Navorsers behaal sukses met roofdierbeheer

ʼn Rooijakkals (Canis mesomelas) het die vermoë om ʼn skaapboer bankrot te laat. (Foto: nielviljoen.co.za)

Die doeltreffende beheer van roofdiere soos jakkalse en rooikatte is ononderhandelbaar vir ʼn kleinveeboer en soms selfs vir grootvee waar roofdierdruk baie hoog is.

Wanneer hy daarin kan slaag, hou dit nie net finansiële voordele in nie, dit beteken ’n finansieel lewensvatbare boerdery en selfs oorlewing.

Roofdiere is uiters slinks en baie aanpasbaar en hulle vind vinnig skuiwergate in ʼn beheermetode wat aanvanklik baie suksesvol is. Die uitdaging is om ʼn omvattende en deurlopende stelsel te ontwikkel wat hierdie diere altyd een stap voor is.

Die stryd teen roofdiere, oftewel roofdierbeheer, gaan nie daaroor om alle roofdiere uit te skakel nie, maar eerder om roofdiere te bestuur. Dit behels die gebruik van alle beskikbare metodes, dodelik én nie-dodelik.

‘n Baie belangrike aspek wat dikwels oorgesien word, is dat ʼn boer eers sy vee “roofdierveilig” moet bestuur voor hy op roofdiere kan fokus.

Onder leiding van die roofdierspesialis Niël Viljoen is ʼn navorsingsprojek, Monitorplase, in 2008 deur die Wolkwekersvereniging (NWKV) geïnisieer om volhoubare werkswyses te vind om roofdiere doeltreffend te bestuur. Die projek is oor die afgelope 13 jaar uitgevoer op 27 plase, wat oor ses provinsies versprei is en wat altesaam 136 214 ha beslaan. ʼn Wye verskeidenheid roofdierbeheermetodes in verskillende kombinasies is toegepas.

“Sodoende kon verskillende praktyke oor verskeie produksie-omgewings getoets en gemonitor word, terwyl die biodiversiteit steeds gerespekteer en eerste gestel is,” sê Viljoen.

Die vee-roofdierbestuurspesialis Niël Viljoen se omvattende navorsingsprojek het heelwat geheime oor dié moeilike praktyk onthul. (Foto: nielviljoen.co.za)

ʼn Tweeledige proses is gevolg. Eerstens moes ’n veebestuursprogram ontwikkel word en opleiding daarin verskaf word. Tweedens moes ʼn roofdierbestuursprogram ontwikkel en ingestel word.

Die veebestuursprogram het bestaan uit:

  • werkeropleiding in die program,
  • die bestuur van die lamseisoentydperk,
  • die kies van ʼn geskikte lamgebied,
  • die saamstel van ’n skaaptrop met ʼn geskikte grootte tydens lamtyd,
  • die afbakening van regte grootte vir die lamgebied,
  • daaglikse inspeksie van vee tydens lamtyd,
  • isolasie met behulp van jakkalswerende en elektriese draad,
  • ʼn deeglike boekstaafstelsel,
  • deurlopende evaluasie van die bestuursprogram.

Die roofdierbeheerprogram se uitkomste en kennisoordrag was in:

  • werkeropleiding
  • roofdiergedrag en biologie,
  • roofdierspesies in ’n gebied,
  • roofdiervoorkeure en hul habitat,
  • roofdiere se doodmaak- en eetpatrone,
  • begrip van die verskillende beheermetodes,
  • alternatiewe roofdierbeheerstrategieë,
  • voorkomende roofdierbestuur,
  • deurlopende evaluasie van die bestuursprogram.

Die verskillende toerusting en werkswyses in kombinasies wat oor die 13 jaar  ingespan was, is:

  • beskermende halsbande soos Protect a Lamb, Celmax Collars, E-Shepard, Agri Alert en Hot Group Collars,
  • afskriktoerusting soos Jackal Chaser, Skaapwagter, ligte, sirenes en klokke, wagdiere soos honde, donkies en alpakkas,
  • jakkalswerende en elektriese heinings,
  • menslike skaapwagters snags en bedags,
  • die kraal van diere, snags en bedags,
  • blokjag in afgebakende gebiede,
  • vangapparate soos vangysters,
  • opgeleide jaghonde in georganiseerde en beheerde jagte,
  • toksiese halsbande,
  • lugjag met ʼn helikopter,
  • professionele roep en skiet, bedags en snags,
  • en vanghokke

Die opleiding vir die boere en plaaswerkers is deur die NWKV se affiliasie, Roofdierbeheer Suid-Afrika (PMSA), asook roofdierbeheerspesialiste oor die hele Suid-Afrika gedoen.

Die sukses was oorweldigend. Veeverliese het afgeneem terwyl die biodiversiteit inderwaarheid verbeter het. Oor dié 13 jaar het die roofdiere wat konsekwent skade bly veroorsaak het en uitgeskakel moes word, van 261 tot 578 toegeneem, terwyl die veeverliese van 3 320 tot 1 133 afgeneem het. Dit is ’n merkwaardige verbetering in die totale bestuurstelsel van 65,9%.

Die resultate van die Monitorplase-navorsingsprojek oor die afgelope 13 jaar.

“Boere moet onthou dat die sukses van enige metode slegs afhanklik van die bestuursvermoë van die boer is,” sê Viljoen. “Net so belangrik as wat ʼn boer werkbare beheermetodes toepas, is dit om te besef dat die sukses van vandag, môre se mislukking kan word.

“Net soos aanpasbaarheid die sleutel tot roofdiere se voortbestaan is, moet boere vinnig of selfs vinniger as roofdiere met hul bestuurstrategieë aanpas om sukses te behaal. Die navorsing het dit duidelik uitgewys dat deurlopende, voorkomende en volhoubare roofdierbestuur gekombineer met die afwisseling van verskillende bestuursmetodes die geheim is.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cherokee ·

Ek het ‘n sagte plekkie vir jakkalse. Het ‘n silwer jakkals groot gemaak, en jakkals, kat en hond het dieselfde tyd uit dieselfde bak geëet. Die silwer jakkals word net so 30cm hoog. Ons s’n was so half duim hoër, seker omdat hy beskermd groot geword het.

Ou Baardbek ·

Vrind Cherokee, dit is inderdaad reg! Ek het ook baie tyd vir Vossie. Hier is etlikes op die plaas waar ek met wild boer, en sommige van hulle kom lê sommer hier digby die woonhuis bedags. Hulle was eerste hier; EK is die indringer, en hulle is heeltemaal geregtig om ook te vreet en oorleef. Ons noem dit simbiose! :-):-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.