Optimisme dryf VL Jongboer-wenner

Lukas en Marné Lessing glimlag breed tydens die oorhandigingseremonie. (Foto: Verskaf)

Vrystaat Landbou se 2023 Jongboer van die Jaar is ’n optimistiese jong boer wat daarin glo om die positiewe in elke situasie te vind.

Die 26-jarige Lukas Lessing van Marquard is vroeër die week tydens ’n spoggeleentheid in Bloemfontein as die 27ste wenner van dié kompetisie aangekondig.

Lessing boer reeds ’n dekade en wil ook niks anders doen nie. Hy meen die feit dat sy pa hom van jongs af by belangrike besluite oor die boerdery betrek het, lewer nou positiewe resultate.

Hy is tans die algemene bestuurder van die familieboerdery en bedryf hoofsaaklik die saaiboerdery waarin mielies, soja en sonneblom geplant word en ’n kleiner veevertakking.

Dié pa van twee huiwer ook nie om self in te spring waar nodig is nie en het daarom al telkemale self plaaspaaie geskraap sodat die boerdery-aktiwiteite kan voortgaan.

Die emosionele en finansiële welstand van hul werkers is vir Lessing belangrik en daarom word die werkers aangemoedig om insette tot die boerdery te lewer wat hulle ook bevoordeel.

Die ander jong boere teen wie Lessing meegeding het, was Hennie Geldenhuys van Excelsior en Hansie Müller van Viljoenskroon.

Prof. Pieter Fourie, sameroeper van die beoordelaarspaneel en hoof van die departement van landbou by die Sentrale Universiteit vir Tegnologie, meen die drie kandidate was puik en het die beoordelaars behoorlik laat kopkrap. “Dit is werklik drie voortreflike jong boere. Benewens die feit dat hulle afsonderlike boerderye professioneel hanteer word, is hulle ook elkeen ’n aanwins vir hul onderskeie gemeenskappe.”

Kyk hier na ʼn blitsprofiel van Lukas Lessing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.