Verenigde Rugbykampioenskap en die Carling Curriebeker, tot klubvlak.”

Ramaphosa het gisteraand gesê byeenkomste word voortaan toegelaat met ʼn maksimum van 50% van die venue se kapasiteit, binne en buite. Diegene wat ʼn byeenkoms wil bywoon, moet wel ʼn bewys van inenting toon, of ʼn PCR-toets wat nie ouer as 72 uur is nie.

Alexander sê daar is van Julie vanjaar niks minder nie as ses Springboktoetse waarna aanhangers kan uitsien. “Dit sal fantasties wees om die Bokke weer vir die eerste keer sedert 2019 voor ʼn behoorlike skare te sien uitdraf.”

Volgens hom is daar ʼn groot behoefte onder mense om groot rugbygeleenthede weer met vriende en familie te deel.

Die toerismebedryf het ook die verslapte regulasies verwelkom.

David Frost, hoof van die Suider-Afrikaanse Toerismedienstevereniging (Satsa) sê daar is ʼn klein geleentheid om internasionale reisigers weer na Suid-Afrika terug te lok sodat die lang en moeisame herstelproses begin kan word.

Nog een van die veranderings wat Ramaphosa aangekondig het, is die skrap van ʼn verpligte PCR-toets vir reisigers wat teen die koronavirus ingeënt is.

“Die vereiste vir ʼn PCR-toets vir internasionale reisigers wat ten volle ingeënt is, was ʼn groot afskrikmiddel vir inkomende reise, veral vir dié reisigers wat Suid-Afrika as ʼn sentrum gebruik waardeur hulle reis om naburige bestemmings, soos die Victoriawaterval, te besoek.”

Internasionaal het talle lande reeds weggedoen met die PCR-vereiste vir ingeënte reisigers. Kommer het geheers dat Suid-Afrika se gesloer met die besluit sal beteken dat dit minder aanloklik en toeganklik as toerismebestemming kan wees.

Die Gasvryheidsvereniging van Suid-Afrika (Fedhasa) het ook die besluit oor PCR-toetse verwelkom. Rosemary Anderson, nasionale voorsitter, sê toeganklikheid speel ʼn geweldige groot rol wanneer reisigers op ʼn bestemming besluit en die PCR-toets was ʼn groot struikelblok. Nie net is dit duur nie, dit is in sommige lande ook nie maklik om só ʼn toets te laat doen nie.

Anderson sê die aankondiging bied welkome verligting vir die gasvryheidsbedryf.

“Massawerkloosheid is een van die grootste probleme vir Suid-Afrika en ons sektor is deurslaggewend vir ekonomiese groei en werkskepping. Om ons potensiaal te bereik en die katalisator te wees wat ons ekonomie benodig, moet besliste besluite geneem word wat gegrond is op wetenskap en internasionale beste praktyk. En dit moet so spoedig moontlik gebeur,” sê Anderson.

Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, het die verslapte regulasies ʼn “welkome stap in die regte rigting” genoem en sê dit gaan ongetwyfeld verligting vir talle ondernemings in die provinsie bring.

Die premier meen, nes verskeie ander organisasies, dat die aankondiging lankal reeds gedoen moes word. “Daar is ʼn duidelike les hierin: die nasionale regering moet vinniger optree. Te veel werksgeleenthede het die afgelope paar jaar verlore gegaan om dié pas te verskoon.”

Winde sê hy is ook bekommerd dat Ramaphosa hom geensins verbind het tot die opheffing van die ramptoestand nie. Dit geld in dié stadium tot 15 April.

Noudat groot geleenthede weer aangebied kan word, gaan die provinsie saam met sy vennote werk om dié byeenkomste, asook sportbyeenkomste, so gou moontlik aan die gang te kry.

“Ons kan nie nog ʼn dag mors om die geleentheidsektor weer te laat groei nie,” sê Winde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Groen Ghoen ·

So, is “Byeenkomste” ook op kerkdienste van toepassing? Om Sondag te kan kerktoe gaan, met die kerkgebou teen 50% besetting, moet ek nou elke keer (1) Bewys toon van inenting of (2) Bewys lewer van ‘n PCR toets wat Donderdag gedoen is? Dit is mos absurd.

Estelle ·

Baie bly vir die toerisme bedryf asook sport. Wat toerisme aanbetref lê daar baie geld vir SA en sal dit wonderlike wees om weer ‘n finansiele inspuiting te kry asook die wat in die bedryf hulle werke verloor het weer aangestel kan word in hulle poste.

Andre ·

Ek wonder hoe die sport unies nog kan bestaan sonder inkomste uit besoekers?

JohanR ·

Nou moet nog iemand of ‘n instansie of politieke party dreig om hof toe re gaan dan sal volgende week nog reels verslap word. En soe sal ons aangaan totdat on terug is by 25 Maart 2020. Die ANC vir een of ander rede speel speletjies met die Covid reels? Altyd ‘n versteekte agenda!

Alleen Wolf ·

Ramapara moet brein dood wees, wanneer gaan hy en al die covid beheptes besef die pandemie is verby, ek hoop die howe lê ‘n slag logika aan die dag in die komende hofsake se uitsprake, tyd dat die anc gemors tot ‘n einde kom.

Andrew ·

Hier gaan ons weer “Diegene wat ʼn byeenkoms wil bywoon, moet wel ʼn bewys van inenting toon, of ʼn PCR-toets wat nie ouer as 72 uur is nie”.
Kan iemand hom inlig dat as jy geent is jy nogsteeds covid kry en ander aansteek. Dit beteken die geente’s gaan die nie geente’s , en ander ge-ente’s ook aansteek.
Dan in elk geval is dit openlik so dat jy maklik n “vax cert” kan kry sonder om die jab te vat.
Geen logika, geen wetenskap, skiet net n klomp skote in die lug. Ergste is dat baie mense nogsteeds glo jy kan nie covid kry as jy ge-ent is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.