Regering grootliks te blameer vir kunsmiskrisis

Boere het voorheen hul kunsmis vooruit aangekoop, maar diefstal maak dit tans baie moeilik. (Foto: Maroela Media)

Die prys van sekere kunsmiskomponente het die afgelope jaar tot rekordvlakke gestyg, tot so veel as 200%. Kunsmispryse het gemiddeld met 100% gestyg. Kenners meen gebrekkige infrastruktuur en power uitsette deur Foskor, ʼn semi-staatsinstelling, is grotendeels hiervoor te blameer.

Graanboere, wat 65% van die kunsmisverbruikers in Suid-Afrika uitmaak, het aangedui dat hierdie verwikkeling baie van hulle sal verhoed om aan te hou boer. Tussen 25% en 50% van hul insetkoste word afgestaan aan kunsmisaankope.

Volgens die buro vir voedsel en landboubeleid (BFAP) is kunsmis in Suid-Afrika tans, naas Japan, die tweede duurste ter wêreld.

Derek Mathews wat vanjaar weer as Graan SA se voorsitter verkies is, sê die verhoging beteken dat koringboere ʼn bykomende 600 kg per ha moet oes. “In marginale gebiede waar produksie so laag as twee tot drie ton is, sal hulle mooi hul somme moet maak.”

Tydens ʼn paneelgesprek by Graan SA se kongres is verteenwoordigers van Omnia, Sasol, die nywerheidsontwikkelingskorporasie (IDC), die departement van handel en nywerheid (DTIC) en Graan SA genooi om hul stuiwer in die armbeurs te gooi en moontlike oplossings te bespreek.

Foskor, wat ook genooi is, is gekritiseer omdat sy verteenwoordiger nie die paneelgesprek kon bywoon nie. IDC, ʼn staatsinstelling, besit 59% van hierdie fosfaatrotsmyn by Phalaborwa. Die myn slaag nie tans daarin om aan die fosfaatbehoeftes van die land te voldoen nie.

Volgens die paneellede beskik dié myn oor een van die beste en suiwerste fosfaatbronne ter wêreld en het hy die kapasiteit om Suider-Afrika vir die volgende 90 jaar van fosfaat te voorsien.

“Ons het die laaste jaar 320 000 ton fosfaat verbruik, maar moes 300 000 ton ten duurste invoer. Foskor kon nie eens in 10% van plaaslike verbruik voorsien nie,” het een van die boere uit die gehoor gesê. “Foskor is veronderstel om ʼn strategiese nasionale bate te wees, maar tans is fosfaat een van die kommoditeite wat ons erg knyp.”

Fosfaat in Suid-Afrika is tans die derde duurste ter wêreld.

André Kirsten, voorsitter van Graan SA se inset- en produksiewerkgroep wat die paneelgesprek ingelei het, sê dat Suid-Afrika toenemend meer kunsmis invoer. “Ons het verlede jaar meer as 2,2 miljoen ton ingevoer, waarvan baie na die buurstate toe is. Ons plaaslike verbruik was meer as 2,2 miljoen ton.

Daarteenoor kon Suid-Afrika in die 1970’s en 1980’s in 70% van sy kunsmisbehoeftes voorsien. Daar is hoofsaaklik kalium en stikstof ingevoer.

Tydens Graan SA se nasionale kongres is ‘n paneelgesprek oor die kunsmiskrisis gevoer. (Foto: Du Preez de Villiers)

Infrastruktuur pla ook

Louis Strydom, bemarkingsdirekteur van Omnia, sê hierdie maatskappy, wat al amper 70 jaar verbind is om aan boere se kunsmisbehoeftes te voorsien ondervind tans ernstige probleme, waarvan logistiek ʼn groot knelpunt is.

“In 2009 het Suid-Afrika 750 000 ton kunsmis ingevoer en verlede jaar het dit op amper 2,3 miljoen ton gestaan. Ons infrastruktuur het nie daarmee tred gehou nie en vandag is daar min ontwikkelings gedoen, inteendeel, dit het agteruitgegaan.

“Voorheen het ons argumentshalwe ʼn skip van 40 000 ton kunsmis bestel, met Spoornet vir treine gereël en dit binneland toe gery waar dit by ons fasiliteit versak is, weer op die spoor gelaai is en by die stasie naaste aan die boer se plaas, in ʼn bergplek afgelewer is.

“Vandag laai ons die 40 000 ton skip met ses of agt-ton wipbakvragmotors af wat dit by ʼn bergplek op die hawe aflaai. Dan word dit weer op groot vragmotors gelaai en na ʼn versakkingsaanleg aangery en dan na ʼn bergplek naby die plaas.”

Hy sê dit het noodwendig hul vervoerkoste opgejaag. “Ons moet die spoorweë weer aan die gang kry om met die res van die wêreld te kompeteer.”

Ander probleme wat hy geopper het, is ʼn gebrek aan watersekerheid, hoë energiekoste en diefstal. Alles faktore waarvoor die regering behoort pa te staan. “Net op die hawens verloor Omnia tot 5% aan voorraad weens vermorsing en diefstal, want kunsmis is nou ʼn baie gewilde produk.”

Hy het bygevoeg dat die onlangse twee dag staking Omnia tussen 4 en 5 miljoen rand gekos het.

Corné Louw, senior ekonoom van insette by Graan SA wat die paneelgesprek gefasiliteer het, sê wanneer jy ureum uit Oos-Europa bestel, kan jy maklik 45% by die pariteitsprys voeg om vir Suid-Afrikaanse logistieke probleme en diefstal te kompenseer.

Dr. Johannes Louw, Sasol se onderpresident van beplanning en optimalisering, sê Sasol, wat in die stikstof-vervaardigingsketting betrokke is, sit met ʼn omgewingsuitdaging.

“Ons aanleg in Secunda wat waterstof uit die vergassing van steenkool vervaardig as ʼn stap in stikstofproduksie, is onder druk geplaas om die gebruik van steenkool uit te skakel, sodat kweekhuisgasse verminder kan word.”

Die sperdatum is 2030.

“Ons moet nou ‘groen’ waterstof vervaardig deur water in suurstof en waterstof op te breek met behulp van groen elektrisiteit. Dit is nie maklik nie en kan nog ʼn dekade duur om dit te verwesenlik, voordat dit op ʼn kommersiële skaal vervaardig kan word.”

Maroela Media het by dr. Pieter Hauman, uitvoerende hoof van die Kunsmisvereniging van Suid-Afrika (Fertasa) gaan uitvind of die oorlog in Oekraïne ʼn invloed op ons kunsmispryse het. “Daar word baie min kunsmiskomponente uit Oekraïne ingevoer, maar heelwat uit Rusland. Vir die bedryf is dit egter ʼn aansporing om komponente nader aan Suid-Afrika te soek, om verskepingskostes te verlaag.”

Hy sê in die regering se landboumeesterplan kry die spoorwegprobleem baie aandag en word op hoë vlak deur verskeie instansies bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

SlinkseKoljander ·

Nee rerig???

Maar hulle is dan so pateties met alles ander wat hulle moet bestuur.

Frank ·

Hierdie miskruier regering is ten volle te blameer vir elke liewe ding in hierdie land wat verkeerd is.

Swerwer ·

Kan dit waar wees. Is daar nog iets in hierdie land van ons waar die ANC Kader nie by geinfiltreer is nie.
Ons is so jammer dat ons hardwerkende voorouers ‘n sukses met die ontwikkeling van hierdie land gemaak het en dat die ANC Kader alles in ‘n oogwink kom vernietig het omdat die woord dankbaarheid en vooruitgang nie in hul woordeskat bestaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.