Tafeldruiwe lewer beste oes ooit

Foto ter illustrasie (Foto: NickyPe, Pixabay)

Dit is min dat druiweboere ʼn seisoen soos die afgelope een beleef. Alles het in hulle hande gespeel om die hoogste uitpaksyfer in die geskiedenis te behaal. Paktyd staan nou einde se kant toe en daar is reeds 73 miljoen se 4,5 kg-kartonne gepak wat êrens heen op pad is. Die vorige rekord wat in die 2016-’17-seisoen opgestel is, was 67,5 miljoen kartonne.

“Dit is ʼn kombinasie van faktore,” sê Clayton Swart, kommunikasie‑ en markontwikkelingsbestuurder van die Suid-Afrikaanse Tafeldruifbedryf (Sati). “Ons is nou oor die afgelope paar jaar se felle droogte en die winterreën het verlede jaar net reg geval.  Buiten die reën in die Noordelike provinsies en Oranjerivier-streke, het ons nou boonop lekker droë weer tydens paktyd gehad. In baie streke was die korrelgroottes ook net reg. Een groot faktor is dat daar heelwat van die nuutste generasie kultivars geoes is.”

Tafeldruifkwekers hou heelwat faktore in gedagte wanneer hulle die optimale kultivar ontwikkel. Hulle moet noodwendig hoër opbrengste, wat meer trosse per loot beteken, en hoër uitpakpersentasies lewer. Dit moet ook minder arbeidsintensief wees. Die aantal kere wat die trosse deur die seisoen hanteer word om dit uit te knip en reg te sny moet verminder.

“Die druiwe moet ook met minder chemiese hulpmiddels, op ʼn meer natuurlike manier hulle kleur kry en afspeen. Dan is jou optimale kultivar meer virusbestand en die blaredak is net dig genoeg om die regte hoeveelheid son deur te laat,” sê Swart.

Om dit veilig en vars by hulle oorsese bestemmings te kry moet dit ook stewiger wees, ʼn langer rakleeftyd hê en maklik geberg kan word.

Die mark bied ook baie uitdagings vir druiwekwekers. Hulle soek ʼn soet en smaaklike druif en ʼn nuwe, interessante geur is ook nie te versmaai nie. Kwekers het al daarin geslaag om kultivars bymekaar te sit sodat daar spookasem-, botterkaramel-, toffie- en tropiese geure voortgebring word.

Dit duur tussen 15 en 20 jaar se intensiewe kweking om kultivars te kweek wat oor al hierdie uitmuntende eienskappe beskik.

In die Bergrivier-streek was daar ook ʼn onverwagte verskynsel wat tot die hoë oes bygedra het. Die jong wingerde van die nuwe hoë-opbrengskultivars het vinniger as wat verwag is uit die blokke gekom en soos volwasse boorde presteer. Gewoonlik word ’n volle oes eers teen die derde jaar na aanplanting verwag.

Die druiwe wat ons in Suid-Afrika vind, word deur die LNR (Landbounavorsingsraad), private boere en oorsee gekweek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anoniem ·

Jammer dat tafeldruif boere feitlik nooit die volle voordeel kan trek nie. Vanjaar se oeste is goed, maar nou is die prys oorsee weer swak.

OW ·

Dit sal interessant wees om te weet persentasie gewys, hoeveel die Landbounavorsingsraad se bydrae vandag is, teenoor privaat instansies en oorsese hulp met die ontwikkeling van nuwe kultivars,teenoor so paar dekades gelede waar die plaaslike navorsing en ontwikkeling die botoon gevoer het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.