Helpende Hand waarsku teen gehoorverlies

Foto ter illustrasie. (Foto: Mark Paton/Unsplash)

Onveilige luistergewoontes onder jongmense skep die risiko om later aan permanente gehoorverlies te ly.

Daar word voorspel dat daar teen 2050 ongeveer 2,5 miljard mense met ’n vorm van gehoorverlies sal sit en minstens 700 miljoen van hulle sal rehabilitasie vir hulle gehoorverlies ontvang.

Solidariteit Helpende Hand se nasionale tak vir mense met gehoorverlies in samewerking met die Oorinstituut wil mense aanmoedig om voorkomend op te tree om sodoende permanente gehoorverlies te bekamp.

“Die intensiteit van geraas en die tydsduur wat iemand daaraan blootgestel word, dra by tot die skade wat dit aan jou gehoor kan veroorsaak. Hoe harder die geraas, hoe meer skade kan dit aan jou gehoor veroorsaak,” meen die span.

’n Plakkaat wat die uitwerking van geraas op gehoorverlies aandui, is op 18 Oktober vanjaar by die Sol-Tech-kampus in Centurion versprei met die doel om bewustheid oor dié potensiële probleem te skep.

“Ongeveer 100 studente en personeellede is tydens die bekendstellingsgeleentheid van die plakkaat getoets,” het Suzette Oosthuizen, hoof van sentrums en nasionale take by Helpende Hand, gesê.

“Ons wil die plakkaat na alle skole, veral skole met werkswinkels, werkplekke en groot maatskappye waar met masjinerie gewerk word, versprei.”

www.facebook.com/273366759408858/posts/pfbid02RT246h3bNcNSaxnvrPMXXDqDJevHxqBbo7NL253dr9iHf2XM1gT8ekPnp8rKxXEZl/?sfnsn=scwspmo

Gehoorverlies het nie net ’n invloed op ’n mens se fisieke welstand nie, dit loop dikwels hand aan hand met ander geestesgesondheidskwessies.

“’n Studie, wat in 2014 gedoen is, in die Joernaal van die Amerikaanse Mediese Vereniging (JAMA) het bevind dat 11,4% volwassenes wat aan gehoorverlies ly, ook met depressie gediagnoseer word. Dit is aansienlik meer as die 5,9% mense sonder gehoorverlies wat daarmee gediagnoseer word,” het Gené Zwarts, oudioloog by die Oorinstituut in Lynnwood, Pretoria, gesê.

“Vir mense met gehoorverlies is gesprekke ’n daaglikse probleem. Dit kan tot sosiale weerhouding, eensaamheid en depressie ly. Die risiko dat die persoon angs kan ontwikkel, is ook groter.”

Tekens van gehoorverlies

  • Wanneer jy sukkel om hoëfrekwensieklanke, soos voëltjies, te hoor.
  • Wanneer jou eie spraak onduidelik is of wanneer dit klink asof almal met wie jy gesels, mompel.
  • Wanneer jy sukkel om spraak duidelik te hoor wanneer agtergrondgeluide teenwoordig is.
  • Wanneer jy ’n gesuis hoor.

Hoe voorkom ek gehoorverlies?

’n Jaarlikse ondersoek kan ’n bydrae lewer tot die identifisering en voorkoming van gehoorprobleme.

Wees bewus van uitermatige geraas en probeer om jouself teen blootstelling daaraan te beskerm.

Vir meer inligting oor die voorkoming van gehoorverlies, besoek die webwerf. Laai die gratis plakkaat oor gehoorverlies hier af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.