Draakvrugte staan nog in sy kinderskoene

Foto ter illustrasie. (Foto: Bermix Studio, Unsplash)

Die Varsproduktebemarkingsvereniging (PMA) van Suid-Afrika het ’n paneel kundiges byeengebring wat die potensiaal van die draakvrugtebedryf in Suid-Afrika bespreek het. Die Suider-Afrikaanse Draakvrugtevereniging is ook onlangs deur pioniers in die bedryf gestig.

Hierdie groot, rooi vrug wat ryk is aan vitamien C, vesel, fosfor en kalsium, asook antioksidante, is met skubbe oortrek, wat ʼn mens baie aan ʼn draak laat dink. Dit groei op verskeie kaktusspesies in die Hylocereus-genus en word in die tropiese en subtropiese streke van die wêreld verbou.

Alhoewel die Suid-Afrikaanse draakvrugtebedryf bloedjonk is, word hierdie vrugte soos ons dit vandag ken sedert 1990 kommersieel in Viëtnam, Maleisië, Thailand, Taiwan, Sri Lanka, China, Israel, Kalifornië en Sentraal-Amerika geproduseer.

In Suid-Afrika is daar reeds ʼn handvol boere wat aktief besig is om hierdie vrugte kommersieel te verbou. Tydens die paneelbespreking het Michael Muller van die Muller-familieboerderytrust; Fred Steyn, nuutaangestelde voorsitter van die Suider-Afrikaanse Draakvrugtevereniging; CT van der Merwe, uitvoerende hoof van AL3 Boerdery; Laura Strever van Amorentia-landgoed en -kwekery, en Jason Sampson van die Departement Plant‑ en Grondkunde aan die Universiteit van Pretoria ʼn insiggewende en lewendige bespreking oor hierdie supervrug gehad.

Amorentia in Tzaneen is een kwekery wat draakvrugkultivars beskikbaar stel. Strever sê Amorentia het begin om draakvrugte onder die Amorentia Sweet Dragon Fruit-handelsnaam te vermeerder nadat hulle die potensiaal van dié lekker nuwe variëteite raakgesien het. Sy beskryf die vrugte as eksoties, lewendig, opwindend en aanloklik. “Boonop is dit veelsydig; jy kan dit vars eet, versap en in meer ingewikkelde resepte saam met ander produkte gebruik.

“Hierdie kenmerke maak draakvrugte bemarkbaar, en verbruikers het dit reeds in hul winkelmandjies begin sit. Nie te lank gelede nie het jy gevind dat mense nog nie bloubessies in hul mandjies sit nie, maar met die manier waarop dit bemark is, het bloubessies vir baie mense ’n stapelvoedsel geword,” sê sy.

Van der Merwe en Sampson was dit eens dat draakvrugte een van die gewildste vrugte wêreldwyd kan word as ’n mens die regte beïnvloeders het en verbruikers opvoed oor die gesondheidsvoordele van hierdie supervrug. Die vrugte word van ongeveer Desember tot Mei geoes en bied ’n groot uitvoerpotensiaal na Europese en Amerikaanse markte wanneer dit hulle afseisoen is.

Hulle sê ook dat ʼn koueketting noodsaaklik is om vrugte van ʼn goeie gehalte aan verbruikers te lewer, veral vir boere wat ver weg van bemarkingsgeriewe boer.

“Tans word die meeste draakvrugte wêreldwyd per skip uitgevoer, terwyl Suid-Afrika dit per vliegtuig moet uitvoer om markte baie vinniger te bereik. Met doeltreffende pakhuise kan die vrugte binne ’n week geoes en op die wêreldmark gelewer word,” sê Steyn.

Muller sê dat die produksie van draakvrugte ’n arbeidsintensiewe bedryf is wat broodnodige werk in Suid-Afrika kan skep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wicus ·

Met groot entoesiasme het ek draakvrugte in my tuin geplant, verskillende varieteite, maar ai, die koue, hulle wil net nie groot word nie. Ons ryp en nog soms swartryp is net te erg, soveel so dat my grenadella dit die winter ook nie gemaak het nie.

Anoniem ·

Dit lyk op die oogaf mooi en lekker, maar het bloedweinig smaak.

Trompie12344 ·

Dan het jy beslus nie n draai vrug ge eet nie maar iets anders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.