Ontmoet ons wynboere: Kom kuier op Arendsig    

Arendsig is ‘n uitstekende plek vir klein en intieme byeenkomste. (Foto: Arendsig Facebookblad)

Maroela Media vertel gereeld ʼn storie van ʼn ander wynboer en sy plaas om ʼn kykie in die eiesoortige kultuur, leef- en werkwyse van dié romantiese landbousektor te kry. Klik hier om vorige artikels te lees. 

Arendsig is ʼn familieplaas met sy eie wingerde en boetiekkelder in die suidelike heuwels van die Robertsonvallei, tussen Robertson en Bonnievale. Lourens van der Westhuizen is die vyfde geslag boer en wynmaker op die plaas.

Lourens het die boerdery in 2004 oorgeneem en is die eerste afstammeling wat sy eie wyn op die plaas produseer. Voor sy uittrede het sy pa hom gehelp om 12 hektaar se grond te ontwikkel om nog wingerde aan te plant. Dit was ʼn groot gesukkel in die klipharde skaliegrond, maar vandag pluk hy die vrugte, want dit lewer besondere druiwe vir Arendsig se handgemaakte wyn.

Lourens het as moderne boer ook sy denkrigting verander om bewaringsboerdery na te streef. Al hoe meer natuurlike prosesse word ingespan om peste en plae te bekamp.

Vandag benut Lourens die diverse omstandighede in hierdie pragtige vallei om wyn van hoogstaande gehalte te verbou. Hy en sy span selekteer net die beste druiwekultivars, elkeen met ʼn unieke en duidelike aroma, geur en karakter.

“My wyne moet teruggespeur kan word na die wingerdblok waar die druiwe geoes word. Die ligging van die wingerde in verhouding tot die son- en windrigting, sowel as ʼn holisties gunstige klimaat weerspieël die uniekheid van elke blok,” sê hy.

Elke wingerdblok op Arendsig lewer druiwe met eiesoortige eienskappe wat in die wyn weerspiëel word. (Foto: Arendsig Facebookblad)

“My filosofie is om spesiale enkelwingerdwyne uit ʼn unieke klimaat, ligging en grond te skep. My wingerde se hartklop is die grond met al die mikrobes, die kringloop van elemente en die hulp van die lewende organismes.”

Lourens hanteer sy wyn so min as moontlik deur die produksieproses. Hy maak slegs van natuurlike gis, sonder enige ensieme, gebruik. Rypwording vind plaas in tenks met neutrale eienskappe om die unieke kenmerke van elke wingerd weer te gee.

“Ons handgemaakte benadering en minimale hantering dra by tot die balans van hierdie terroir-ekspressiewe wyne.”

Lourens van der Westhuizen in Arendsig se parskuip. (Foto Arendsig Facebookblad)

Arendsig bied uitstekende geriewe vir kleiner en intiemer geleenthede vir tot so veel as 40 mense. “Behalwe vir verblyf in ʼn klompie kothuise bied ons verskeie aktiwiteite op die plaas aan. Jy kan jouself regmaak vir onvergeetlike ervarings in die ou kleikelder, sitkamer, in die opelug, op die Breërivier se oewer, of in die ‘Exchange’, ʼn gemeenskaplike area tussen die kothuise.”

Arendsig stel drie wyne op www.diewynboer.co.za / www.thewinefarmer.co.za bekend, ʼn Shiraz Blok A12 2019, ʼn Cabernet Sauvignon Blok A9 2019, en ʼn Inspirational Batch 3 Chenin Blanck 2019.

Die drie wyne wat Arendsig op diewynboer.co.za verkoop.

Wynboere het ernstige verliese gely as gevolg van die regering se drankregulasies tydens die afsonderingstyd. Hulle sit met oorskot wyn, oorvol kelders en voorraad waarvan ontslae geraak moet word voor 2021 se oestyd aanbreek. Om hulle te help is ʼn aanlyn winkel, www.diewynboer.co.za / www.thewinefarmer.co.za, in die lewe geroep waar wynkopers in die gemak van hulle huise wyn kan bestel.

Kyk na die video met ʼn onderhoud met Lourens van der Westhuizen van Arendsig:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.