KragDag-ekspo voorsien in groeiende behoefte na energieselfstandigheid

KragDag (Foto verskaf)

Die dertiende Sakeliga KragDag is die afgelope naweek op die Diamantvallei Landgoed-terrein buite Pretoria aangebied.

Die Sakeliga KragDag-ekspo se getal uitstallers het sedert verlede jaar se ekspo met 23% gegroei, van 470 ondernemings tot 580 vanjaar. Die bywoningsyfer het ook met 47% gegroei van 21 000 tot 30 900. Alhoewel syfers ʼn waardevolle telkaart is en navraag oor bywoningsgetalle gewoonlik die eerste vraag is wat ná ʼn ekspo gevra word, word die meting van sukses in die wêreld waarin ons leef te dikwels gereduseer tot getalle. Veel belangriker vir KragDag is die impak wat die ekspo maak om binne die konteks van die Skepper se Kultuuropdrag mense te inspireer om met kreatiwiteit self verantwoordelikheid te neem vir hulle gesinne se lewens, hulle toe te rus met oplossings om ʼn lewe van staatsbestandheid en selfbevrediging te leef en om deur entrepreneuriese transaksies beide verkopers van tegnologie en die kopers daarvan, beter daaraan toe te laat wees.

Die leuse vir vanjaar se ekspo was “Soms vlug, soms ingrawe … maar altyd bou!” Dit verreken die strategiese kompleksiteit waarmee ons, sonder prysgawe van waardes, met staatshindernisse moet omgaan, terwyl ons, ongeag die omstandighede, altyd ʼn bou-visie het. Soos die KragDag-leuse sê “Doen jou eie ding!” – dit is ʼn leefstyl. By die KragDag-ekspo lewe die atmosfeer hiervan en maak dit dat baie mense hierdie ekspo as ʼn ekspo van hoop beskryf.

Die Landbou sub-ekspo in samewerking met TLU is vanjaar vir die derde keer aangebied en het ook heelwat gegroei tot meer as 100 uitstallers, met ʼn arena- en skouringprogam, asook ‘n hoenderuitstalling.

In samewerking met Solidariteit Helpend Hand is die eerste Kou- en Kunsmark aangebied, waar ʼn groot verskeidenheid handgemaakte produkte verkoop is.

Die jaarlikse Junior Entrepreneurskompetisie is vanjaar deur Fergusmor, Solidariteit Helpende Hand en Cocre8 Wealth geborg, met ʼn totale prysgeld van R21 000 asook besigheidsafrigting. Die Doelgerig-afdeling is deur Bobbelbrou gewen en die Voete Natmaak-afdeling is deur Cara en Hannah Grobler gewen.

Dit was ook die eerste jaar wat besoekers met ligte vliegtuie kon land by Rhino Park en met ʼn pendeldiens vervoer word na die ekspoterrein.

Van die hoogtepunte het die volgende ingesluit:

  • Berede boogskiet deur die Barebow Mounted Archers in die Inyati Arena.
  • Genesis K9 Group se misdaadbekamping-hondedemonstrasies.
  • Taco Kamstra se ritte op sy gewilde 1910 Highwheeler.
  • ʼn Boerboelskou.
  • Die Toyota SA Jong Afslaerskompetisie se streeksuitdunne, aangebied deur Veeplaas.
  • Verskeie buitelugkragtoerusting-kompetisies.
  • ʼn Wye verskeidenheid aktuele en insiggewende selfstandigheidsaanbiedings in die Raadsaal.

“Uitstekende verskeidenheid van idees en middele om ʼn selfstandige bestaan te ontwikkel, asook landbou-afdeling. Allerhande vermaak vir die hele gesin van jonk tot oud.” – terugvoer van Willem Boshoff op Google.

KragDag will graag elke borg, vennoot, uitstaller en besoeker bedank, waarsonder hierdie lewensveranderende ekspo nie moontlik sou wees nie.

Dagboek solank die datum: Met 9 Augustus se openbare vakansiedag wat volgende jaar op ʼn Woensdag val, word die Sakeliga KragDag ekspo van 2023 vir die eerste keer na vier dae verleng en sal dit DV van 9 tot 12 Augustus 2023 plaasvind. Aansoeke vir uitstallers open binnekort.

Navrae kan gerig word aan Sonè Saunders by [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.