Verskeie akademici het die nypende probleme rakende voedselveiligheid oor die hele Afrika tydens ʼn vyfdag-werksessie in Kempton Park voorgelê.
Die teenwoordigheid van swaarmetale in voedsel, E. coli en salmonella-vlakke in vars produkte wat tuis verbou word, antibiotiese weerstandigheid in vee en die toets van mikotoksiene in graan is steeds op onaanvaarbaar hoë vlakke.
Tydens die kongres het dit ook uitgekom dat die grootste uitdagings vir weldoeners en nie-regeringsorganisasies om ʼn mate van voedselstabiliteit te vestig, die volgende is:
- Moeilik om toegang tot inligting soos wetgewing op regeringswebwerwe te verkry.
- Algehele probleme met toegang tot primêre higiëniese inligting.
- Onhigiëniese boerderypraktyke.
- Finansiering van navorsing.
- Finansiering van onderwysprogramme.
Om te meet is om te weet
Volgens die Nasionale Metrologie-instituut van Suid-Afrika (NMISA), wat die kongres aangebied het, speel die akkuraatheid van meetinstrumente ʼn kritieke rol wanneer die standaard van voedsel getoets word. Wanneer voedselveiligheid ter sprake kom, kan daar nie kanse gewaag word met die kalibrering van toerusting soos skale, massastukke, termometers, temperatuur- en humiditeitsregistreerders, volumetriese pipette en glasware nie.
Maroela Media het by dr. Maria Fernandes Whaley, senior bestuurder vir analitiese en materiaalwetenskappe in NMISA se chemie-, materiale-, metrologie- en mediese afdeling, gaan vasstel hoe dié organisasies help om voedselveiligheid te bevorder.
“Ons by NMISA maak die veilige handel van produkte en dienste langs die voedselproduksiewaardeketting moontlik deur te verseker dat gewigte en mates in Suid-Afrika gelykstaande is aan dié op enige ander plek in die wêreld,” sê sy. “Byvoorbeeld, 1 kg in Suid-Afrika moet dieselfde wees as 1 kg in Egipte binne die gestelde toleransie en dit moet vandag, of selfs vyf jaar van nou af, ook geld.
“Uit ʼn voedselveiligheidsperspektief behoort ʼn chemiese metingsresultaat in Suid-Afrika vergelykbaar te wees met ʼn toetsresultaat op enige ander plek in die wêreld.”
Sy sê NMISA bereik hierdie doelwitte deur die volgende dienste te lewer:
- Kalibrering van meettoerusting volgens die nasionale metingstandaarde wat deur NMISA gehandhaaf word, wat gekoppel is aan die internasionale stelsel van eenhede (SI).
- Verwysingsmetings vir gevalle waar daar dispute tussen laboratoriums is, of waar die diens nie in Suid-Afrika beskikbaar is nie.
- Die verskaffing van streeksrelevante verwysingsmateriaal. Dit is materiaal wat laboratoriums gebruik om te bevestig of hul laboratoriummetingsresultate korrek is, byvoorbeeld aflatoksiene in mielies en swaarmetale in koringmeel.
- Vaardigheidstoets- (PT-)skemas, waar toetsmonsters na laboratoriums gestuur word om hul resultate onafhanklik te assesseer vir kritieke voedselveiligheidsontledings. ʼn Voorbeeld is waar PT-skemas vir die aangewese plaagdoderresidu-toetslaboratoriums vir Suid-Afrika se vrugte-uitvoerders volvoer moet word en uiteindelik word hierdie aktiwiteite aangevul deur pasgemaakte opleiding en konsultasiedienste.
Netwerk van weldoeners
NMISA kan nie hul belangrike werk in ʼn vakuum doen nie en steun op verskeie medewerkers. Whaley sê haar organisasie vorm deel van die tegniese infrastruktuurondersteuningsdiens onder die departement van handel, nywerheid en mededinging.
“Ons werk ook saam met die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS), die Suid-Afrikaanse Nasionale Akkreditasiestelsel (SANAS) en die Nasionale Regulering vir Verpligte Spesifikasies (NRVS).
“Ons grootste bondgenote in die bereiking van ons doelwitte is ons susterstaatsdepartemente wat betrokke is by voedselmonitering en -inspeksie, soos die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling en die departement van gesondheid se voedselbeheerafdeling.”
Sy voeg by dat ander bondgenote die raad op gebruikersgoedere se voedselveiligheidsinisiatief en die Voedsel-en-landbou-organisasie (VAO) van die VN insluit.
Dit is ʼn netwerk van voedselmonitering- en -inspeksielaboratoriums oor die vasteland wat mekaar ondersteun deur wedersydse opleiding en netwerke vir verbeterde voedselveiligheidskontroles en -metodes. Hierdie netwerk het ook uitgebrei om ander kritieke voedselveiligheidsbelanghebbendes in die privaat sektor en in die akademie in te sluit.
Die groot sondaars
Whaley sê dit is te verwagte dat swaarmetaalvlakke hoër is in lande en streke met mynaktiwiteite en derhalwe rus daar ʼn groot verantwoordelikheid op die eienaars om mynafval en inperkingsgebiede verantwoordelik te bestuur. Daarmee saam rus die onus ook op dié regerings om water te monitor en inspeksies uit te voer. Hulle moet ook hulpbronne beskikbaar stel om te verhoed dat hierdie swaarmetaalkonsentrasievlakke nie oorskry word nie.
Patogene soos salmonella, E. coli en listeria veroorsaak steeds sterftes bo aanvaarbare vlakke en moet gereeld gemonitor word, want dit kan grootskaalse uitbrekings veroorsaak deur akute blootstelling.
In die gevalle waar fungi ʼn rol speel, sterf baie mense weens die akute blootstelling aan mikotoksien-besmette voedsel.
Die chroniese blootstelling aan gevaarlike chemiese middels is geneig om eers later tot siektetoestande, soos kankers, te lei.
Sy sê daar is voorbeelde van flieks soos Dark Waters en Erin Brokovich, wat die gevolge van blootstelling aan chemiese kontaminante uitbeeld.