Nuwe hoof vir Graan SA

Dr Tobias Doyer wil Graan SA na nuwe hoogtes voer. (Foto: Verskaf)

Graan SA gaan die nuwe jaar met ʼn nuwe uitvoerende hoof afskop. Hierdie bedryfsorganisasie het ʼn ou bekende in landbou, dr. Tobias Doyer, aangestel wat op 8 Januarie die leisels oorneem.

Graan SA sê Doyer is ʼn bekwame en vooruitdenkende leier wat ʼn magdom kundigheid en vermoëns na die tafel bring. “Ons is baie bly om Doyer as ons nuwe uitvoerende hoof te verwelkom,” sê Derek Mathews, Graan SA se voorsitter.

“Met sy bewese rekord waar hy groei, strategie en nuutskeppings binne die landbou-, versekering- en akademiese sektore dryf, is Doyer die aangewese man om Graan SA na ʼn nuwe era van sukses te lei.

“Sy uitsonderlike leierskapsvaardighede, strategiese aanleg en diepgaande bedryfskennis maak van hom die ideale keuse om die Graan SA-entiteitsgroep te lei. Ons het volle vertroue in sy vermoë om die organisasie in die toekoms na nog groter hoogtes te voer.”

Doyer is bekend daarvoor dat hy ʼn groot rol gespeel het om die Landbousakekamer (Agbiz) in ʼn onafhanklike sakeverteenwoordigende organisasie te hervorm en dit strategies te vestig as ʼn proaktiewe bydraer tot nasionale landbou- en ekonomiese gesprekke. Hy het ʼn sleutelrol in die formulering en deel van die visie en identiteit van die organisasie gespeel, wat ondersteun word deur die organisasie se uiteenlopende belanghebbendes, onder wie media, politici, regeringsliggame, produsente-organisasies en Agbiz-lede.

Doyer het sy PhD in landbou-ekonomie aan die Universiteit van Pretoria verwerf en is ʼn gesertifiseerde direkteur by die Instituut van Direkteure in Suid-Afrika. Hy het sy loopbaan as dosent in landbou-ekonomie aan die Universiteit van Pretoria begin, en het die afgelope 10 jaar onder andere in Sanlam se Pan-Afrika- algemeneversekeringsafdeling as operasionele strategielewerings- en streekbestuurder gedien.

Voorheen het hy vir ʼn paar jaar in Lusaka, Zambië, gewoon as besturende direkteur van die Universiteit van Afrika in Zambië.

Doyer sê sy visie vir Graan SA sentreer rondom die positiewe bydrae van die landbousektor aan die burgerlike samelewing en Suid-Afrika as geheel. “Die Suid-Afrikaanse graan-, landelike en politieke omgewing verander voortdurend en dit is noodsaaklik vir ons om mense te begeester en dinge te laat gebeur. Ek sien uit na my terugkeer na die sektor én die pad vorentoe.”

Graan SA voer aan dat hierdie rigting duidelik gestel is en sy entiteitsgroep is gereed om die uitdagings van die immer-ontwikkelende landboulandskap aan te pak en die opkomende geleenthede maksimaal te benut.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.