Stap saam deur die Bieliemieliefees

OVK se beoordelaars inspekteer die skoudiere terwyl Hoërskool Reitz se landboubestuurspraktyk-leerlinge die skape hanteer. (Foto: Du Preez de Villiers)

In die vorige artikel het ons by die Bieliemieliefees se bestuur en ʼn paar uitstallers gaan kuier en in dié een kuier ons verder tussen die stalletjies en demonstrasies.

PACSys bied outonome hommeltuie wat by ʼn boerdery se presisiestelsel geïntegreer kan word, soos om toedienings volgens voorskrifkaarte te doen. Hulle kan tot 50 kg se korrel‑ en vloeibare kunsmis, asook blaarvoeding, op gewasse neersit deur middel van kol- of strookbespuiting.

Vir die vee- en wildboere kan diere getel of opgepas word.

 

Die jong manne van PACSys is Elmar Frey, vee- en sekerheidsbestuurder; Keith Naudé is die kontrakteursbestuurder en Jayden Joubert is verkoopsman. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Volgens Jaco Barnard, verkoopsbestuurder by Mysilo, is hierdie Turkse silovervaardiger die grootste in Europa en sal die silo’s en hanteringstoerusting wat uit Suid-Afrika bestel word baie vinniger as ander handelsmerke vervaardig en verskeep. Prysgewys kry jy ook baie meer waarde vir jou geld.

 

Dean Wepener is streeksbestuurder en Jaco Barnard is verkoopsbestuurder by Mysilo. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

OVK se bedieningstreek strek oor ʼn groot deel van die Oos-Kaap en die sentrale deel van Suid-Afrika, wat oorwegend veewêreld is, maar hy het ook meganisasie-takke in Clocolan, Hopetown, Bethlehem en Cradock om die graanboere van toerusting te voorsien.

Wimpie Nel, meganisasie-verkoopsbestuurder van OVK-Noordstreek, sê hulle versprei onder andere Agco se Massey Ferguson- en Fendt-trekkers asook werktuie van Agromas, Amazone en Falcon.

 

OVK-meganisasie se span bestaan uit Stefan Botes, heelgoederebemarking: OVK Bethlehem, Wimpie Nel, meganisasie-verkoopsbestuurder vir OVK-Noord, en Robby Lee, streeksbestuurder vir Agco Suid-Afrika. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Janes Earle, takbestuurder van OVS Agri in Bethlehem, is baie opgewonde oor die nuwe Monosem-planter wat hulle nou aanbied. Hy sê met ʼn eenvoudige verandering, deur die kouters en tande se konfigurasie te verander, kan dit tussen ʼn konvensionele en geenbewerkingsplanter verwissel word.

“Dit neem so drie maande om hom volgens ʼn boer se spesifikasie te bou en dan af te lewer,” sê hy.

Boonop kan die planter se vlerke vyf grade by die einde van die land oplig sodat dit nie met die omdraaislag teen ongelyktes op die wenakker stamp nie.

 

OVS Agri in Reitz en Bethlehem is ʼn Argo en Monosem-handelaar en die manne in beheer is Jannes Earle, takbestuurder in Bethlehem, en Pieter Matthee is die eienaar. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Tydens die Bieliemieliefees het die SA Vleismerino-telergenootskap (SAVM) sy Vrystaat-kampioenskap gehou. Altesaam 12 telers het 124 ramme skou toe gebring waar hulle volgens hul wolgehalte en bouvorm beoordeel is.

Jan Vosloo, rasdirekteur van SAVM, sê hierdie is ʼn visuele skou en ʼn skaap wat stilstaan word op sy agterkwart, syaansig, voorkwart en bouvorm beoordeel. Dan moet die skaap loop sodat die beoordelaars sy loopvermoë, bespiering, diepte, kapasiteit en samestelling in ag kan neem.

 

Die seniorkampioenram en die seniorwolkkampioenram behoort al twee aan Jan Uys en sy seun Thomas wat op die plaas Nooitgedacht by Steynsrus boer. Die veehanteerders aan weerskante van hulle is Jan Bloed en Simon Mofukeng. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Visser Agri is ʼn familie-onderneming in Bethlehem en versprei onder andere Claas- en Stara-masjiene in die Kempston-stal en Manitou se produkte, asook die Monosem-planterreeks en Tatta-trokke en ‑busse.

Naudé Visser, eienaar van Visser Agri, sê Claas se nuwe Trion-stroperreeks het die Tucano-reeks vervang. Daarmee saam is die stroper toegerus met die nuwe Claas GPS Pilot, met die CEMIS 1200–terminaal vir outomaties bestuurbeheer.

ʼn Boer kan die stroper met rusperbande, wielaandrywing of in 4×4-aandrywing bestel.

 

Francois Visser en Naudé Visser is mede-eienaars by Visser Agri; Bart Visser en JR Smit is bemakers; Lohan du Preez is ʼn tegnikus en Franco Claassen is Stara se tegniese raadgewer. Agter hulle staan Claas se Trion 750, die vlagskip in dié stroperreeks met ʼn dubbelrouter en ʼn 12 000 liter‑graantenk. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Die Stara Imperador 2000 is by die Visser Agri‑standplaas uitgestal en dié Brasiliaanse spuitvervaardiger is bekend vir sy patent met die balk wat in die middel van die spuit sit. Volgens Franco Claassen, Stara se tegniese raadgewer vir Afrika, Nieu-Seeland en Australië, is dit die plek op ʼn voertuig waar dit die minste skud. Die balk, enjin en tenk is ook so gespasieer dat daar ʼn 50‑50-gewigsverplasing is sodat die druk op al vier die wiele is.

Die sproeikoppe kan in seksies of alleen aan- en afgesit word en om te verhoed dat die chemikalie wat gespuit word die onderstel wegvreet, is die sproeikoppe wat naaste aan die werktuig sit, van die hoofbalk afgehaal en agterop die spuit op ʼn kort balkie gesit.

 

Franco Claassen, Stara se tegniese raadgewer vir Afrika, Nieu-Seeland en Australië, is baie trots op die handelsmerk waarvoor hy werk. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Cornelis Rautenbach, eienaar van Nonnie Tuli-stoet gesels Tuli-sake met Dawid Kriel, ʼn voormalige Tuli-boer, terwyl een van sy koeie toekyk. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Brett Muirhead, landboukundige by Limagrain, sê hy kan ʼn mengsel dekgewassaad volgens die behoefte van ʼn boer meng wat ʼn spesifieke doel moet dien, enige iets van vier tot 12 spesies. “As hy stikstof in die grond wil sit, moet daar peulgewasse inkom, of as hy sy grond wil verbeter en die vrugbaarheid verhoog, sal ʼn Brassica-tipe met sy lang penwortel die grond oopmaak en belug. Grastipes met sterk wortelstelsels stabiliseer weer die grond en bekamp gronderosie.

“Vir boere wat ook weiding vir hul vee wil hê, sit ons grastipes in wat hoogs verteerbaar is en proteïene van hoë gehalte bevat.”

 

Limagrain se span is Brett Muirhead, landswye landboukundige, Francois Gouws, bemarker, Viekie Vogel, landboukundige vir die Hoëveld en die Vrystaat, en Jan Cilliers, Oos-streeksbestuurder. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.