Rowwe tyd vir tamatieboere – pryse styg skerp

Tamaties kry swaar te midde van die langdurige reën. (Foto: 10789997, Pixabay)

Die prys van tamaties het oor die afgelope ruk so skerp gestyg dat die jaar-tot-jaar-styging op 41% gerealiseer het. Boonop is daar sprake dat dit nog verder kan styg, want weerkenners voorspel dat daar tot in Februarie ʼn uitermatige hoeveelheid reën gaan val, wat niks goeds inhou vir boere en die verbruiker nie.

Jannie Potgieter, ʼn markagent by Grow BothaRoodt, het aan Maroela Media gesê dat die produksie en pryse gedurende die afgelope winter goed was, maar dat sake die afgelope ruk handomkeer verander het.

“Die drie hoofproduksiestreke, Noordwes-Brits, Limpopo-Mooketsi en die Wes-Kaap, het die afgelope ruk, in die kritieke somerproduksietyd, baie reën en min sonskyn gehad wat die produksie, soos vrugvorming, drasties beïnvloed het.”

Hy verduidelik dat tamaties nie van regstreekse water, soos reën, in sy kritieke groeistadium hou nie, want dit belemmer groei en boonop kry tamaties nie genoeg hitte-eenhede vir fotosintese gedurende langdurige bewolkte weer nie. Derdens kan boere nie in die lande kom om onkruid te spuit nie.

Tydens ʼn versengende hittegolf, soos verlede week in die Wes-Kaap, is tamaties ook geneig om in ʼn strestydperk in te gaan en hul blommetjies af te gooi, wat tot ʼn breuk in produksie sal lei wanneer die bepaalde tamaties veronderstel is om oesgereed te wees.

Abrie Rautenbach, hoof van ABSA-landbou, het vir Maroela Media gesê dat die vraag- en aanbodbeginsel ʼn sterk rol in hierdie verskynsel speel. “Oor die afgelope tyd het die nat weer veroorsaak dat die lewering van tamaties tot 20% gedaal het en omdat die verbruikers se vraag konstant gebly het, het die pryse gestyg.”

Hy sê egter dat hulle oor tyd heen ondervind het dat verbruikers minder tamaties koop in kouer weer, wat sal help dat die prys nie so skerp styg namate die winter naderkom nie.

ZZ2 verskaf ongeveer 40% van Suid-Afrika se vars produkte en Clive Gareth, die bemarkingsbestuurder, het aan Maroela Media gesê hulle probeer om hul tamatieproduksie regdeur die jaar konstant te hou. Die aanhoudende reën wat ZZ2 veral in Desember en Januarie op hul verspreide plase gehad het, het hul planne egter in die wiele gery.

Hy sê tamaties is lief vir sonskyn en hou nie van reën nie. Bowendien het die aanhoudende reën en gepaardgaande gebrek aan sonskyn ʼn bykomende probleem veroorsaak. “ʼn Waterdruppel wat te lank op ʼn tamatie se skil lê, veroorsaak ʼn swart ring, wat onaantreklik vir die verbruiker lyk. Hoewel daar niks fout met die binnekant van die tamatie is nie, moet dit afgegradeer word.

“Ons het in November ʼn baie goeie produksietyd gehad en ek glo wel dat ons in Maart weer goed op dreef sal wees.”

Rautenbach sê Suid-Afrikaanse verbruikers kry tans swaar en die vraag na ander groentesoorte is dus maar swak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Willi ·

Mooi man, om nou hier met julle duur pryse te kom spog, laat dit maar op die rakke vrot of plant maar jou eie by die huis.

Koen ·

My tamaties groeie en dra goed in my relatief klein groentetuin in Pretoria.

annie ·

Hierdie speletjie duur al ‘n paar jaar. Eers is dit ertappels se beurt. Hemelhoë pryse en almal skarrel. En dan val die pryse en snaaks genoeg die winkelrakke bly vol en later word ons toegegooi met ou yskas-ertappels wat opgehoop het van al die leuens. Ongesond en gou vrot. En dan is dit ditto met tamaties. Trane van blydskap van die tamatieboer val op sy duur tamaties en raai wat gebeur? Snakes and ladders is op ware gebeure gebaseer… Boere is afhanklik van die kopers van hul produkte. Oppas!

piet ·

So ‘n paar weke terug was die prys R36 per kilo by Pick’nPay. Ek het amper op my rug geval. Belaglik. Vis se prys (ek gaan nie eers van vleis praat nie) is net so belaglik. Vandat net ‘n sekere groepie visvangregte gekry het, het pryse die hoogte ingeskiet. Die dae van die “klein” visserman wat altyd so ‘n paar kon vang en dan verkoop teen ‘n billike prys is iets van die verlede. Stem saam, laat die goed opgaar op die rak en vrot. Hulle skop mos ook met mag en mening vas teen goedkoper invoerprodukte en die verbruiker moet nou maar net geforseer word om ten duurste te betaal. As die produseerder nie winsgewend kan boer nie moet hy nie sy probleme myne maak nie. Voer goeie kwaliteit teen laer pryse in, finish en klaar.

Anoniem ·

Die gemors wat ons op die SA rakke kry is afskuwelik. Sny ‘n tamatie in kwarte op en al die binnegoed neuk uit, skil en vleis die kant en pitte anderkant. Dis seker weens die geneties gemanipuleerde/steriele gemors wat deesdae geplant word.

Kerneels ·

Dis nie die boere wat pryse op jaag nie. Doen bietjie moeite en kyk wat produsente kry vir hul produkte. Dis kettingwinkelgroepe wat pryse laai en teen uitermatige winsgrense verkoop. Gaan koop eerder jou tamaties by ou tannie op die straat – sy’t die geld in elkgeval meer nodig!

Pieter ·

Word n Urban Farmer of ondersteun hulle, pryse baie beter as die winkels. Urban Farming South Africa

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.