Jou grootse velsorgvrae beantwoord

Dr. Yashica Khalawan (Foto: Verskaf)

Maroela Media het by dr. Yashica Khalawan, ’n dokter wat spesialiseer in estetika, gaan aanklop om antwoorde te kry op van ons grootste velsorgvrae. Hier is wat sy gesê het:

Is dit nodig om jou gesig elke dag te was?

Ja, dit is nodig want gedurende die dag versamel daar allerhande onsuiwerhede op jou vel, van sweet tot lugbesoedeling, en dit kan jou vel kan irriteer. Soos die dag verloop vervaardig jou vel ook meer talg wat geblokte porieë en aknee kan veroorsaak.

Omdat ons almal verkillende tipes velle het, moet jy ʼn gesigseep kry wat by jou velsoort pas. As jou vel besonder sensitief is, kan jy dit selfs met net skoon water was, net om die ekstra vuiligheid elke oggend en aand af te spoel.

Moet mans ander produkte gebruik as vroue?

Nee, nie noodwendig nie. Dit gaan eintlik baie keer net oor die geur. Mans kan dieselfde velprodukte as vroue gebruik, behalwe as ʼn dokter die produk spesifiek vir ʼn man formuleer het.

(Foto: Amanda Dalbjorn/Unsplash)

Kan gesigroom wat jy in die winkel koop jou vel laat jonger lyk?

Absoluut. Ek dink ons gebruik nie winkelopsies goed genoeg nie. Van die basisbestanddele in produkte in plekke soos Dis-Chem en Clicks is partykeer selfs beter as dié van ʼn onafhanklike handelsmerk.

Baie van die bekende produkte is al lank op die mark en goed ondersoek en getoets. Daar is handelsmerke in winkels wat al jare se toetse agter hulle het, met dermatoloë wat agter hulle staan.

Ek glo sterk daaraan dat goedkoper nie noodwendig swakker gehalte beteken nie.

Kan jy merke op jou vel met olie behandel?

Merke op jou vel kan oor die algemeen nie met eksterne middels behandel word nie, behalwe as dit onmiddellik na die merk gemaak is, aangewend word. Maar ʼn merk wat reeds bestaan, hetsy ʼn akneemerk op jou gesig of rekmerke kan nie deur eksterne rome gehelp word nie.

Daar is baie min produkte wat sal werk om merke te laat weggaan, die beste wat jy kan doen is om jou vel deurlopend en genoegsaam te hidreer en tyd te gee om dan te genees.

Is dit regtig nodig om elke dag sonskerm aan te wend?

Beslis, die son kan jou vel beskadig, dit kan inflammasie in jou vel veroorsaak, en dit kan ook selfs in erge gevalle tot velkanker lei. Die Afrika-son is verskriklik skerp, so jy moet elke dag sonskerm dra, en jy moet eintlik elke twee uur weer ʼn sonskerm aanwend.

Mense vergeet dat hulle selfs as hulle binne gaan bly, steeds ʼn sonskerm moet aanwend. Daar is navorsing wat toon dat strale deur ʼn venster ook jou vel kan beskadig.

As dit moeilik is om gereeld deur die dag ʼn sonskerm aan te wen, gebruik ʼn spuitbottel wat die sonskerm op jou gesig spuit, sodat jy nie elke keer ʼn dik wit room aan jou gesig hoef te smeer nie. Maak net seker die sonskerm is altyd bo SBF30.

As jou gesigroom aandui dit het SBF in, moet jy steeds ʼn sonskerm bo-oor aanwend?

Ja, jy moet steeds ʼn sonskerm bo-oor jou gesigroom aanwend en deur die dag herhaal.

Is dit nodig om verskillende velprodukte vir die dag en nag te hê?

Daar is produkte wat langer tyd nodig het om te werk, so iets soos ʼn serum is beter om in die aand aan te wend. Dit is omdat daar meer tyd is vir die serum om jou vel binne te dring en om optimaal op jou vel te bly terwyl jy slaap.

Produkte met ʼn sonskerm in is natuurlik gemaak vir die oggend, maar daar is ook talle produkte wat jy saans én soggens kan gebruik.

Hoe belangrik is jou dieet in jou velsorgroetine?

Dit is uiters belangrik. Baie van die minerale en vitamiene help om ons selle optimaal te laat funksioneer, en as ons ʼn tekort het aan sekere vitamiene en minerale kan dit tot verskeie velprobleme lei.

Eet vars groente en vrugte en gesonde vette. Water is ook baie belangrik. As jy nie genoeg water drink nie gaan jy dehidrasie in jou vel sien wat droogheid en veroudering laat voorkom.

Jou vel is soos ʼn padkaart wat wys wat in jou liggaam gebeur. So as iets intern fout is, gaan jy dit ekstern op jou vel sien.

Wat is jou persoonlike beste velsorgwenk?

Hou dit eenvoudig, moenie jou velsorgroetine oordryf nie en hou by jou begroting.

Baie mense koop baie duur produkte wat nie volhoubaar is nie, en wat hulle nie deurlopend kan gebruik nie. Koop eerder iets wat in jou begroting pas, maar wat jy deurlopend kan gebruik.

Wees eerlik met jou self oor jou begroting, en kyk dan na produkte wat daarby pas, wat al lank op die mark is en wat navorsing het wat dit onderskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.