Tegnologie kan ‘eenmanplaas’ moontlik maak

  • Slimtegnologie vervang deurlopend arbeid op plase. (Foto: DIJ-Agras, Pixabay)

    Deur Westley Ferguson, landbou-ekonoom: Agri Enterprises

Die tyd waarin ons leef word deur snelle tegnologiese ontwikkeling gekenmerk en die vierde nywerheidsrevolusie het duidelik aangebreek. Dit het noodwendig in landbou ook posgevat en die term, Landbou 4.0 is spoedig geskep.

Vandag sien ons masjiene wat outomaties funksies verrig en boonop die vermoë het om slim besluite te neem, in staat is om te leer en deur groot data en diesel (binnekort skoon energie of elektriese alternatiewe) aangedryf word. Vandag bou outomatiese masjiene ook geoutomatiseerde boerderytoerusting in fabrieke.

Die eerste drie revolusies kan soos volg gekategoriseer word:

In 1860 is begin om masjiene deur stoom aan te dryf en dit het aanleiding gegee tot die eerste stoomaangedrewe trekkers.

In 1918 het massaproduksielyne ontstaan, wat deur elektriese krag aangedryf is. Enjintegnologie is ook verfyn. Dink aan die John Deere Waterloo Boy- en Ford-trekkers wat teen 1927 op keroseen en diesel geloop het.

In die 1990’s tot laat 2000’s, tydens die derde revolusie, sien ons die aanbreek van outomatiese produksie met behulp van elektronika, programmeerbare logika en robotika.

Wanneer daar aan die potensiële impak van outomatisering op landbou gedink word, is dit belangrik om die volgende in ag te neem:

Om van stoom- na dieselkrag oor te skakel, het boere 67 jaar geneem. Vanaf die eerste dieselaangedrewe trekker tot die eerste trekker wat met GPS toegerus is en self in ʼn reguit lyn kon ry, het nog 70 jaar geneem, met die John Deere Auto Track-proewe wat in 1997 gedoen is.

Sedert die eerste trekker wat self in ʼn reguit, voorafbepaalde lyn kon ry, tot ʼn trekker wat deur ʼn slimfoon beheer kan word, het slegs 22 jaar geneem.

Dit is ʼn aanduiding dat nuwe tegnologie moontlik vinniger per nywerheidsrevolusie ontwikkel en geïmplementeer word.

Die hipotetiese outomatisering-scenario vir boere in die vierde revolusie lyk soos volg:

Weens hul hoë beleggingswaarde word tegnoloë deur die vrugte- en groentebedryf geïnspireer om outomatiseringsprosesse vir dié bedryf te ondersoek. Dit kan ʼn oplossing vir boere bied om produktiwiteit en opbrengste te verhoog, naspeurbaarheid te implementeer, presisieboerderypraktyke te verbeter, kostes te verlaag en ʼn alternatief te bied vir arbeid wat deurlopend minder word.

ʼn Byna volledig geoutomatiseerde boerdery is nou ʼn moontlikheid wanneer na die tegnologie wat hierbo uiteengesit is, gekyk word. Hierdie nuutskeppings word meestal in die buiteland bevorder en aangedryf, met die VSA wat as markleier na vore getree het. Dit weens die groot kommersiële boerderye wat ondervind dat geskoolde arbeid, wat in die landbousektor belangstel, minder word.

Beperkings

Binne ʼn Suid-Afrikaanse konteks is daar egter ʼn paar beperkings op die huidige tegnologieë en geoutomatiseerde masjinerie.

  • Hoë kostes weens die buitelandse produksie van masjiene en gepaardgaande wisselkoerse.
  • Die spoed en doeltreffendheid waarteen sommige van hierdie masjiene in plaaslike veldtoestande kan werk.
  • Aanneming van nuwe tegnologie en gepaardgaande groeipyne.
  • Heelwat van die outomatiseringsmaatskappye wat tot landbou toetree is nuut, met relatief nuwe name, wat nog hul betroubaarheid en lewensvatbaarheid as selfstandige ondernemings moet bewys.
  • Weerstand teen outomatisering vanuit ‘n arbeidsperspektief, gegewe die ooraanbod van arbeid in Afrika.
  • Boorde se uitleg sal aangepas moet word sodat masjiene daarin kan werk, want faktore soos boomspasiëring en snoeivorms word vroeg in die vestigingsfase van gewasse bepaal.

Geleenthede

Beperkings soos dié hierbo skep egter geleenthede vir entrepreneurs om te ondersoek. Hier is van die ontwikkelings en voorgestelde oplossings:

  • Die robotika-as-ʼn-diens (RaaS)-konsep moet ontwikkel word om dit geldelik meer aanloklik te maak.
  • Die hoë kostes om nuwe ondernemings in die outomatiseringsektor te begin, moet verlaag word om mededingendheid aan te moedig.
  • Vooraanstaande en slimmer verbruikers met gewillig wees om by nuwe tegnologieë aan te pas.
  • Betroubare landbouhandelsmerke wat ʼn belangstelling in hierdie tegnologieë toon en deur strategiese verkrygings hul huidige aanbiedinge in lyn bring met ander soortgelyke bedrywe.
  • Arbeid is aanpasbaar en kan opgelei word in meer gevorderde velde.
  • Kunsmatige intelligensie, wat masjiene slimmer leer om verder as hul voorgangers te vorder, moet aangeneem word.

Die vierde nywerheidsrevolusie is nie bloot meer ʼn modewoord nie. Dit het ons werklikheid geword. Plase kan deur slim tegnologie en robotika as geoutomatiseerde eenhede funksioneer, waar enkelboere groot hoeveelhede grond met beperkte arbeid kan bewerk.

Die ‘eenmanplaas’-konsep waaroor daar in die verlede net gedroom is, het nou ’n moontlikheid geword.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.