Wêreld kyk op na US landbou-akademici

stellenbosch

Die Universiteit Stellenbosch. (Argieffoto)

Twee van die Universiteit Stellenbosch (US) se landbou-akademici is onder die wêreld se mees aangehaalde navorsers, volgens die Highly Cited Researchers 2021-lys van die Web of Science-groep.

Hierdie aankondiging is vroeër die week gemaak en proff. Umezuruike Linus Opara en Dave Richardson is weer deel van hierdie gesaghebbende lys.

Opara beklee die DWT-NNS Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel in na-oes tegnologie en Richardson is die direkteur van die DWT-NNS Sentrum vir Uitnemendheid in Indringerbiologie (SIB) en professor in die Departement Plant- en Dierkunde.

‘n Derde persoon, prof Oonsie Biggs, die bekleër van die DWT/NNS Navorsingsleerstoel in Sosio-ekologiese Stelsels en Veerkragtigheid by die Sentrum vir Kompleksiteitsisteme in Oorgang, is ook tot die lys gevoeg.

“Dié onderskeiding van drie van ons topnavorsers gee erkenning aan die gehalte en impak van hul navorsing. Die US is baie trots op hierdie prestasie,” sê prof. Eugene Cloete, viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies aan die US.

Prof. Umezuruike Linus Opara (Foto: Verskaf)

Die lys identifiseer wetenskaplikes en sosiale wetenskaplikes wat veelvoudige referate en artikels gelewer het, wat in die boonste een persent, volgens die aantal aanhalings in hul vakgebiede en jaar van publikasie verskyn. Dit beteken dat hulle as uiters invloedryk onder hul eweknieë beskou word.

Vanjaar se lys bevat sowat 6 602 mees aangehaalde navorsers uit meer as 70 lande en streke in 21 velde van die natuurwetenskappe en sosiale wetenskappe.

Opara en Richardson bevind hulle in uitgelese geselskap saam met 24 Nobelpryswenners, insluitende vyf wat vanjaar aangekondig is, en 77 aangehaalde bekroondes, oftewel “Citation Laureates”. Hierdie groep is individue wat met behulp van aanhalingsontledings deur Clarivate erken word as “van Nobelprys-gehalte” en moontlik Nobelpryswenners kan wees.

Prof. Dave Richardson (Foto: Verskaf)

Die metodiek wat die room van invloedryke navorsers bepaal maak op die inligting en ontledings staat wat bibliometriese kundiges by die instituut vir wetenskaplike inligting van die Web of Science-groep doen.

Hulle gebruik InCites se normstelling en analises, noodsaaklike wetenskapaanwysers en ’n unieke samestelling van wetenskapprestasie-metrieke en neigingsinligting, wat gegrond is op vakkundige publikasiegetalle van artikels en aanhalingsinligting van die Web of Science-groep. Hierdie groep is die wêreld se grootste uitgewer-neutrale aanhalingsindeks en navorsingsinligtingsplatform.

Prof. Oonsie Biggs (Foto: Verskaf)

David Pendlebury, hoof van navorsingsontleding by die instituut vir wetenskaplike inligting, het in reaksie op die aankondiging van die 2021-lys gesê dit word al hoe belangriker dat lande en instellings erkenning en ondersteuning bied aan die buitengewone navorsers wat die uitbreiding van die wêreld se kennis aandryf. “Hierdie lys identifiseer en vier buitengewone individuele navorsers wat ’n betekenisvolle invloed op die navorsingsgemeenskap het, soos gesien kan word in die koers waarteen hul werk deur eweknieë aangehaal word.

“Hul navorsingsbydraes is die brandstof wat die nuutskeppings, volhoubaarheid, gesondheid en veiligheid aanvuur wat só belangrik is vir die toekoms van ons samelewing.”

*Hierdie artikel is gewysig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Harley Davidson ·

Die ingeligte wêreld het opgekyk ek glo al wie nou opkyk is die wat kyk wat afgebreek en verander kan word om hulle verwrange ideologie te bereik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.