Tyd loop uit vir herinstel van pluimveetariewe

Hoenderporsies aan die been word steeds in Suid-Afrika gestort. (Foto: Pixabay)

ʼn Tydelike pluimvee-invoertarief wat teen vyf “probleemlande” ingestel is, het middel verlede maand verstryk en die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (Sapo) sê hy het nog geen terugvoer van Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, ontvang nie.

Volgens Sapo het die tarief op 14 Junie verval en Patel het sedert 12 Junie 60 dae gehad om daarop te reageer.

Daar bestaan reeds gevestigde invoertariewe teen verskeie lande wat pluimveeporsies teen uiters lae, gesubsidieerde pryse in Suid-Afrika verkoop, wat elke vyf jaar hernu word, maar lande wat die gaping wil misbruik, neem toe.

Izaak Breytenbach, hoofbestuurder van Sapo, het aan Maroela Media gesê dat Patel in Desember verlede jaar dringend tydelike tariewe teen Pole, Spanje, Denemarke, Ierland en Brasilië ingestel het, nadat hul hoenderporsies teen ʼn laer prys in Suid-Afrika aangeland het as waarvoor dit in dié lande aan plaaslike verbruikers verkoop word.

Intussen sou daar werk daarvan gemaak word om normale tariewe teen dié lande in te stel.

Maroela Media het vroeër berig die vereniging van vleisinvoerders en -uitvoerders (AMIE) probeer om te verhoed dat dié tydelike tariewe heringestel word.

Breytenbach sê hy kan die uitwerking van die tariewe wat verval het, reeds waarneem. “Sedert Junie het die invoere van hoenderporsies uitermatig gestyg. Hoenderboere kan dit nog nie op grondvlak raaksien nie, want die terugvoersiklus is lank, maar ons weet die voorloper van ons probleme is ʼn styging in invoere.

“Ons wag nou in spanning vir die minister se besluit wat hy in die Staatskoerant moet aankondig. Hy kan een van drie dinge doen: geen tariewe hernu nie, die bestaande tariewe hernu, of veranderde tariewe instel.”

Sapo het reeds voor Desember verlede jaar vir Patel ʼn verslag ingedien waarin dié organisasie bewys het dat stortings plaasvind, dat die plaaslike bedryf in dié tydperk skade gely het en dat daar ʼn oorsaaklike verband tussen die twee is. “Ons het onder meer bevind die verskil in die prys waarteen Brasilië sy porsies plaaslik verkoop en dít waarteen die porsies in Suid-Afrika aanland, is 265%.

“Ons het ook deurlopend saam met die internasionale handelsadministrasiekommissie (ITAC) in sy ondersoek gewerk wat dan aanbevelings aan die minister moet maak.”

Hy sê die pluimveemeesterplan staan op vyf pilare en die vyfde pilaar handel net oor hoe om die bedryf te beskerm, maar storting sal veroorsaak dat die kern van die hele meesterplan wegval – wesenlike skade sal aan ekonomiese groei en werkskepping aangerig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.