Beroertes: Etlike minute tussen lewe en dood

Foto ter illustrasie. (Foto: Kelly Sikkema/Unsplash)

Beroertes is die naasgrootste oorsaak van sterftes wêreldwyd en raak een uit elke vier mense ouer as 25. Hoe langer die brein van bloed en suurstof ontneem word, hoe ernstiger kan die skade wees.

Elke tien minute kry twee Suid-Afrikaners ʼn beroerte – en minute kan die verskil tussen lewe en dood beteken.

Die BEFAST-metode kan gebruik word ter herinnering aan die waarskuwingsaanwysers van ʼn beroerte en die dringendheid om onmiddellik op te tree sodra simptome van ʼn beroerte bespeur word.

BEFAST is ʼn Engelse akroniem wat dui op die tekens en die behoefte aan vinnige optrede. B (Balance) staan vir die verlies van ʼn mens se balans, E (Eyesight) vir die verlies of vaagheid van ʼn mens se sig ), F (Face) vir die gesig wat na een kant toe hang, A (Arm) vir die swakheid in een arm, S (Speech) vir spraak wat sloer en T (Time) vir die tyd wat dit neem om hulp te ontbied.

Ongeveer 85% van beroertes vind plaas wanneer die bloedvloei na die brein belemmer word. Bloeding, wat deur hoë bloeddruk veroorsaak word en plaasvind wanneer ʼn bloedvat bars en bloed in die brein laat vloei, kan ook beroertes veroorsaak.

“Bloedklont-oplosmiddels kan die bloedtoevoer herstel, maar om doeltreffend te wees, moet hulle binne minder as vier tot vyf uur ná die aanvang van die beroerte toegedien word. Hoe gouer ʼn beroertepasiënt dus ʼn hospitaal bereik waar hulle toegang tot dringende behandeling kan kry, hoe beter is hul kanse op oorlewing en om nog steeds ʼn normale lewe te lei,” het dr. Patty Francis, president van die Neurologiese Vereniging van Suid-Afrika (NASA), gesê.

Wêreldberoertedag, wat elke jaar op 28 Oktober plaasvind, se doel is om openbare bewustheid oor die simptome van ʼn beroerte te verhoog en om vinniger en doeltreffender behandeling te bevorder.

Die grootste risikofaktore vir ʼn beroerte is hoë, onbeheerde bloeddruk en ʼn abnormale hartritme. Die mediese behandeling van hipertensie, diabetes, aritmieë, hoë cholesterol en trigliseriede kan tot 80% van beroertes voorkom.

“Selfs klein verbeterings in elk hiervan kan ʼn verskil maak, en dit is nooit te gou om ʼn beroertevoorkomingstrategie te begin nie. Deur op te hou rook, minder alkohol te drink, meer te beweeg, gesonde kos te kies en jou bloeddruk onder beheer te hou, kan byna almal hulself beskerm teen ʼn potensieel verwoestende gesondheidsprobleem,” het Francis gesê.

Elke jaar op Wêreldberoertedag werk The Angels Initiative en die World Stroke Organisation (WSO) saam met NASA en die South African Stroke Society (SASS).

Die Angels Initiative en die FAST Heroes-projek is twee wêreldwye sleutelprojekte in die WSO se strewe om bewustheid van die tekens van beroertes te verhoog, en streef na vinniger en beter behandeling.

Die Angels Initiative, gestig in 2016, bied opleiding aan professionele mediese kundiges en poog om nuwe instellings te ontwikkel wat beroertes wêreldwyd behandel. Met meer as 7 500 geregistreerde hospitale en 3,8 miljoen beroertepasiënte wat elke jaar behandel word, is dit tans die grootste beroertegemeenskap ter wêreld.

Kinders wat aan FAST Heroes by hul skool deelneem, word ook geleer oor die mees tipiese beroertesimptome en die belangrikheid daarvan om dadelik ʼn ambulans te ontbied as dit opduik.

Byna 9 000 klaskamers wêreldwyd, in 26 lande, waaronder Suid-Afrika, het reeds die FAST Heroes-program aangeneem. Die poging het in Maart 2022 ʼn Guinness-wêreldrekord behaal vir die samestelling van die grootste internetfotogalery van mense wat superheldmaskers dra.

Hoewel tot 15% van beroertes by mense onder 50 voorkom, kan ʼn beroerte met enigiemand op enige ouderdom gebeur. Dit is dus van sleutelbelang om te let op mense se algemene gesondheid en op die uitkyk te wees vir hierdie gevaartekens.

Hier is BEFAST se noodnommers:

  • 112 om met ʼn nooddiens naaste aan jou verbind te word.
  • 10177 om ʼn ambulans te ontbied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans ·

Mens kan nie help om te wonder hoekom so ‘n skielike toename in beroertes en hartaanvalle die afgelope 2 of wat jaar nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.