Sybokhaarmark keer swak lopie om

Rolspelers is positief dat die wintersybokhaarseisoen op ‘n hoë noot gaan eindig. (Foto: argief)

Na ʼn slegte lopie het die sybokhaarmarkaanwyser met die jongste veiling weer opwaarts beweeg. Tydens hierdie week se veiling, die tweede laaste vir die winterverkoopseisoen, het die markaanwyser met ʼn gesonde 6% geklim.

Gert en Pieter Jordaan van Aberdeen het met die louere weggestap met ʼn baal kleinbokkiehaar wat hulle aangebied het. Dié B-lengte, super styl, 24 mikron-baal met ʼn skoonopbrengs van 84%, het ʼn stewige R734 per kg verdien.

Die gemiddelde prys vir ʼn kg kleinbokkiehaar was R611,57, wat ʼn 1%-verhoging in die markaanwyser beteken. Vir jongbokke was dit R477,29, ʼn prysverhoging van 7,5%, en vir volwasse bokke was die gemiddeld R372,91, ʼn prysverhoging van 9,5%.

ʼn Verkoopspersentasie van 99,1% is behaal, toe 450 van die 454 lotte wat aangebied is, verkoop is.

Die grootste kopers was Stucken & Co, wat 34,06% van die bale opgeraap het, Samil met 32,03%, Suedwolle met 16,52% en Mosenthal met 10,87%.

“Die hoë gehalte aanbod van skeersels het grootliks gehelp om die afwaartse neiging van die laaste drie veilings om te keer. Hoewel die gehalte ʼn deurslaggewende rol gespeel het, het die verswakking van die rand natuurlik ook ʼn groot rol gespeel,” sê Pierre Van der Vyver, hoofbestuurder van House of Fibre.

“Dit maak wel ʼn voorspelling vir die volgende veiling gevaarlik, want om met die wisselkoers te spekuleer is riskant. Dit gesê, die vooruitsigte moet nogtans positief bly, want die volgende veiling is aansienlik kleiner en die aanvraag bly steeds goed.”

Hy sê hierdie sentiment is die afgelope week tydens die tekstielverhandelingskongres in Ierland bevestig.

Die laaste veiling van die seisoen word op 7 Desember by die sybokhaarbeurs in Port Elizabeth aangebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.