Avontuurlustige gesin omskep bus in huis

Surita Krüger in die bus voordat hulle dit opgeknap het. (Foto: verskaf)

Toe die Krüger-gesin ʼn jaar gelede begin het om ʼn bus in ʼn huis te omskep, het talle mense in hul binnekringe gesê dat dit ʼn kranksinnige idee is. Vandag weet hulle egter, hul pad is nie ander mense se pad nie, en geloof is baie groter as vrees.

Surita Krüger erken dat sy en haar man, Henk, beslis buite die boks dink, droom en leef.

“Ons vriende noem ons hippies. Hierdie is nie die eerste mal ding wat ons doen nie,” het Surita aan Maroela Media vertel.

Wanneer sy vandag dink aan die afgelope twee jaar wat dit geneem het om die bus te koop en op te knap, weet sy dat ten spyte van verskeie struikelblokke die bus ʼn goeie idee was.

Hulle het vier kinders onder die ouderdom van 10, en vandag sê Surita hulle het nie die vaagste benul gehad het wat die projek in geheel sou vereis nie.

Die egpaar, wat in Ermelo bly, het ʼn paar jaar gelede daaroor begin droom om Wes-Kaap toe te trek. Waar hulle sou bly en werk, was besluite wat die egpaar gesukkel het om te maak. Met elke stap wat die egpaar geneem het om die planne deur te voer, het hulle ongemak bloot gegroei.

“Ons Kaapse drome het mettertyd in reisdrome verander,” verduidelik Surita.

(Foto: verskaf)

“Ons het nog altyd gesê dat ons saam met ons kinders wil reis, dat ons kinders soveel moontlik van die lewe ervaar.”

Toe Henk net bietjie meer as twee jaar gelede die voorstel maak om ʼn bus in ʼn huis te omskep sodat hulle meer kan reis, was Surita onmiddellik verlief op die idee.

Vir ʼn jaar lank was die gesin op die spoor van ʼn bus wat nie net in hul prysklas sal val nie, maar ook een wat aan sekere vereistes voldoen.

“Ek weet nie hoekom nie, maar ek wou nie ʼn bus gehad het waar die deur sit waar hy tradisioneel sit nie. Henk wou weer graag hê dat die bus outomaties moet wees en dakligte moet hê.”

Surita het ook nie verwag dat dit so lank sou neem om ʼn bus te vind nie, en dat hulle telkemale op moedverloor se stoep was.

Totdat sy een aand, terwyl almal reeds geslaap het, besluit het om net nog een keer op Facebook Marketplace te kyk, en daar was hy: ʼn Bus met ʼn deur wat nie op sy tradisionele plek sit nie, wat outomaties is én dakligte het. Dit was die bus waarvoor hulle gesoek het, en dit boonop in hul prysklas ook.

Nadat die gesin uiteindelik die regte bus, wat voorheen as ʼn mobiele biblioteek in Brakpan gedien het, gevind het, het dit ʼn verdere jaar en twee maande geneem om die bus in te rig en op te knap.

(Foto: verskaf)

Hulle moes die rakke uit die bus verwyder, die matte stroop, die plafonne vervang en loodgieterswerk doen. Dit het verhoed dat die gesin in 2022 in die pad kon val soos hulle aanvanklik beplan het.

Tussendeur is die kinders tuis onderrig, en ʼn paar kontrakteurstruikelblokke getrotseer.

Daar het ʼn laer mense rondom die gesin getrek, elkeen met ʼn helpende en ondersteunende hand. Dit was die mense rondom hulle wat op die einde van die dag die rede geword het waarom hulle die projek kon voltooi.

Die egpaar bly al sedert April in die bus, hoewel die opknappingswerk eers vroeër vandeesmaand voltooi is. Hulle bly tans op vriende se plaas 15 kilometer buite Ermelo. Hulle hoop om een van die dae in die pad te val om hul reisdrome te bewaarheid.

Hulle hoop ook om met hul koffiewa, wat hulle ook in die proses gekoop en opgeknap het, na markte toe te gaan en koffie te verkoop.

“Ons is nie vir een dag spyt nie. Daar was baie aanpassings en verskriklike harde werk, maar dit was ʼn ongelooflike lekker ervaring.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mallie ·

Wat n wonderlike ondervinding en kan net lekker wees. Wys nog bietjie fotos.

Kirst ·

Ek haal my hoed af vir julle! Julle kinders is baie gelukkig om sulke ervarings mee te maak, en julle gesinsbande gaan baie sterk groei tydens die avontuur. Ek hoop ons sal gereeld van julle avonture kan lees op MM.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.